Maak tyd vir jou geestelike familie

Ons huiskerkers is mos ’n baie intieme familie. Ons leef vir mekaar. Ons geniet mekaar. Ons spandeer tyd met mekaar. Ja, dit is hoe dit mos móét wees of wat sê jy? Die familie van God kan nie die tipe lewenstyl handhaaf wat so maklik in die institusionele kerk gevolg word nie. Dit is die struktuur van die institusionele kerk wat die “familie dimensie” van gemeentelede se interaksie met mekaar so negatief beïnvloed. Die gedeelde gemeenskapslewe word nie soseer bevorder nie en is nie ‘n prioriteit of op die agenda van die institusionele kerk nie. Dit dan die rede dat sodanige gemeentelede tevrede is met een of twee samekomste een of twee keer ‘n week waar bitter min interaksie plaasvind. Almal se agterkoppe is na jou gekeer en almal se aandag is gefokus op een persoon en dan is dit nog een rigting kommunikasie ook. Dit is natuurlik vir baie mense baie gemaklik en hulle is tevrede met hierdie stand van sake. Om passief te wees en geen verantwoordelikhede te hê nie werk vir baie mense. Hulle besef natuurlik nie wat hulle mis nie.

As gevolg hiervan lei die gemeente skade want die ondersteuning wat elke lid moet gee ter stigting en opbouing bestaan nie werklik in die institusionele kerk nie. Daar is nie diepte en substansie in verhoudings nie en daarom kan hulle verhouding met God ook nie volmaak wees soos Hy dit wil hê nie. Die familie vir hulle is maar die biologiese gesin en bloedfamilie en nie die ware familie van God nie. Baie min mense besef egter dat die familie van God eintlik werklik familie is en dat die ongeredde bloedfamilie eintlik nie meer familie is nie. Hoekom nie? Want julle is twee verskillende spesies. Die familie van God is uit Gees gebore en die ongeredde mens is uit stof gebore. Die een is die afstammelinge van die eerste Adam die ander die afstammelinge van die tweede Adam.

1 Kor 15: 44-50

n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Ja, ons is nie van hierdie wêreld nie; ons is gestuurdes of ambassadeurs van die hemel. Die ongeredde mense is van hierdie wêreld. Daarom kan ons nie met hulle gemeenskap hê nie en daarom moet ons met ons Christelike broers en susters gemeenskap hê. Hierdie gemeenskap, soos duidelik al die skrifgedeeltes hierbo bevestig, is nie opsioneel nie. Dit is ‘n opdrag van God.

Lees 1 Kor 12:12-27

Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.

Uit bogenoemde is dit baie duidelik dat ons ‘n groot verantwoordelikheid teenoor ons geestelike broers en susters het. Ons kan nie net ons eie geïsoleerde lewe lei en dink dit sal goed gaan met ons en ons gemeente nie. Bogenoemde skrif sê duidelik dat ons gelyke sorg vir mekaar moet dra. Behalwe die verantwoordelikheid is daar onskatbare groot voordeel wat elkeen van ons in die proses ontvang: Ons stig, bemoedig en bou mekaar op maar in die proses word onsself gestig, bemoedig en opgebou. En die beeld en openbaring van Jesus word net groter in ons lewens en ons word net meer en meer vervuld.

Wisselwerking:

  1. Hoe kan ons plek en tyd maak vir ons ware familie, ons medegelowiges?

  2. Watse voordele is daar in die gemeenskap met ander gelowiges op ‘n daaglikse informele grondslag?

As jy meer wil lees aangaande die familie interaksie van die familie van God, kry die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente”, op die “Hulpmiddels” bladsy. 

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment