Heilige Gees gawes tydens huiskerk byeenkomste

Vir al ons huiskerkers wat tans deur ‘n moeilike tyd gaan wil ek bemoedig deur julle te herinner aan die beloftes van God wat in Christus Jesus altyd “ja” en “amen” is. Vir ons is niks onmoontlik nie, want vir God is niks onmoontlik nie. Ons kan elke situasie in ’n oogwink omdraai of verander wanneer ons dit in die geloof doen. Wees vol moed vir die toekoms en moenie twyfel aan sy liefde en getrouheid nie.

Vandag wil ek oor die Heilige Gees werking in die huiskerk gesels. Ons het reeds gesê dat die twee pilare waarop kerk belewenis staan is eerstens die Heilige Gees gawes wanneer ons bymekaarkom (almal deelnemende en funksionerende bediening van die gemeentelede) en tweedens die daaglikse gedeelde gemeenskapslewe. Dit is absoluut die kern van huiskerk gemeentelewe soos God dit ingestel het. Hy het dit nie anders bedoel nie en daar is ‘n magdom Skriftuurlike bewyse daarvoor. Dit is nie net nog ‘n metode nie, dit is dié metode.

Met die eerste een, wanneer ons bymekaarkom, is God persoonlik in beheer en aktief aan die werk. Met groot eerbied wil ek dit graag op hierdie manier uitdruk: Hy sit in die middel van die vertrek en almal vergader om Hom. Hy is die sentrale punt van belangstelling. Geen oog is op ‘n mens gerig nie. Ons sien Hom nie maar ons ervaar Hom. Daar is ‘n gewyde atmosfeer van eerbied, liefde, bewondering en aanbidding. Dit het begin met sang en aanbidding en het oorgeloop in die manifestering van die Heilige Gees gawes:

Wanneer julle saamkom dan het elkeen van julle ‘n psalm, of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging – laat alles tot stigting geskied. Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. Want aan die een word deur die Gees ’n woord van wysheid gegee, en aan die ander ’n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan ’n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan ’n ander werkinge van kragte, aan ’n ander profesie, aan ’n ander onderskeiding van die geeste, aan ’n ander allerhande tale, aan ’n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. Selfs lering werk so. Die Heilige Gees werk deur wie Hy wil om byvoorbeeld ‘n lering woord te bring, of ‘n woord van bemoediging. Kort en kragtig maar in die Gees.

Paulus sê selfs op ‘n keer dat die profete een vir een kan profeteer. Almal kan ‘n kans kry:

Lees 1 Korintiërs 14:29-32:

Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel. Maar as daar iets geopenbaar is aan ’n ander wat daar sit, laat die eerste swyg. Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word. En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe.

Paulus vra hier net vir ‘n bietjie orde; almal hoef nie gelyk te profeteer nie en almal kan ‘n kans kry. Van die tale behoort ook eers uitgelê te word voor daar ‘n volgende profesie is. Ek noem dit hier spesifiek om te beklemtoon dat die byeenkomste Gees vervulde geleenthede was wat gekenmerk was deur baie Gees “werking” in die Nuwe-Testamentiese tyd. Die Skrif is duidelik oor die feit dat elkeen aktief betrokke sou wees deur die werking van die Heilige Gees.

Wisselwerking:

Hoe voel jy oor die stelling dat die Heilige Gees gawes die fundamentele grondslag vir gemeente lewe en gemeente byeenkomste is?

Funksioneer die gawes van die Gees nog in jou gemeente? Hoe voel jy daaroor?

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis blad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment