Die gawes en die vrugte van die Gees verheerlik Jesus Christus in ons midde

Die nege Gees gawes en die nege vrugte van die Gees is alles in een bak en kan nie geskei word nie. Vir elke vrug is daar ‘n gawe. Ons moet egter onthou dat almal in die gemeente mekaar moet dien met hierdie gawes van die Gees soos God dit wil. Hy is in beheer. Maar ons moet ons daarvoor beywer tot stigting van die gemeente om sodoende deur die ondersteuning van elke lid die groei van die hele liggaam te bevorder vir sy opbouing in liefde. Kyk weereens wat sê Paulus aangaande die geestelike gawes: “streef na die geestelike gawes” “probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente” “beywer julle om te profeteer” “moenie verhinder dat daar in tale gepraat word nie” “behaag jou naaste met die oog op wat goed is tot stigting”

Met die vrugte van die Gees is ons meer op ons eie handeling en ywer aangewese. Ons kies om God toe te laat met dit in ons lewens. Ons kies om vriendelik te wees en nie nors of bombasties te wees nie. Met die gawes van die Gees is ons meer van ons broeders en susters in die gemeente afhanklik. Hulle seën my met die gawes van God en ek seën hulle. Ons moet mekaar daarmee dien. Ons moet mekaar daarmee opbou. Onthou dat die gawes van die Gees altyd opbouend is en NOOIT afbrekend, fout vind of veroordelend is nie.

Die vrugte en die gawes openbaar die Here Jesus Christus aan die mensdom. As jy Jesus gesien het dan het jy die Vader gesien.

2 Petrus 1:5-9 bevestig inderdaad wat gebeur met dié kinders van die Here wat die gawes van die Gees en die vrugte van die Gees deel van hulleself maak. Vers 9 wys ook baie duidelik wat gebeur met dié kinders van die Here wat die gawes en die vrugte van die Gees nie hulle deel maak nie:

En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.

Die Gees van God verplaas altyd die aandag op Jesus. Die Gees van God verheerlik altyd die Seun. Hy verhoog die Seun. Hy neem alle aandag van Homself af en Hy skyn sy Goddelike lig van verheerliking op die Seun. Daarom is die Gees gawes altyd ‘n verheerliking en ‘n openbaarmaking van Jesus. Ons kennis van Jesus neem dus toe en ons is nie meer kortstondig nie. Ons vergeet ook nie wat Hy vir ons gedoen het nie.

Wanneer Jesus “IN” ons manifesteer dan ervaar ons die salwing van God in ons midde. Ons ervaar sy liefde en ons ervaar sy krag. Die gawes van die Gees en die vrugte van die Gees kom uit een bak. Dit is dieselfde Gees wat dit alles in ons werk. Hy werk liefde in ons en Hy werk geloof in ons, Hy werk lankmoedigheid in ons en Hy werk profesie in ons. Dit is die kosbare karaktertrekke van God en die kosbare verlossingskrag van God wat Hy aan sy kinders geskenk het. Dit is die lewende God wat “praat en doen”. Dit is ’n geskenk aan sy volgelinge. Hy gee weereens hier iets van Homself. Ons dien ‘n lewende God en hierdie “bak met 9 vrugte en 9 drankies” van Goddelike Gees werking is die verskil tussen Hom en dooie gode. Ek persoonlik noem dit sommer “Gees drankies” omdat die Gees van God soms met water gesimboliseer word.

Wanneer God op die gewone alledaagse manier met ons praat en met ons deel op allerhande maniere (Sag in ons gees met ons praat, ‘n mooi “SMS” deur iemand aan ons stuur, ‘n woord wat Hy in die Skrif vir ons lewend maak, ‘n telefoonoproep van bemoediging of bevestiging van ‘n vriendin, goeie raad deur ‘n familielid, ‘n skielike innerlike gerusstelling en versekering oor iets wat ons pla, ‘n stukkie uit ‘n boek, die interaksie wat ons met Hom ervaar tydens ons stiltetyd, ens.) is daar geen druk met betrekking tot die vrug van die Gees nie. Dit moet natuurlik altyd in ons wees en dit moet altyd ons passie en ywer wees om God toe te laat om in ons en deur ons te lewe. Dit is wanneer Hy in ons lewe dat die vrugte van die Gees die mooiste, rypste en aantreklikste is. Natuurlik moet ons ook hier wanneer ons met mense deel dit in die grootste liefde, respek en gesindheid doen.

Wanneer God egter deur die gawes met ons deel, is dit ‘n hoër dimensie as die gewone. Dit is heeltemal op ‘n ander vlak. Daar is nou ‘n universele besef dat God nou self in ons midde is en persoonlik aan die woord is of persoonlik in aksie is deur sy instrumente, die mense deur wie Hy werk. Die mens onderwerp homself eerbiedig aan die Heilige Gees leiding, met liefde, respek en in opregtheid. Hy laat toe dat die lewende God deur hom werk net soos wat hy toelaat dat die lewende God deur hom liefhê. Ons sien die resultaat daarvan voor ons oë gebeur en ons ervaar die salwing van die Gees in ons gees en ons weet “instinktief” dat dit waarlik Hy is wat gepraat het, of Hy wat in aksie was. Die “stempel van outentisiteit” word deur die Heilige Gees in elkeen se hart afgedruk. Dit staan buite alle twyfel en almal word gestig.

Vanselfsprekend is dit ‘n groot eer en ‘n groot voorreg om so deur God gebruik te word. En ek wil ook sê dat dit vir ons ook vanselfsprekend behoort te wees dat ons ten alle tye opreg en liefdevol moet optree wanneer ons so deur God gebruik word. Ons is ambassadeurs van God in ‘n ander “land”. Ons is nie van hierdie wêreld nie. Ons moet onberispelik wees in ons handel en wandel teenoor die familie van God en vreemde en ongeredde mense tot eer van sy Heilige Naam.

Wanneer gaan die gawes van die Gees ophou?

Ek noem weer dat 1 Korintiërs 13 die liefdes hoofstuk van die Bybel is direk met betrekking tot die Heilige Gees gawes. Die liefde is van toepassing met betrekking tot alle aspekte van ons lewens maar hierdie hoofstuk in die Bybel is primêr met betrekking tot die gawes van die Gees geskryf. Dit sê dat die Heilige Gees gawes niks beteken sonder die liefde nie volgens 1 Korintiërs 13:1-2

Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.

1 Korintiërs 13:13 noem dan ook 3 baie belangrike elemente in die gemeente en ook in elke individu se lewe:

En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

Ons lewe nou met hoop in ons harte dat God ons sal verlos en dat God al sy beloftes aan ons getrou sal hou. Ons lewe ook met geloof in ons harte wat ons hoop verander in ‘n kinderlike geloof dat God bestaan en ook in sy getrouheid en vermoë. Dit is baie belangrike elemente in ons Christen wandel maar nog groter as dit is die liefde. Ons moet nog meer as dit ons beywer om God en ons naaste lief te hê. Anders het die gawes leeg geword. Dit is dan net leë woorde sonder enige betekenis.

Dan, baie belangrik, sê vers 8-9 die volgende:

Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë – hulle sal tot niet gaan; of tale – hulle sal ophou; of kennis – dit sal tot niet gaan. Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is tot niet gaan.

Dit is dus eventueel net die liefde wat gaan oorbly. Hier sien ons dan ook baie duidelik wanneer die gawes van die Gees gaan ophou: Wanneer die volmaakte gekom het. Kennis sal ophou maar nou het ons nog kennis nodig. Profesieë sal ophou maar nou het ons nog profesieë nodig, tale sal ophou, maar nou het ons nog tale nodig.

Lees 1 Korintiërs 13:8-9 weer:

Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë – hulle sal tot niet gaan; of tale – hulle sal ophou; of kennis – dit sal tot niet gaan. Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is tot niet gaan.

Wanneer die volmaakte gekom het (wanneer Jesus weer kom aan die einde van tyd) dan sal die onvolmaakte ophou. Hoekom sal dit dan ophou? 1 Korintiërs 13:12 het die antwoord:

Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. Die profesie is die spieël wat in ‘n raaisel inkyk. Kennis is die spieël wat in die raaisel inkyk. Tale, wysheid, hoop, geloof is alles spieëls wat in ‘n raaisel inkyk. ‘n Woord van kennis of ‘n woord van wysheid is net ten dele; dit is nie die volmaakte nie, daarom is dit die spieël wat in ‘n raaisel inkyk. Maar dit alles sal ophou, behalwe die liefde, wanneer die volmaakte gekom het. Johannes het ‘n openbaring gehad oor hierdie “oomblik” in die toekoms wat my baie opgewonde maak volgens 1 Johannes 3:2

Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is

Op daardie dag sal ons Hom sien soos Hy werklik is én ons gaan aan Hom gelyk wees. Onthou Jesus is die eerste van baie broeders. Dit sal ‘n dag van “van aangesig tot aangesig” wees. Dan weet ons alles en het ons geen profesieë, tale, woord van kennis en woord van wysheid meer nodig nie. Dan gaan ons ook geen genesing of wonderwerke en kragte meer nodig hê nie, want daar sal geen siektes meer wees nie. Daar sal geen ongewenste toestande en situasies meer wees nie. Prys die Here! Wat ons wel baie intens sal ervaar daardie dag as ons Hom in al sy glorie en heerlikheid aanskou, is ‘n vurige liefde wat ons harte soos nooit tevore aan die brand gaan steek. Daar sal nog baie ander emosies wees en die res van die vrugte van die Gees sal nie ontbreek nie maar ons sal die meeste bewus wees van hierdie vurige liefde wat Hy vir ons het en ons vir Hom het! Ja, die gawes van die Gees sal dan ophou want dit is God se metode om sy verlossingswerk prakties tot uitvoer te bring. Maar die vrug van die Gees is inherent wie God is. Dit sal nooit ophou nie. Ek dink dat al die ander vrugte van die Gees in elk geval in die liefde tot volmaaktheid sal kom, die dat die Skrif sê net die liefde sal oorbly.

Wisselwerking:

  1. Kan jy insien dat die gawes van die Gees net so relevant vandag is soos wat dit in die Nuwe-Testamentiese kerk was? Hoekom voel jy so?

  2. Tot die volmaakte gekom het, sal ons altyd te kort skiet wat kennis en wysheid betref.

  3. Hoe pas ons die woord prakties toe in ons lewens? Ons doen tog nie almal dieselfde goed nie. Is dit nie hier waar ons die gawes van die Gees nodig het om ons daarmee by te staan nie?

  4. Die ambassadeur van God moet altyd onberispelik wees in sy optrede. Hoekom moet dit so wees?

  5. Kan jou optrede die koninkryk van God skade doen?

  6. Is dit vir jou nie ook ‘n wonderlike openbaring dat die vrugte van die Gees en die gawes van die Gees Jesus duideliker aan ons openbaar nie?

  7. Dit klop met die skrif wat sê dat die Heilige Gees altyd die Seun verheerlik in ons midde. Hoe sien jy dit?

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente”, op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad 

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment