Wat die gawes van die Heilige Gees betref, beywer jou!

Ek praat hierdie week weer oor die gawes van die Gees in huiskerk gemeente byeenkomste. Wanneer die gawes van die Heilige Gees manifesteer of funksioneer, dan groei die gemeente van heerlikheid tot heerlikheid tot eer van God. Die woord “manifesteer” was aanvanklik vir my ‘n vreemde woord wanneer ons dit met die gawes van die Gees assosieer. Net tot ek opgemerk het dat die Bybel self na die gawes van die Gees verwys as ‘n manifestasie van die almagtige God in ons midde deur middel van die Heilige Gees.

1 Korinthiërs 12:7 (KJV)

But the manifestation of the Spirit is given to every man to profit withal

Die woord “manifestasie” van die Gees van God in hierdie teksgedeelte word hier in direkte verband gebring met die Gees gawes. Wanneer die gawes van die Gees funksioneer dan gebeur dit omdat die Heilige Gees in ons midde manifesteer. Daar is nog ander skrifgedeeltes wat hierdie konsep bevestig.

Wanneer die Heilige Gees in ons midde manifesteer dan word elkeen opgebou in hul geloof en geestelike wandel. Kinders van God wat hieraan blootgestel is groei geestelik fenomenaal vinnig. Vinnig omdat hulle Gees vervulde ontmoetings met Jesus Christus het deur middel van Gees werking. Daar is die persoonlike konfrontasie met Jesus of die persoonlike bevrugting met die Jesus saad wat plaasvind en wat fenomenale gevolge het. Hier is geen sprake van die beperkte “kniehalter” belewenis van die institusionele kerk nie.

Die geestelike gawes word beoefen en in die proses ontwikkel die geestelike gawes tot heerlike en nuwe Goddelike hoogtes. Die institusionele kerk het nie die vaagste idee van hoe en wat geestelike gawes werklik is nie. Dit is nooit in in die geskiedenis van die institusionele kerk die kans gegun om werklik te ontwikkel nie omdat die struktuur dit nie toegelaat het nie. Die kerk soos ek en jy haar ken het nooit die aanwakkering en ontwikkeling van die geestelike gawes werklik belangrik geag nie. Dit was nooit ‘n prioriteit nie omdat die gawes van die Gees met ‘n menslike “diens” vervang is naamlik die bekende liturgiese handelinge van die formele godsdiens.

Dit terwyl Paulus in 2 Tim 1:6 die volgende sê:

Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

Wat Timotheus se genadegawe ook al was, Paulus het hom die hande opgelê en hy sê dit weer in sy brief aan hom om dit weer aan te wakker en te gebruik sodat hy ‘n instrument in God se hande kon wees. Die genade gawe van die vyfvoudige bedienaar is in werklikheid die fondament of fondasie van die Gees gawes. Net so moet ek en jy dit ook doen. En net soos Timotheus hoef ek en jy nie te vrees vir die genade gawes nie. Ja, dit is ‘n bietjie uitdagend om uit te beweeg in gehoorsaamheid veral met die genadegawe van genesing byvoorbeeld, maar Paulus se woorde staan vas: God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie maar van krag en liefde en selfbeheersing. Ons kan in gehoorsaamheid God se wil doen. As ons dit in geloof uitvoer sal Hy daar wees om dit tot uitvoer te bring. Niks kan die genade gawes keer nie. Dit is God se geskenk aan ons en Hy gee dit aan ons sonder enige verwyt en sonder verdienste. Hy gee dit ook aan elkeen sonder uitsondering. Daarom is 1 Korintiërs 14:26 so pertinent dat elkeen van julle ‘n gawe het om die ander mee te dien wanneer julle bymekaarkom.

Paulus sê ook in 1 Korintiërs 14:1 die volgende:

…beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer.

Hy sê ook in vers 12 die volgende:

So moet julle ook, terwyl julle streef na die geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente.

Hy sê ook in vers 39 die volgende:

Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie.

Hy sê ook in Romeine 15:2 die volgende:

Want elkeen van ons moet die naaste behaag met die oog op wat goed is tot stigting.

Die skrif is baie duidelik oor die doel, die waarde en die erns van die geestelike gawes. Dit kan ook nie anders nie. Dit is een van die twee pilare waarop gemeentelewe staan.

Kinders van God in die institusionele kerk het deur die jare baie agterdogtig teenoor die Gees gawes geword. ‘n Groot aandeel hiervoor was die amptelike beleid van die institusionele kerk met betrekking tot die Heilige Gees gawes. Dan was daar ook die blapse van oorywerige kinders van God wat nog nie gereed was om in die gawes te funksioneer nie. Hulle het dit gewoonlik meganies ryp gedruk en in die proses skade aangerig. Ek dink egter dat God baie teleurgestel moes gewees het toe mense besluit het om liefs die gawes van die Gees te vermy eerder as om deur ‘n liefdevolle God gelei te word om die gawes van die Gees gesond te ontwikkel in ons byeenkomste. Vrees was waarskynlik die groot oorsaak wat tot hierdie besluit aanleiding gegee het. God het geweet dat dit sou gebeur en daarom het Hy ons in 2 Timotheus 1:6 versoek om nie ‘n gees van vreesagtigheid te hê met betrekking tot die genade gawes nie.

Wisselwerking:

Hoe dink jy beywer ‘n mens homself in die geestelike gawes?

Watter stappe moet geneem word of watse gesindheid moet ons openbaar ten opsigte van die genade gawes?

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis blad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment