Reine onbesmette godsdiens!

Ek het nou die dag op hierdie baie interessante Skrifgedeelte afgekom wat my ‘n bietjie aan die dink gesit het. Hierdie Skrifgedeelte, het ek onmiddellik besef, weerspieël die kern van die hart van God:

Jakobus 1:27

Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld

Behalwe dat God wil hê dat ons rein moet lewe is dit vir Hom baie belangriker dat ons die hulpbehoewendes moet help. Dit word in hierdie Skrifgedeelte eerste genoem. Daar is dus ‘n “basiese” of “redelike” godsdiens wat ons moet demonstreer. Hierdie basiese of redelike godsdiens is om na ander mense om te sien. Dit is om vir ander mense te sorg. Dit is om hulle wat in nood verkeer te help. Dit laat my dink aan ‘n ander Skrifgedeelte wat dieselfde ding sê:

Mattheus 25: 32-46

EN wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;

en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;

en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.

Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.

Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;

Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.

Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?

En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?

En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?

En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.

Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.

Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie.

Ek was ’n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie.

Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ’n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?

Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.

En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.

Ek sou gedink het dat God sou sê: “Gaan weg van my julle vervloektes, want julle het Jesus Christus verwerp!” Dit is natuurlik baie belangrik om Jesus Christus aan te neem as jou Verlosser. Sonder Jesus is ons verlore want ons word uit genade gered en nie deur werke nie. 

Maar ja, soos julle kan sien gaan Hy iets heel anders vir ons sê wanneer ons voor die regterstoel van God verskyn. Dit is vir my baie duidelik dat ons in ons Christenskap vrug móét dra. Daar moet die werke wees wat by Christenskap pas. Die boom word geken aan sy vrugte. Mense gaan eendag voor die troon van God verskyn en verwerp word omdat hulle nie ‘n “redelike” of “onbesmette” godsdiens geleef het nie. Ons moet dus ‘n Romeine 12 “godsdiens” handhaaf:

Romeine 12:1-2

EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.

En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Die volmaakte wil van God is dat ons na mekaar moet omsien. Ons moet die weduwees en die wees asook die armes en ander hulpbehoewendes besoek. Ons moet hulle soek en vir hulle kos gee en klere gee. Ons moet hulle help.

Filippense 2:4

Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n

Mense, hierdie is groot! Dit is die kern van die hart van God. Daarvan is ek seker. Dit laat mens dink nè.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment