Die huiskerk lewensstyl is familielewe

Ek wil graag ’n bietjie gesels oor die ongewenste gevolge van die georganiseerde godsdiens. Georganiseerde godsdiens is altyd menslike instellings en daarom kniehalter dit altyd ‘n gesonde verhouding geloof. Jesus het Homself altyd streng uitgespreek teen die godsdiens. Godsdiens en menslike tradisies bring die dood want dit het geen inherente lewe nie. Dit is nie moeilik om te verstaan dat Jesus, wat Homself sterk teen godsdiens uitgespreek het, ‘n gehate persoon vir die Jode was nie en dat hulle Hom verag het nie. Sy uitsprake en gesindheid was vir die godsdienstige leiers nie aanvaarbaar nie. Hy is uitgekryt vir ‘n vraat en ‘n wynsuiper en selfs dat Hy ‘n werktuig in die Satan se hande was. Daar was mettertyd ‘n openlike vyandigheid teenoor Hom gewees en die Jode was daarop uit om Hom aan die kaak te stel met allerhande strikvrae en om Hom uiteindelik te vermoor.

Dit moes vir Jesus baie moeilik gewees het. Hy moes soos ’n indringer tussen hulle gevoel het. Jesus was deur Jerusalem verwerp en daarom het Hy nooit in Jerusalem vernag nie. Hy het die stad nie baie besoek nie maar die paar keer wat Hy daar was, het Hy voor dit aand geword het uitgewyk na Betanië na die huis van Martha, Maria en Lasarus waar Hy vrede kon hê. Jesus was baie geliefd in daardie huis. Hoekom was Hy so geliefd in daardie huis? Omdat hulle baie lief vir Hom was. En Hy was baie lief vir hulle.

Johannes 11:5

En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad.

Johannes 11:34-36

en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het geween. Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!

Onthou Hy het nie sy eie huis gehad nie. Hy het eenkeer vir iemand gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie”

Jesus wou somtyds ‘n bietjie uit die vyandige wêreld van die Fariseërs ontsnap en wou natuurlik ook ‘n bietjie wegbreek van die uitputtende bediening waarmee Hy besig was. Die werk van sy Vader was nie maklik nie, want Hy moes baie keer tot laat saans nog siekes genees en die mense van die Koninkryk van God leer. Die skare het Hom altyd opgespoor en dan moes Hy bedien. Hy het hulle nooit weggewys nie. Dit was dan vir Jesus baie aangenaam om na ‘n plek te ontsnap waar Hy geliefd en absoluut welkom is. Hy was altyd ‘n hoogs geërde en geliefde eregas in Martha, Maria en Lasarus se huis.

Kom ons kyk ‘n bietjie wat presies ‘n huis of ‘n tuiste is:

  1. Dit is ‘n plek waar jy ‘n bietjie kan rus na ‘n lang dag se werk. Jy kan jou skoene ‘n bietjie uitskop en gemaklik verkeer.

  2. Dit is ‘n plek waar jy kan ontspan, gemaklik wees en jouself kan wees.

  3. Dit is ‘n plek waar jy vryheid kan geniet en doen en sê wat jy wil sonder om allerhande komplikasies te konsidereer.

  4. Dit is ‘n plek waar jy uiting aan jou persoonlikheid kan gee.

  5. Dit is ‘n plek waar jy vrylik kan kommunikeer.

  6. Dit is ‘n plek van veiligheid en sekuriteit.

  7. Dit is ‘n plek waar jy vriendelik en met blydskap ontvang word, aanvaar word en welkom is.

  8. Dit is ‘n plek waar jou geheime, passie en begeertes veilig aan jou familie toevertrou kan word.

  9. Dit is die plek waar jý heer en koning is

Dit is presies wat Jesus in Betanië by hierdie drie geliefdes van Hom ervaar het. As Jesus nog aangekom het, het Maria en Martha al uitgehardloop na Hom toe. Hulle kon nie wag om Hom te sien nie.

Lukas 10:38-42

En op hulle reis het Hy in ’n sekere dorp gekom, en ’n vrou met die naam van Martha het Hom in haar huis ontvang. En sy het ’n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister. Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help. Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.

Wanneer Jesus en van sy dissipels by Maria-hulle was het sy gewoonlik saam met sy dissipels rondom Jesus vergader en aan sy lippe gehang. In hierdie intieme bymekaarkoms het hulle baie intieme goed gesien en gehoor. Dinge wat nie buite aan die menigte gedeel is nie. Dit was net bedoel vir dié wat baie na aan Jesus was. Dié wat Hom baie lief gehad het, die wat saam so intiem om Hom vergader het, was bewus van ‘n Jesus wat nie teruggehou het nie. Hier het Hy met vertroue die verborgenhede van God, sy geheime, begeertes, passie en hart voor hulle, sy geliefde familie, uitgestort. Hier was geen sprake van vyandigheid, vooroordeel, ongeloof, rituele, reëls, regulasies, godsdiens, bybedoelings, minderwaardigheid, arrogansie, beterweterigheid en verskuilde agendas nie.

Almal in die vertrek het aan Jesus se lippe gehang en ingedrink wat Hy te sê gehad het en is oorspoel met sy liefde. Hulle het openbarings van Hom gehad wat die menigte daar buite nie van geweet het nie. Hulle het ‘n “ander” Jesus geken wat nie in ‘n waas van godsdiens toegewikkel was nie. Dit is hierdie element; Jesus as middelpunt en nie tradisies en rituele nie, wat die ware Bybel gefundeerde huiskerk anders as die institusionele kerk maak.

Wisselwerking:

  1. Wil Jesus nie dalk net so tuis in die gemeente wees soos jy in jou eie huis is nie?

  2. Is ons nie dalk almal veronderstel om so tuis in die gemeente samekomste te wees soos wat ons in ons eie huise is nie?

  3. Kan ons so lief vir ons geestelike broers en susters word dat ons soos ‘n fisiese bloed familie funksioneer as ons saamkom?

Vir meer informasie oor huiskerke, kry die boek, Huiskerke, Hoe? Hoekom? op die “Hulpmiddels”bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment