Jesus was deur die Heilige Gees toegerus

Hy sê self dat Hy deur die Gees van God duiwels uitgedryf het

Ek sien met my geestesoog hoe duisende huis gemeentes oral in Suid-Afrika gebore word. As jy wil weet waarmee God nou besig is; hier is die antwoord: Hy wil sterk huis gemeentes bou. Hy wil sy kinders leer om in die Gees te funksioneer. Hy wil alle siel aktiwiteite in sy kerk vervang met Gees aktiwiteite.

Dit is God se wil vir Suid-Afrika en vir die res van die wêreld. Hy doen dit deur die Heilige Gees. In huiskerke is die Heilige Gees gawes prominent omdat dit die Goddelike metode van “saamkom” is volgens 1 Korintiërs 14: 26-32:

HOE staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ’n psalm of ’n lering of ’n taal of ’n openbaring of ’n uitlegging — laat alles tot stigting geskied.

En as iemand in ’n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê.

Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek.

Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.

Maar as daar iets geopenbaar is aan ’n ander wat daar sit, laat die eerste swyg.

Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word.

En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe;

want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.

Soos ons weet was mense nog altyd baie skepties wanneer dit by die Gees gawes kom. Daar was reeds in die Nuwe-Testamentiese kerk probleme met die aanvaarding van die gawes van die Gees. Die godsdienstige leiers van die tyd kon nie vrede maak daarmee nie. Inteendeel, Jesus Christus Homself was gekritiseer en gekonfronteer oor die gawes van die Gees.

Wat het Jesus Christus met die gawes van die Gees te doen? Alles! Ons weet dat Hy sy Goddelike kwaliteite en eienskappe in die Hemel agtergelaat het toe Hy as mens gebore is.

Lees Filippense 2:6-7

Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word.

Hier sien ons baie duidelik dat Hy dit wat van Hom God maak agtergelaat het (Homself ontledig) en gelyk aan ‘n mens geword het. Dit staaf die stelling dat Jesus net ‘n mens was toe Hy die aarde bewandel het. (Die Woord het vlees geword – 100% mens)

In die nuwe vertaling is dit nog duideliker volgens Filippense 2:6-7 (Afr83)

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op God gelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

Jesus het uit liefde vir ons dit nie roof geag om sy Goddelikheid terwille van ons prys te gee nie. Hy het nie naarstiglik aan sy Godheid vasgeklou nie. Nee, Hy het dit terwille van ons uit vrye wil neergelê in gehoorsaamheid aan God die Vader.

Ons lees dan ook in die Skrif dat Jesus geen wonderwerke in sy lewe op aarde gedoen het nie. Ten minste nie tot Hy deur Johannes die doper in die Jordaanrivier gedoop is en deur God die Vader in die Gees gedoop is nie. Hy moes beide hierdie dope deelagtig geword het voordat Hy wonderwerke kon doen. Die doping in die Heilige Gees is die toedeling van die krag van God wat nodig is om vir Hom te getuig en die geestelike gawes te laat funksioneer. Die Bybel verwys daarna as “krag uit die hoogte” of “salwing”. Net soos ons moes Jesus ook die Heilige Gees ontvang sodat Hy die wil van God kon uitvoer. Omdat Hy sy Goddelik eienskappe in die hemel agter gelos het het Hy nie krag gehad om die werk van God te doen nie. Hy moes dus in die Heilige Gees gedoop word net soos ons.

Jesus het na sy doping vir 40 dae in die woestyn gaan vas. Toe Hy uiteindelik terugkeer was die verandering van water in wyn die eerste wonderwerk wat Jesus gedoen het. Interessant, hier is die water ‘n tipe van die bekerings doop en die wyn ‘n tipe van die Heilige Gees doop. Wyn is ook ‘n tipe van die Heilige Gees in die sin dat volle oorgawe aan die Heilige Gees dieselfde geestelike effek het as wat wyn op die natuurlike het. Jesus het iets baie belangrik kom vestig: Die wedergeboorte van ‘n nuwe spesie uit water en uit Gees.

Ons kan in dieselfde salwing as Jesus Christus funksioneer. Hy stuur ons soos die Vader Hom gestuur het. Ons het egter dieselfde doop as wat Jesus gehad het absoluut nodig voor ons in dieselfde salwing as Jesus kan funksioneer. Ons kan niks doen sonder die Heilige Gees nie en daarom word dit die gawes van die Gees genoem. Want dit is Hy wat die werk doen.

Lees Mattheus 3:16-17

En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.

Hier sien ons dat Jesus beide dope op een dag deelagtig geword het. Eers die doping in water en net daarna die doping in die Heilige Gees. Dit gebeur ook vandag nog met baie mense. Ek weet byvoorbeeld van mense wat dit gelyk deelagtig geword het. Hulle het soos hulle uit die water opkom onmiddellik in tale gepraat. Dit gebeur egter baie dat mense die Heilige Gees doping eers later deelagtig word.

Dit is as gevolg van hierdie doping in die Heilige Gees dat Jesus wonderwerke kon doen.

Lees Lukas 4:18-19 waar Jesus dit bevestig:

Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenis vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

God kan niemand stuur om hierdie dinge te doen as Hy hom nie eers gesalf het en met krag uit die hoogte toebedeel het nie.

Jesus was 100% mens en daar was net een manier hoe Hy in staat was om hierdie wonderwerke te doen: Deur die gawes van die Gees. Onthou Hy het al sy Goddelike karaktereienskappe en Goddelike vermoë in die hemel agter gelos en vlees geword. Hy het gelyk aan die mens geword. In hom was niks wat tot wonderwerke in staat was nie, en in elke mens wat ooit hierdie aarde bewandel het, of gaan bewandel, is niks wat tot wonderwerke in staat is nie. Sonder die Gees van God kan ons niks doen nie. Jesus het dan ook self erken dat Hy die wonderwerke deur die Gees van God gedoen het.

Kom ons kyk hoe het Jesus gereageer toe Hy oor die gawes van die Gees aangevat is:

Lees Lukas 11:15, 17, 18, 20:

Maar sommige van hulle sê: Deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dryf Hy die duiwels uit. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en ‘n huis wat teen homself is, val. En as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? Want julle sê dat ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf. Maar as ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die die koninkryk van God waarlik by julle gekom.

In dieselfde voorval in Mattheus 12:28 sê Jesus:

Maar as ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.

Hier sien ons dan ook hoekom daar vandag so ‘n hewige aanval op alle kinders van God is wat kragtig in die Gees opereer. Dit het al met Jesus gebeur! En ons sien ook vandag dat sulke manifestasies aan demoniese aktiwiteite gekoppel word net soos die fariseërs dit ook met Jesus gedoen het. Hoekom? Want hulle kon nie die werklikheid ontken nie. Daar voor hulle oë kon almal sien hoe siekes genees word en hoe duiwels uitgedryf word. Hulle kon dit nie ontken nie. Die aangewese alternatief is om daardie aksies en manifestasies aan duiwels toe te skryf. Hoe kan jy anders die argument wen? As jy erken dat dit deur die Gees van God is dan moet jy ook erken dat Jesus die Seun van God is. En dit is presies wat die fariseërs nie wou doen nie. Hulle wóú Jesus verwerp.

Jesus sê ook in hierdie verband twee baie belangrike dinge: Hy sê in vers 30 van dieselfde skrif die volgende: Hy wat nie met my is nie is teen my; en hy wat nie saam met my versamel nie, verstrooi. Almal wat dus teen die Heilige Gees gawes is, is teen Jesus en hy verstrooi. Die aanval op die Heilige Gees gawes (vers 31) word as sonde teen die Gees van God beskou. Hoe dan anders want so ‘n mens noem die Gees van God “Satan” en “duiwel” en sy werkinge “demonies” en ek vermoed dit is hoekom dit so ‘n mens nie vergewe word nie.

Jesus sê egter dat omdat Hy dit deur die Gees van God doen, het die koninkryk van God by julle gekom. As ons dan bymekaarkom en elkeen word deur die Gees van God gelei in die Heilige Gees gawes, dan is dit die openbaring en realisering van God se koninkryk daar in ons midde! Sy koninkryk word op aarde gevestig deur sy Gees! Vader is in die Hemel en Jesus is in die hemel. Voor Jesus egter opgevaar het hemel toe het Hy gesê dat Hy ons nie wees agterlaat nie maar dat Hy vir ons die Heilige Gees stuur. Op aarde is dit nou die Heilige Gees bediening wat aan die werk is. Wat doen Hy? Hy vestig die koninkryk van God op aarde. Die koninkryk van God het by julle gekom. Daarom kan die woorde “koninkryk van God” en “die gawes van die Gees” nooit geskei word nie. Die koninkryk van God word deur die Heilige Gees gevestig.

Dit is waarvoor Jesus gekom het, om die koninkryk van God te vestig. En dit is presies dit waarmee Hy Hom heeldag besig gehou het toe Hy die aarde bewandel het en vandag steeds mee besig hou deur Sy volgelinge. Hy doen dit deur die Heilige Gees en deur sy “volwasse” kinders. Ja, ons moet geestelik opgroei tot volwassenes in Christus voor Hy ons doeltreffend kan gebruik.

Elke geredde mens is nog ‘n bousteen in die koninkryk van God. Elke mens wat genees word en verlos word van die vloek van die sondeval is nog ‘n koning en priester in die koninkryk van God. Elke mens wat in die geloof opgroei tot die volle gestalte van Christus Jesus is ‘n oorwinnaar en nog ‘n koning en priester in die koninkryk van God volgens 2 Tim. 4:18:

En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Hierdie is Jesus se volgelinge wat die wêreld oorwin het, deur die verlossingsdaad van Christus, soos duidelik in 1 Pet. 2: 9 beklemtoon word:

Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.

Lees Lukas 7:20-23

En toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes die doper het ons na U gestuur en gesê: Is U die een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag? En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel vir Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan my nie aanstoot neem nie.

Waarvoor het Jesus dan gekom? Jesus se verklaring aan die mens is die volgende:

“Ek doen wonderwerke deur die Gees van God. Sonder sy Gees kan Ek niks doen nie. Dit is die Gees van God wat My in staat gestel het om, as 100% mens, die wonderwerke uit te voer waarvoor die Vader My gestuur het. Dit is hoekom ek gekom het. Daarom kan jy mens, ook die wonderwerke wat Ek uitgevoer het, uitvoer. Die Heilige Gees maak jou bekwaam. Inteendeel, soos die Vader My gestuur het stuur Ek jou ook. Ek is die doper in die Gees en Ek sal julle toerus om dit uit te voer waarvoor Ek julle uitstuur”

Dit is juis die feit dat Jesus as 100% mens die wonderwerke kon doen wat ons as mense die vrymoedigheid gee om dieselfde te doen:

Lees Joh. 14:12-13

Voorwaar, voorwaar ek sê vir julle, wie in my glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en Hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.

Ja, maar na watse werke verwys Jesus nou eintlik hier vra sommige mense? Is dit nie maar net die verkondiging van die evangelie nie. Die redding van ‘n siel is tog die grootste wonderwerk wat daar is.

Ja, dit ook, maar lees wat sê Jesus in Markus 16:17-18

En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in My Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.

Jesus sê ook Mattheus 10:7-8 die volgende:

En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.

Maar Jesus het ‘n baie belangrike ding vir die dissipels gesê voor hulle moes uitgaan om die evangelie te verkondig. Hy het gesê wag eers in Jerusalem totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.

Lees Lukas 24:46-49

En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van My Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.

In Handelinge 1: 8 lees ons ook dat Jesus vir hulle die volgende gesê het:

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.

Wisselwerking:

  1. Jesus moes die pad van die lewe as ‘n gewone mens stap om te kwalifiseer vir die reg om die mens se sonde namens hulle te dra. Hy moes ook vlekloos en sonder sonde wees om te kwalifiseer. Hy kon nie as ‘n God daarvoor kwalifiseer nie maar as mens. Hoe voel jy oor hierdie stellings?
  2. Wat bedoel Jesus met die woorde “maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom”? Kan dit wees dat Hy daarmee bedoel dat Hy nie hier is in sy eie krag nie omdat Hy deur die Vader gestuur is en omdat Hy as mens moes kom?
  3. God soek altyd die volmaakte; geen sonde, geen siekte, geen boosheid, geen ellende, geen swaarkry, geen trane. Hoe sien jy hierdie stelling?
  4. Uit bogenoemde gedeelte kry ‘n mens die idee dat Jesus van die mens verwag om presies dit te doen wat Hy gedoen het. Stem jy saam en hoekom?

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment