Hoe funksioneer die liggaam van Christus?

Is Jesus regtig die Hoof van sy kerk? Antwoord: Net waar Hy werklik toegelaat word om deur ál sy kinders te werk, daar is Hy regtig Hoof. Hoekom so? Soos die liggaam deur die hoof beheer word, so beheer Jesus sy geestelike liggaam. Hy beheer sy hele liggaam. Daar is geen tussenganger tussen Hom en die mense nie.

Ons moet na die kerk kyk as die liggaam van Christus. Die kerk is nie net die bruid van Christus nie, dit is ook sy liggaam. Jesus is die Hoof en ons die liggaam. Die hoof beheer die liggaam. In die natuurlike liggaam is die brein in die hoof geleë. Jou brein doen ’n groot werk; dit beheer elke liewe beweginkie en werking in jou liggaam. Van jou brein af loop boodskap drade, wat senuwees genoem word, na elke deel van jou liggaam. Langs hierdie drade stuur jou brein opdragte uit en ontvang inligting. Net so kommunikeer Jesus direk met sy liggaam (die Kerk) en ons met Hom. Leierskap in die institusionele kerk het hulle 1800 jaar gelede tussen die Hoof en die liggaam geplaas. Die Hoof moet nou, soos dit in Moses se dae was, deur enkele persone met sy liggaam kommunikeer. Dit klink absurd maar dit is presies hoe dit is. Die liggaam van Christus het eintlik ‘n defek, iets soos ‘n onnatuurlike uitgroeisel om die nek, wat nie werklik deel van die liggaam is nie. Dié uitgroeisel is die hiërargiese, posisionele leierskap sisteem van die institusionele kerk. Dit hoort nie daar nie en is nie werklik deel van die liggaam nie.

Leierskap in die Nuwe Testament is net ‘n funksie. Die vyfvoudige bedienaars was of voltyds of deeltyds besig met die werk van God soos die Heilige Gees hulle aan die kerk gegee het. Hulle het orals op straat, op markpleine en waar hulle kon die woord van God verkondig en die mense aangaande die “weg” geleer. In die proses het die apostels gemeentes geplant en van tyd tot tyd weer besoek. Buite die gemeente was hy besig met sy funksie en wanneer hy ‘n gemeente besoek het, was hy maar net een van hulle op gelyke voet met al die ander lede van die gemeente. Selfs die twee of drie ouderlinge wat voltyds in ‘n spesifieke gemeente was, het ook soos enige ander gemeentelid gefunksioneer. Almal op gelyke voet. Niemand is offisieel aangestel of in enige posisie georden nie. Almal sien maar net die verskillende gawes en bedieninge in mekaar funksioneer sonder dat enigiemand amptelik aangestel is. Hulle het wel na iemand verwys as ‘n apostel of ‘n evangelis maar dit was bloot net ‘n erkenning van die funksie wat hulle in die persoon raaksien. As ‘n persoon soos Paulus na homself verwys as ‘n apostel was dit ook bloot ‘n verwysing na sy funksie. Hy kon net sowel na homself as ‘n “Christelike veldwerker” verwys het maar dit sou ‘n bietjie verwarrend gewees. Daar is ook nog evangeliste, profete en leraars ook wat ook almal “Christelike veldwerkers” was.

Die groot negatiewe komplikasie van posisionele leierskap is natuurlik die term “beheer”. Een persoon “beheer” ander persone maar dit hoort nie in die kerk van God nie. Hierdie eer en voorreg kan net een persoon toevertrou word naamlik Jesus Christus, die Hoof van die kerk, Homself.

Matt. 23:8

Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders.

Let op die woorde “en julle is almal broeders” Hier is Jesus baie duidelik oor titels en Hy sê onomwonde dat almal gelyk is (broeders).

Wisselwerking:

  1. Kan jy insien dat geestelike leiers in die Nuwe Testament bloot funksionele leiers was? Mense met ervaring wat ander mense bedien het en die pad vir hulle aangewys het.

  2. Klop dit met Jesus se stelling dat selfs Hy het gekom om te dien en nie bedien te word nie?

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry jou kopie van die “Bediening in die huiskerk gemeente” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis blad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment