Lofprysing en aanbidding in huiskerke

WAT DOEN ONS OM DIE YS TE BREEK?

Lofprysing en aanbidding is natuurlik baie belangrik om die regte atmosfeer te skep tydens huiskerk byeenkomste. Die Heilige Gees werk in ons harte wanneer ons so saam aanbid.

My voorstel is om aanvanklik die “Huiskerk handleiding” deur te werk of om die “Huiskerk gemeente planting strategiese” te gebruik. Beide die handleiding en die Mp3 reeks kan gratis op die “Hulpmiddels” bladsy afgelaai word. Huiskerk gemeente planters kan ook aanvra vir die “Huiskerk gemeente planting strategie” op DVD as hulle die Mp3 reeks nie kan aflaai nie.

Hou twee byeenkomste per week totdat almal vertroud is met die huiskerk beginsels. Dit is baie belangrik dat die groep reg afskop en dit kan net gedoen word as almal weet hoe en waarom. As die huis gemeente planter sommer net begin sonder ‘n deeglike fondasie verstaan mense nie altyd hoekom dinge anders gedoen word nie. Sodra die handleiding afgehandel is, kan met die werklike huiskerk begin word.

Begin altyd met lofprysing en aanbidding tensy die Heilige Gees anders lei. Dit skep gewoonlik ‘n Heilige Gees gevulde “atmosfeer” en maak die deur oop vir Gees geleide interaksie met God en met mekaar. Die belangrikste uitdaging is om as die liggaam van Christus te leer aanbid sonder ‘n sang leier en sonder musiek begeleiding. Dit moet egter nie in die eerste jaar of twee gedoen word nie. Leer eers om as ‘n gemeente in die gawes van die Gees te bedien. Lofprysing en aanbidding kan aanvanklik sommer met agtergrond musiek gedoen word. Gebruik sommer ‘n CD van Danie Botha of ander sangers of sang groepe. Wanneer die gemeente vir ‘n jaar of twee goed op dreef gekom het kan hulle begin om sonder musiek te aanbid.

Dit is eintlik nie onderhandelbaar nie omdat ware Gees leiding met betrekking tot aanbidding eintlik die beste werk sonder musiek begeleiding en sonder ‘n sang leier. Almal in die groep moet Goddelike prys en aanbidding soos God dit aanvanklik beplan het leer en ervaar. Dit was nooit bedoel dat een persoon ‘n groep mense in aanbidding in lei nie. ‘n Persoon wat ‘n instrument bespeel sal sonder uitsondering begin om die leiding te neem en die groep sal ware aanbidding nooit smaak nie. Dit is hoe dit is. Dit is waarom daar iewers in die huis gemeente se planting proses vir ‘n tyd lank “acapella” gesing moet word. Na ‘n jaar of so sal almal weet wat Heilige Gees geleide aanbidding is en sal hulle sulke heerlike tye met God beleef het dat hulle nooit weer ‘n sang leier naby hulle sal toelaat nie. ‘n Mens kan nooit die Heilige Gees vervang wanneer dit kom by aanbidding nie.

Wanneer almal voel dat hulle al die tradisies van musiek en aanbidding begrawe het kan hulle musiekinstrumente begin gebruik. Dit is egter van kardinale belang dat die musikante nie mag lei nie maar dat die Heilige Gees steeds moet lei. Dit beteken dat die Heilige Gees ‘n liedjie op iemand se hart sal lê en so ‘n persoon sal die liedjie begin sing waarop die musikante moet inval. Dit plaas ‘n bietjie meer druk op die musikante want alles werk nou andersom. Die musikante en die instrumente volg en lei nie soos in die verlede nie. Baie groepe gebruik nooit weer instrumente nie en bly by “acapella” sang wat heel in orde is. Acapella sang is die Bybel gefundeerde metode van aanbidding en hou onskatbare voordele in vir die gemeente van God.

Om vir ‘n jaar lank “acapella” te sing gee ook die musikante in die groep ‘n jaar tyd om al die liedjies wat die groep sing op gehoor te leer speel. Vanselfsprekend moet op gehoor gespeel kan word anders sal die musikante nie kan volg nie. In die volgende joernaalinskrywing gee ek praktiese wenke met betrekking tot Heilige Gees vervulde sang en musiek.

Wisselwerking:

Ek wed jy is verras oor die inhoud van hierdie inskrywing. As jy is, Hoekom?

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment