Bestaan die Heilige Gees gawes vandag nog?

Jy het seker ook al die leuens oor die geestelike gawes gehoor: “Die Heilige Gees gawes is nie meer vir vandag nie. Dit was net vir die Apostels. God het die woord klaar geskryf en Hy praat nie verder met ons nie behalwe deur sy woord. Wat Hy vir ons wou sê het Hy klaar in sy woord gesê. Daarom is daar nie meer tale, uitleg van tale of profesie nie. Net sekere gawes het oorgebly; die meeste bestaan nie meer nie. God maak ook nie meer gesond nie. Dit was net deur Jesus en die Apostels in die Nuwe Testament gedoen om die evangelie te vestig. Daarna was genesing nie meer nodig nie (mense kan maar siek bly?!) Dit was net ‘n teken van God om te bevestig dat Jesus en die Apostels deur Hom gestuur was. Die Bybel is geskryf en die mense het geglo; daarom is die dae van wonderwerke verby. Die doping in die Gees is ook verby, dit was net vir Jesus en die Apostels omdat dit nodig was vir die geestelike gawes. Omdat daar nie meer geestelike gawes is nie, is die doping in die Heilige Gees nie meer nodig nie.”

Ons het almal al een of ander tyd minstens van hierdie leuens gehoor indien nie almal nie. Waar kom dit vandaan en hoekom glo die kinders van die Here hierdie leuens?

Dit is in die hel gebore en die doel daarmee was nog altyd om die outentisiteit van Jesus Christus te bevraagteken en ook om die lewende God van die Christendom stil te maak. As Hy nie kan “praat” nie dan bly net die geskrewe woord oor; en die geskrewe woord kan baie maklik verdraai word want die christene ken nie die woord nie; hulle glo baie maklik wat aan hulle vertel word. En as Hy nie kan “praat” of “doen” nie, dan is Hy net soos ‘n dooie afgod wat ook niks kan doen nie. Die duiwel het met hierdie leuens daarin geslaag om die geestelike gawes in baie kinders van die Here se lewens toe te wikkel in ‘n “waas” van wantroue en agterdog. Dit is verstommend hoeveel kinders van God nie die geestelike gawes vertrou nie en hoeveel van hulle bang is daarvoor.

God het geweet dat daar ‘n baie groot aanslag op die outentisiteit van die geestelike gawes sou wees. Daarom het Hy Paulus gelei om ‘n paar hoofstukke daaroor te skryf om die vrae daaromtrent te beantwoord. Paulus moes daarmee duidelikheid gee rakende die geestelike gawes en aan God se kinders bevestig dat die geestelike gawes eerstens van Hom af kom, tweedens hoekom Hy dit geskenk het en derdens hoekom dit nooit sal ophou tot Hy weer kom nie. Die Skrif bevestig al drie hierdie stellings duidelik en sonder twyfel. Die rede dan hoekom die kinders van die Here die leuens glo is omdat hulle nie die skrif ken nie en ook nie die krag van God ken nie.

Mattheus 22:29:

Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.

Die gawes van die Gees funksioneer steeds presies soos wat dit in die Nuwe Testament gefunksioneer het. God het dit nog nooit opgehef nie. Die Skrif verklaar baie duidelik dat die gawes nie sal ophou totdat die volmaakte gekom het nie. Wanneer Jesus Christus weer kom, dan het die volmaakte gekom en eers dan sal die gawes ophou.

Wisselwerking:

Hoekom word die gawes van die Gees somtyds deur mense aan demoniese aktiwiteite gekoppel?

Hoekom was Jesus self daarvan beskuldig dat Hy deur Beëlsebul die duiwels uitdryf?

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment