‘n Simfonie van Gees werking

Vandag wil ek nog ’n bietjie gesels oor die Heilige Gees gawes in die huiskerk. Met die funksionering van die Heilige Gees gawes in die huiskerk gemeente, wanneer hulle saamkom, is God in beheer. Die gemeente het egter steeds die verantwoordelikheid om ordelik te wees wanneer hulle mekaar deur die Gees gawes bedien. God is ‘n God van orde en Hy is ‘n ware Heer (Gentleman). Hy neem nie besit van mense soos die duiwel dit doen nie. Hulle is by hulle volle positiewe en hul gees is steeds aan hulle onderworpe. God lei ons om iets te doen en ons doen dit wanneer die geleentheid aanbreek. Soos ‘n goed geoefende en goed geoefende simfonieorkes speel ons almal dan “in tyd” die musiek van die “openbaring van die ewige God” en Hy is die dirigent. Die gawes van die Gees funksioneer in ‘n Goddelike “atmosfeer” van “eenwording” en dit is altyd ‘n wonderlike Gees ervaring. Dit is dan wanneer Jesus soos ‘n legkaart voor ons oë aanmekaargesit word en ons die geheel beeld, Christus Jesus die Koning van konings, in ons midde “sien”. Wanneer die Gees gawes in ‘n gemeente ontwikkel het sien ons ’n asemrowende groot Jesus in al sy glorie en heerlikheid daar in ons midde. Hy word deur Gees werking sigbaar gemaak. Die mens kan nooit in sy eie krag Jesus Christus openbaar of teenwoordig maak nie. Net die Heilige Gees kan dit doen. Prediking in huiskerke dien juis vir hierdie rede ‘n heeltemal ander doel. Dit is daarom ook nie vir die hoof byeenkoms bedoel nie. Prediking kan nooit deur ‘n vyfvoudige bedienaar aangewend word om Jesus Christus te openbaar nie. Daarvoor is Heilige Gees gawes nodig. Prediking kan aangewend word om te leer en te weerlê en is daarom spesifiek vir hierdie doel gegee.

Die Heilige Gees gawes is ver bo prediking verhewe. Dit is ‘n Goddelike aksie wat in die hart van God gebore is. Jesus Christus draai ast’ware, deur middel van Heilige Gees werking, in die byeenkoms van die heiliges in die rondte en Hy maak bemoeienis met almal deur almal. Hierdie is openbarings handelings van Jesus deur Jesus. Hy is die Bruidegom en Hy is aktief besig om Homself aan elke gemeentelid op ‘n unieke manier te openbaar. Dit is ‘n Hý praat, Hý openbaar, Hý vertel, Hý kommunikeer, Hý maak bekend, Hý deel, Hý bemoedig, Hý leer, ervaring. Hý open of ontbloot sý hart, Hý openbaar sý geheimenisse, sý begeertes en sý wese. Hý is absoluut in beheer en Hy doen dit deur die Heilige Gees. Die mens is nie in beheer nie en die mens is nie “aktief” nie, ten minste nie op menslike vlak nie. Elkeen is “aktief” deur ‘n instrument in die hande van die Gees van God te wees.

En vir ons wat daar teenwoordig is klink alles soos die mooiste simfonie. Dit is oor die hele spektrum van ”Gees klank” en “Gees kleur” asemrowend mooi. Die intellek is nie betrokke nie. Dit is ‘n ván Gees ná gees ervaring. En belangrikste van alles, almal is betrokke want dit is hoe God werk. Hy werk deur almal. Daar is geen spesiale mens in die vergadering nie, net ‘n spesiale God wat gewone mense spesiaal maak. Hy is alles in almal. Hy is nie ‘n aannemer van die persoon nie. Ons is almal presies dieselfde in sy oë en Hy het ons almal ewe lief. Net so lief soos wat Hy vir Jesus het en Jesus die Vader het.

Die Heilige Gees doen hier waarvoor Hy gestuur is; Hy verheerlik die Seun. Net soos Jesus dit in Maria, Martha en Lasarus se huis gedoen het doen Hy dit hier deur die Heilige Gees en dit is hoekom die Heilige Gees so prominent in ons byeenkomste behoort te wees. Met prominent bedoel ek daar moet ‘n eerbiedige sensitiwiteit en oorgawe vir Hom en vir sy leiding wees. En daarmee bedoel ek nie dat ons “op eiers hoef te loop nie”. Selfs as die Heilige Gees deur iemand ‘n lering of ‘n woord bring is dit ‘n Gees openbaring. Ek het al ure na preke geluister en was goed geskool in verstand kennis van Jesus maar ek het ook al na ‘n 5 minute Gees geleide lering geluister. Ek verruil dit nie vir die mooiste preek deur die begaafste prediker in die wêreld nie. Daardie 5 minute lering was gestempel met die amptelike “stempel van waarmerking” van outentisiteit: “Die salwing van die Heilige Gees”. Daardie gesalfde, 5 minute boodskap is reguit hart toe (Van Gees tot gees) Die intellek het hier glad nie ‘n rol gespeel nie. Inteendeel die intellek moes maar net in lyn kom met die waarheid in die menslike gees wat daar geplant is toe die woorde gespreek is. Dit werk nie andersom nie. Intellektuele waarhede doen niks vir die gees nie behalwe wanneer dit deur die Heilige Gees ‘n Rhema woord in die gees van die mens gemaak word.

Wisselwerking:

Hoe verstaan jy die “ván Gees ná gees kommunikasielyn” van God met sy bruid?

Hoe vergelyk dit met die intellektuele kommunikasie van die institusionele kerk?

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis blad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment