Waarvoor is die “4” tale van 1 Korintiërs 12?

Kinders van God het deur die jare bang of skepties geword vir die gebruik van tale tydens gemeente byeenkomste. Hierdie vrees is egter die gevolg van onkunde. Die voortdurende aanslag op die outentisiteit van die Heilige Gees gawes het soveel wantroue veroorsaak dat kinders van God maar liefs die gawes van die Gees vermy. Selfs mense wat in die Heilige Gees gedoop is het begin om tale te vermy. Dit is so jammer want die spreek van tale is van onskatbare waarde. So baie mense is deur die jare ‘n rat voor die oë gedraai deur mense wat dit ‘n passievolle missie gemaak het om kinders van die Here teen “vals” praktyke in die kerk te waarsku.

Die gebruik van tale het ‘n baie groot invloed op ons met betrekking tot ons geestelike groei. Dit bring fenomenale verandering in ons lewenswandel en daaglikse interaksie met God en met mense. Die doel van hierdie skrywe is om die doel en funksie van tale kortliks te bespreek. Die waarheid maak ons vry. As mense die doel en die funksionering van tale beter verstaan kan hulle ‘n baie beter en baie meer ingeligte besluit met betrekking tot die gebruik daarvan maak.

Christelike gelowiges en Christelike gemeentes het hoofsaaklik vier verskillende tale tot hulle beskikking wat verskillende funksies het:

Tale met betrekking tot evangelisasie

Die een taal funksioneer hoofsaaklik tydens evangelisasie uitreikings waar die stam of volk waar die uitreiking gehou word se taal onbekend aan die evangelis is. Die Heilige Gees kan in so ‘n geval die evangelis of die spreker in die vreemde taal laat praat. Hierdie taal is dus heeltemal onbekend aan die evangelis en dit is absoluut ‘n Gees werking – ‘n wonderwerk. Die toehoorders hoor egter die evangelie in hulle eie taal.

Handelinge 2:7-8

En hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?

Hier sien ons dat hierdie taal ‘n bekende mense taal is en dat daar geen uitleg nodig is nie. Dit is net nie bekend aan die persoon wat dit praat nie. Die doel met hierdie taal is om die evangelie aan mense te verkondig deur die taal probleem te oorbrug maar ook om te bevestig dat die evangelie van God af kom en dat Hy lewe.

Die kind van God se gebedstaal

Alle gelowiges wat in die Heilige Gees gedoop is kan in ‘n taal bid. Hierdie taal is onbekend aan almal en daar is ook geen uitleg nie. Niemand behalwe God verstaan hierdie taal nie. Nie eens die bose geeste of die duiwel verstaan dit nie.

1 Korintiërs 14:2

Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.

Net God verstaan hierdie taal want dit is ‘n gebed aan Hom gerig. Dit is vir geen ander ore bedoel nie.

Hierdie taal is bedoel vir die betrokke mens se eie stigting en hernude vervulling van die Heilige Gees en hoort eintlik by die individu in sy binnekamer of wanneer hy alleen is. Dit is nie bedoel tot stigting van die gemeente nie. Dit is ‘n kragtige Goddelike gebed en van onskatbare groot waarde vir die individu se persoonlike Christen lewe. Dit is ‘n aanvulling vir die doping in die Heilige Gees en gee die individu krag uit die hoogte. Hoe meer jy in tale bid hoe meer krag en stigting is daar vir jou. Die Christendom het nog nie behoorlik die openbaring ontvang van die onskatbare waarde wat hierdie gebedstaal in ons lewens het nie anders sou kinders van die here baie meer in tale gepraat het. Hoor wat sê Paulus in 1 Korintiërs 14:18:

Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal.

Tale spraak is vir Paulus so belangrik dat dit iets is waaroor hy voel Hy sy God wil bedank. Dit beklemtoon die belangrikheid daarvan.

Tale as Goddelike inspraak in die gemeente

Die volgende Heilige Gees taal gawe is die kragtige Goddelike boodskap wat God tot mense spreek deur iemand. Dit funksioneer hoofsaaklik tydens die samekoms en is bedoel tot stigting van die gemeente. Hierdie taal word gevolg met ‘n uitleg deur ‘n ander persoon. As niemand die uitleg gee nie dan moet die persoon deur wie dit gemanifesteer het net daar bid vir die uitleg sodat hy dan self die uitleg kan gee. Hierdie is iets wat God aan spesifieke mense of ‘n spesifieke persoon bekend wil maak. Dit kan enigiets wees, ‘n openbaring, lering, vermaning, bemoediging, roeping, bevestiging, ens. Dit kan aan ‘n spesifieke persoon ‘n bevestiging wees van wat hy reeds by God op ‘n ander manier gehoor het maar dit kan ook iets wees wat heeltemal nuut is vir hom.

1 Korintiërs 14:27

En as iemand in ‘n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat dit uitlê.

1 Korintiërs 14:13

Daarom moet hy wat in ‘n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.

Die gemeentes in Korinte het nie ordelik gebly met betrekking tot veral die tale gawes nie. Van hulle het sommer gelyk in tale gepraat. Van hulle het hierdie taal vir die gemeente gebring maar daar is nie gewag vir die uitleg daarvan nie. Dit het veroorsaak dat Goddelike woord so verlore gaan. Party het sommer die individuele gebedstaal daar in die gemeente gebid wat natuurlik geen doel dien daar nie. Paulus moes hulle tot orde roep en van daar het ons 1 Korintiërs 12, 13 en 14 gekry. Paulus noem dit egter baie duidelik dat tale spraak nie verhinder moet word nie. Dit is baie belangrik.

1 Korintiërs 14:39

Daarom broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie.

Tale as ‘n Heilige Gees geïnspireerde aanbidding

Die laaste taal wat ek wil noem is die Heilige Gees aanbiddingstaal. Dit funksioneer in die gemeente wanneer hulle God deur musiek of sang aanbid maar dit kan ook funksioneer as jy God op jou eie deur sang en musiek aanbid. Dit is die hoogste vorm van Goddelike aanbidding en moet nooit verhinder word nie. Ons lees daarvan in 1 Korintiërs 14:15:

Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.

Hierdie manier van aanbidding is ‘n Gees aanbidding wat baie hoër as gewone aanbidding is omdat dit ‘n Gees gawe is. Gees gawes is altyd hoër as die gewone menslike eweknie van die aksie wat uitgevoer word. Baie keer verwar mense hierdie aanbiddingstaal met die persoonlike gebedstaal. Mense dink byvoorbeeld dat iemand besig is om sy gebedstaal in die gemeente te beoefen en is baie keer ongelukkig daaroor. In werklikheid was die persoon besig om God in tale te aanbid. Ons moet leer om nie onverdraagsaam te wees teenoor mekaar nie.

Wisselwerking:

Dink jy dat dit steeds vir God “nodig” is om met sy kinders te praat? Kan jy dan insien dat tale en ook profesiee vandag steeds nodig is?

Weet jy van enige verhouding tussen twee persone waar een van hulle glad nie meer met die ander een praat nie? (Totale eenrigtingkommunikasie)

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment