Werklike Rede Agter Plaasmoorde Veldtog?

Ek het ‘n paar maande gelede ‘n interessante inskrywing gepubliseer met betrekking tot die “Plaasmoorde” veldtog wat deur AfriForum en ander aktiviste landwyd gedryf word. Hierdie inskrywing was deur baie mense in ons land baie goed ontvang. Lees meer daaroor op hierdie bladsy. Dit is baie insiggewend en ‘n “eyeopener” soos die Engelsman sê.

Almal wat bogenoemde inskrywing gelees het weet dat dit ‘n beproefde feit is dat die meeste statistieke en feite rondom “plaasmoorde” totaal vals is en geensins betroubaar is nie. Selfs AfriForum stem saam met hierdie stelling wat ek maak en distansieer hulle gereeld van aktiviste wat hulle aan hierdie vals en skadelike strategieë skuldig maak.

Ek het ‘n paar maande gelede ‘n epos rakende hierdie aspek vanaf ‘n senior beampte in AfriForum ontvang:

The AfriForum Research Institute (ANI) does not in any way affiliate with any outside parties. That being said, I would like to bring the most recent report of farm attacks and the 2016/2017 statistics under your attention. Please find the report attached. I do not, nor have I or will I ever, conducted my research solely with the focus on one race. All the statistics and reports released by myself on the topic includes ALL victims of farm attacks and farm murders irrespective of their race. It is my personal belief that doing so would harm the greater cause of addressing this issue and the race of the victims is, to me, irrelevant. Every life matters. I can not speak for individuals who quote statistics claiming otherwise.

I trust that you will find this correspondence with the good faith with which it was intended.

Kind regards,

(Undisclosed representative, AfriForum)

Die statistieke wat aan hierdie epos geheg was het die ware statistieke gereflekteer min of meer soos wat deur die SAPS bekend gestel was. Dit beklemtoon die feit dat AfriForum hom nie skuldig maak aan die verspreiding van vals statistieke nie. Die statistieke sluit egter nie die syfers van moorde op swart mense in oor die res van die land nie.

Natuurlik is vals statistieke, vals feite en vals beskuldigings baie skadelik vir ons land en ons mense, hoofsaaklik as gevolg van die bitterheid, haat en rassisme wat dit veroorsaak. Selfs die statistieke en feite rondom sadistiese wreedhede is vals. Selfs hierdie statistieke is baie laer in vergelyking met die res van die wêreld. Hierdie tipe sadistiese wreedhede teenoor mense word regoor die wêreld ervaar. Meer as in Suid-Afrika.

Hierdie vals statistieke, vals stellings en ook die wyse waarop hierdie leuens deur aktiviste versprei word veroorsaak baie haat, vrees en bitterheid onder ons mense. Dit dien in werklikheid geen doel nie behalwe om mense te verdeel en teen mekaar op te werk. Hierdie skadelike veldtog is heeltemal onnodig. Daar is geen wit volksmoord in ons land nie en die boere word nie uitgemoor nie. Inteendeel, wit boere en wit mense in Suid-Afrika is van die veiligste mense in die wêreld.

Toe ek bogenoemde epos vanaf ‘n AfriForum beampte ontvang het, het ek hierdie persoon gevra hoekom hulle dan, as hulle wel min of meer saam stem met die statistieke van die SAPS, so ‘n heftige veldtog in ons land en selfs in die buiteland met soveel ywer dryf. Dit maak net nie sin nie.

Soos julle seker kon raai het hierdie beampte hierdie vraag nooit beantwoord nie en ek is seker dat geen verteenwoordiger van AfriForum of enigiemand wat die boeregemeenskap verteenwoordig dit ooit sal beantwoord nie.

Wat is so belangrik vir die boere van Suid-Afrika? Wat is so belangrik dat dit hulle gewillig gemaak het om hierdie negatiewe skadelike veldtog te loods? Hoekom is hulle bereid om soveel vrees, haat en bitterheid aan te blaas? Hoekom is hulle bereid om te beskuldig, te lieg en seer te maak? Hoekom is hulle bereid om so ‘n duur prys te betaal? Ek weet hoekom en ek dink baie mense weet hoekom. Dit is voor die hand liggend. Dit gaan alles oor die boere se vrese dat hulle hulle plase gaan verloor.

Die primêre doelwit met die hele propaganda veldtog is om die wêreld se simpatie te wen en natuurlik om hulp vanaf die internasionale gemeenskappe te verseker. Om hierdie doelwit te bereik word gereelde plaasmoorde bewusmaking uitreikings in oorsese land gehou. Dit was in werklikheid ‘n politieke besluit. Dit gaan dus alles oor die politieke welstand van die wit Suid-Afrikaner in Suid-Afrika.

My vraag is net: Hoekom vertrou hulle nie in God en sy voorsiening in plaas daarvan om oorsese simpatie te soek nie? Hoekom onderhandel hulle nie maar net die verskillende kwessies en knelpunte nie? Hoekom oorweeg hulle nie ander en beter maniere om antwoorde en oplossings te vind vir die grondbesit kwessies in ons land nie? Het hulle ooit ondersoek ingestel vir alternatiewe en beter metodes om hulleself te beskerm teen die kwessies wat hulle so benoud maak? Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat enigiemand wat sy vertroue in mense sit in plaas van God ‘n onaangename teleurstelling kan verwag. Ons maai wat ons saai. Wanneer ons vrees, haat en bitterheid saai sal ons dit maai ook. Ek weet ook dat presies dit wat ons vrees oor ons kom juis omdat ons dit vrees.

Wanneer dit by plaasmoorde kom is daar hoofsaaklik drie groepe mense in Suid-Afrika:

Eerstens is daar die boere wat die plaasmoorde veldtog begin het. Uit die aard van die saak is dit ‘n baie klein groepie mense in vergelyking met die res van die bevolking van ons land. Hulle het net een doelwit: Kry soveel simpatie en ondersteuning as moontlik, veral vanaf die internasionale gemeenskap.

Tweedens is daar ‘n verregse groep wit Suid-Afrikaners wat inherent rassistiese neigings het. Die plaasmoorde veldtog is niks anders as ‘n “eerbare” verskoning om vrye teuels te gee aan hulle gevoelens vir anderskleuriges in ons land nie. Die boeregemeenskap het aan hulle ‘n baie welkome platvorm gegee.

Derdens is daar ‘n baie groot groep Suid-Afrikaners wat die boeregemeenskap uit lojaliteit ondersteun. Hulle is die mense wat elke “whatsapp” of “sms” aanstuur om hierdie veldtog aan die lewe te hou. Hierdie groep is die mense wat ‘n rat voor die oë gedraai word. Die meeste van hulle is salig onbewus van die talle vals feite en die vals statistieke wat bogenoemde twee groepe verkondig en propageer. Hulle besef nie hoeveel skade hulle aan verhoudings in ons land en aan hulle eie kinders aanrig nie. Hulle sal waarskynlik aanhou om hierdie skadelike propaganda veldtog te ondersteun as die ware feite nie onder hulle aandag gebring word nie. Hierdie mense is inherent nie rassisties nie maar voel dat hulle nie die plaasmoorde veldtog kan ignoreer nie. Dit raak immers elke Suid-Afrikaner want ons praat hier van die kos mandjie van Suid-Afrika.

Myns insiens is daar net een oplossing vir die hele grondbesit kwessie in ons land. Daarom is my raad aan die boeregemeenskap van ons land die volgende: “Gaan sit om die tafel en vind ‘n oplossing wat aanvaarbaar is vir al die partye van ons land. Daar moet ‘n aanvaarbare oplossing wees wat nie ekonomiese en ander skade sal aanrig nie. Daar moet ‘n wen-wen oplossing wees. Die plaasmoorde propaganda dra nie water nie. Dit gaan boemerang!

As dit nie was vir hierdie propaganda nie sou die nuwe Suid-Afrika ‘n baie beter ervaring vir die meeste mense van ons land gewees het. Daar is egter nog hoop. Hoe langer ons egter daarmee aanhou hoe moeiliker gaan dit word en hoe meer skade gaan aangerig word.

Baie mense sal natuurlik nie hierdie skrywe verstaan as hulle nie die eerste artikel getiteld, Plaasmoorde Statistieke In Perspektief, gelees het nie. Lees dit sommer nou. Lees ook, Plaasmoorde Optogte Ongewenste Uitwerking?

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment