Dit is tyd om aan te beweeg

Al het die geboue waarin ons saamkom deur die jare verander, baat dit ons niks as ons nie deur die Heilige Gees vernuwe word nie.

Ek is so opgewonde oor dit wat God nou in Suid-Afrika doen. Huiskerke is die oplossing vir al die kwessies wat die institusionele kerk so lam lê. God is besig om huiskerke wêreldwyd te laat herleef soos wat dit in die vroeë kerk was. Bybel gefundeerde huiskerke beteken ware Gees belewenis. Ware Gees belewenis beteken die vrylating van die kinders van God. Jesus word ervaar soos wat Hy Homself openbaar. Hy openbaar Homself deur middel van die gawes van die Gees. Daar waar Hy die Hoof is en in beheer is, daar is die openbaring van Homself verhewe, onbeperk en tot eer en verheerliking van sy Heilige Naam.

Om dit beter te verstaan moet ons kyk na Jesus se praktiese ondervinding hiervan toe Hy die aarde bewandel het:

Jesus was nie ‘n welkome besoeker toe hy op 30 jarige ouderdom die godsdiens van die Jode deurmekaar kom krap het nie. Hy het die wettiese, dooie godsdiens en geloof van die Joodse leiers onverskrokke aan die kaak kom stel. Hy het nie doekies omgedraai nie. Dit wat Hy op aarde kom vind het was nie wat God ingestel het nie. Dit was ‘n dooie godsdiens wat die Joodse leiers van die Ou Testament vir hulleself ingestel het net soos wat die institusionele kerk vir hulleself ingestel het. Net so het hulle ook in die loop van die jare stelselmatig veranderings ingestel en die “verhoudings geloof” van Abraham, Isak, Jakob, Dawid en Samuel verander in ‘n wettiese godsdiens of ook maar ‘n “organisasie geloof”. Net soos wat die institusionele kerk van vandag ook gekonfronteer word met die naakte werklikheid van godsdiens, net so het Jesus ook die fariseërs en ander Joodse leiers gekonfronteer met die ware feite rakende hulle geestelike kondisie.

Dit is egter hier waar die ooreenkoms tussen Joodse leiers en die institusionele kerk ophou. Die Joodse leiers was bose leiers en hulle het vir Jesus Christus totaal verwerp, wat nie die geval is met die institusionele kerk nie. Die institusionele kerk is gevul met pragtige, Gees vervulde leiers en kinders van God wat God in gees en in waarheid aanbid met die mooiste motiewe, ywer en gesindheid. Hulle het God lief en wil Hom behaag. Dit is ook dan hoekom God hulle seën en met hulle saamwerk. Dit is per slot van rekening nie hulle skuld dat die kerk die roete geloop het wat dit geloop het nie. Hulle het ook maar net geërf wat min of meer 1800 jaar gelede plaasgevind het. Die Nuwe-Testamentiese Joodse leiers het ongelukkig voortgegaan waar hulle Ou-Testamentiese kolegas opgehou het. Vir elke leier en elke kind van God kom daar egter ook ‘n dag wat hulle sal moet besluit of hulle voortgaan met waarmee hulle besig is of gaan hulle aanbeweeg. Die wolkkolom het reeds begin beweeg. Dit het tyd geword dat die kerk kamp afslaan en saam met die wolkkolom begin beweeg.

Matt. 15:1-3

Toe kom daar skrifgeleerdes en Fariseërs van Jerusalem na Jesus en sê: Waarom oortree u dissipels die oorlewering van die ou mense? Want hulle was nie hul hande as hulle brood eet nie. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering? Want God het bevel gegee en gesê: Eer jou vader en moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe. Maar julle sê: Elkeen wat aan vader of moeder sê: enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is ’n offergawe — dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie. So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering. Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.

Matt. 23:1-39

Toe het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie. Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie. En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi! Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus. Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word. Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ’n swaarder oordeel ontvang. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julle self. Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig? En: Elkeen wat sweer by die altaar — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die gawe, of die altaar wat die gawe heilig? Wie dan sweer by die altaar, sweer dáárby en by alles wat daarop is; en wie sweer by die tempel, sweer dáárby en by Hom wat daarin woon; en wie sweer by die hemel, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges; en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie. Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het.Maak die maat van julle vaders dan vol! Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gesel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!

Wisselwerking:

  1. Voel jy ook dat dit tyd geword het dat die kerk in Suid-Afrika aanbeweeg verwysend na bogenoemde stellings?

  2. Hoe raak die verandering van “verhoudings geloof” na “organisasie geloof” jou in jou alledaagse handel en wandel met God en met mense?

Vir meer informasie oor huiskerke, kry die boek, Huiskerke, Hoe? Hoekom? op die “Hulpmiddels” bladsy:

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment