Aanbevelings vir huiskerk gemeente planters

Ek wil graag ons derde en laaste joernaalinskrywing publiseer oor praktiese wenke vir huiskerk planting:

Soek ‘n huis met ‘n groot genoeg sitkamer of ander vertrek waar julle bymekaar kan kom op ‘n weeklikse basis. Dit hoef nie noodwendig elke keer by dieselfde huis te wees nie. ‘n Goeie reël is om kloksgewys te roteer van huis tot huis. So weet almal waar die volgende week bymekaargekom word. Die huise waar byeengekom word moet vir almal sentraal geleë wees. Iemand wat ver bly moet maar altyd inry.

Dit moet egter baie duidelik vir almal wees dat die persoon waar die gemeente bymekaarkom nie in beheer van die byeenkoms is nie. Dit is nie onderhandelbaar nie. As dit toegelaat word, is die huiskerk gemeente onmiddellik op pad om maar weer ‘n institusionele kerk te word. Selfs die “kleinste” motivering vir die “geringste” beheer deur een persoon is taboe. Neem egter kennis van so ‘n persoon of persone ten opsigte van parkering, waar en in watter vertrek die gemeentelede moet sit en watter badkamers gebruik moet word. Dit is tog hulle huis.

Besluit wanneer die gemeentelede bymekaar gaan kom. Eenmaal per week op ‘n Sondag is gewoonlik ‘n goeie tyd. Gewoonlik vir ongeveer 4 ure. Almal moet egter geken word in hierdie saak en daar moet konsensus bereik word. Dit moenie op mekaar afgedwing word nie en as die groep groter word moet weer daaroor besluit word en moet daar weer konsensus bereik word.

Baie sorg met betrekking tot temperatuur moet geneem word. Mense moenie sit en koud kry of warm kry nie. Gebruik lugversorgers, waaiers en verwarmers ten alle tye indien nodig. Die vertrek kan baie vinnig opwarm as mense sing en as die vertrek bedompig word moet iemand dadelik ekstra vensters oopmaak vir ventilasie. Hou lugversorgers, waaiers en verwarmers in ‘n goeie werkende toestand omdat die groep se oorlewing hiervan afhang.

Stiptheid is baie belangrik en geen slapheid in hierdie verband moet toegelaat word nie. Baie groepe het al as gevolg hiervan in die slag gebly. Institusionele kerke kan daarmee wegkom maar nie huiskerke waar almal aktiewe, deelnemende lede van die gemeente is nie. Maak ‘n reël dat almal 15 minute voor die tyd daar moet wees en as die amptelike tyd aangebreek het, moet die mense wat reeds daar is met die byeenkoms begin. Om vir laatkommers te wag wek die indruk dat dit reg is om laat te kom en uiteindelik sal die byeenkoms al later begin tot dit uiteindelik doodloop. Wees baie streng in hierdie verband en spreek dit dadelik aan as dit begin kop uitsteek. (Met ‘n mooi gesindheid natuurlik)

Aan die einde van elke byeenkoms moet iemand almal herinner aan die plek van samekoms vir die volgende week se byeenkoms. Ons het gevind dat as dit nie gedoen word nie sommige mense geneig is om die volgende byeenkoms te mis.

Sorg dat die badkamer in ‘n goeie toestand is voor die mense arriveer: a) Genoeg toiletpapier b) Handdoek, seep en ‘n toiletborsel (plunger) c) Sorg dat die badkamer skoon is d) Sorg dat dit van binne af kan sluit. Daar is mense wat nie weer sal kom as die badkamers nie in standgehou word soos bo genoem nie.

Die stoele moet of in al groter wordende sirkels of in al groter wordende vierkante uitgesit word. Sodoende sien almal mekaar van aangesig tot aangesig. Dit is belangrik vir gemaklike interaksie en kommunikasie.

Die pad na die voordeur en die pad na die badkamers moet egter gemaklik en sonder moeite gebruik kan word sonder om by mense of meubels verby te skuur of oor mense te trap.

Aan die einde van elke byeenkoms moet die hele groep, mans ingesluit, almal help om die vertrekke wat gebruik was vinnig skoon te maak. Dit sluit vee, stofsuig, opwas en skoonmaak van die kombuis asook die bêre van die stoele in. Skoonmaak moenie aan die huismense alleen oorgelaat word nie.

Besoekers moet baie spesiaal behandel word. Wanneer hulle die eerste keer besoek moet hulle baie vriendelik gegroet word, welkom geheet word en aan almal voorgestel word. Dit is ook ‘n baie goeie gewoonte om almal ‘n kans te gee om hulleself aan besoekers voor te stel met ‘n ietsie oor hulleself (naam, waar hy woon en werk, ens.) en so ook die besoeker. Daar is ‘n verskil tussen “welkom geheet te word” en “welkom te voel”. ‘n Besoeker moet voel dat die mense hier “wil” my om een of ander rede hier hê. “Ek is nodig hier” Om een of ander rede “hou hulle vreeslik baie van ons” sonder om dit te oordoen natuurlik. Kry hulle kontak besonderhede, skakel hulle gedurende die week en hoor hoe gaan dit met hulle, vra hulle of hulle die byeenkoms geniet het en nooi hulle weer. Dit maak die verskil tussen “’n besoeker te wees” al word jy ‘n gereelde besoeker en “ons wil julle hier hê” soos in “julle is een van ons” en ons wil nie hê julle moet net besoekers wees nie. Hierdie boodskap moet duidelik oorgedra word deur almal want dit is die gesindheid van liefde en aanvaarding. Dit is die familie- of broeder gesindheid ongeag wie of wat daardie besoeker en haar of sy familie is. Hierdie is ook dan die teenvoeter vir ‘n probleem wat kan opduik in huiskerke naamlik eksklusiwiteit of anders gestel: “Net ons vier en niemand anders nie. Ons ken mekaar so goed en ons het iets baie spesiaals hier tussen ons. As iemand bykom kan dit dalk die “harmonie” kom steur en verloor ons dalk die mooi ding wat ons hier beet het”. Hierdie gesindheid is gewoonlik die begin van die einde vir ‘n paar redes: Daar moet nuwe mense bykom om weer ‘n nuwe dimensie in die groep te weeg te bring. Eksklusiwiteit veroorsaak kortsigtigheid, byeenkomste raak stereotiep en eksklusiwiteit maak opgeblase. ‘n Groep wat op hierdie manier funksioneer sal nie vir altyd voortbestaan nie. Een of ander tyd sal hierdie verkeerde gesindheid hulle inhaal en sal hulle waarskynlik nie oorleef nie. Die vorming van ‘n “kliek” in huiskerke moet onder geen omstandighede toegelaat word nie.

Kleredrag moet altyd wanneer julle bymekaarkom informeel wees. Vir mans en kinders is ‘n netjiese kortbroek, kortmou hemp en sandale of tekkies in warm areas heeltemal voldoende. Dames kan ook netjies maar tog heel informeel geklee wees. Die doel is om gemaklik geklee te wees en nie om vreeslik mooi geklee te wees nie. In die winter kan selfs sweetpakke aangetrek word. Dit is nie wat ons aantrek nie maar die gesindheid van ons harte wat van belang is.

Selfone moet natuurlik afgeskakel wees uit respek vir God wanneer julle saamkom. Dit is sý tyd en hierdie bietjie ongerief sal ons nie skade aandoen nie. ‘n Selfoon wat skielik begin lui op ‘n verkeerde tyd steur mense en kan selfs die Heilige Gees bedroef. Dit moenie eens op “stil” gestel wees nie. Dit is net goeie maniere en regtig nie aanvaarbaar vir iemand om op ‘n selfoon te gebruik terwyl ons met God “fellowship” nie. Hy is nie ‘n mens nie en verdien regtig die hoogste respek van almal. Niks gaan gebeur as jy vir ‘n uur of twee heeltemal kontak met die wêreld verloor nie. Inteendeel dit sal jou net goed doen. Ek weet van mense wat hulle selfone by die huis los as hulle na ‘n byeenkoms gaan. Dit verdien ‘n handeklap of hoe sê ek? Iemand wat bystand doen vir sy werk moet natuurlik sy selfoon op “stil” stel maar moet regtig groot sorg neem om die vertrek te verlaat en eers te antwoord of praat as hy buite hoorafstand van die vergadering is. Ek weet dit klink erg maar dit is regtig nodig om nie doekies om te draai in hierdie verband nie. Mense het om een of ander rede ’n “traak-my-nie” houding wanneer dit by selfoon maniere kom.

Wisselwerking:

Maak die praktiese reëlings en beginsels hierbo genoem sin vir jou?

As jy meer wil weet oor hierdie onderwerp, kry sommer nou die boek, “Huiskerke: Hoe? Hoekom?” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment