Wat ‘n wonderlike getuienis!

Op 19 Januarie 2017 het ek ‘n epos ontvang wat my grenslose vreugde verskaf het en steeds doen!

Dit was vanaf ‘n gekwalifiseerde Advokaat wat tans in Suid-Afrika woon. Hierdie vrou het die geheim ontdek hoe om ten alle tye genesing te kan ontvang en hoe om ten alle tye gesond te bly. Lees haar getuienis hier onder:

Middag Basie,

Is die Here nie absoluut wonderlik nie!!! Ja, ek het jou artikels gaan lees en ek het ‘n “awesome” getuienis juis oor die artikel “Die waarheid omtrent siektes en ander ellendes.”

Ek is al van September 2016 ingeteken op jou webblad, maar het nog nooit tyd gemaak om enige van die artikels te lees nie as gevolg van die ure wat ek werk. Ek werk voltyds by ‘n makelaar bedags en soos genoem werk ek in die aand vir ‘n Durbanse maatskappy wat elke aand proeflesings stuur. Op ‘n minder gereelde basis vertaal ek ook die prokureursbriewe.

Ek was vir ‘n tyd lank siek maar ek het my nie veel daaraan gestuur nie. Niks daarvan was ernstig nie en ek glo eenvoudig die Here beskerm my. Ek bely dit ook elke dag so. Maar in November 2016 het al meer onverstaanbare goed begin gebeur en uiteindelik het my kollegas aangedring dat ek ‘n moet dokter moet gaan sien. Ek kon later nie meer skryf of my bene optel nie (ek was soos iemand met disleksie hoewel ek ‘n gekwalifiseerde Advokaat is). En kon nie meer sien op my rekenaar sonder om regtig tien sentimeter van die skerm te sit nie. Ek was met tye doof in my regter oor en natuurlik was daar nog vele ander dinge wat fout was met my.

Ek het ‘n dokter gaan sien en is na ongevalle gehaas met ‘n dreigende beroerte. ‘n Neuroloog het my ontvang en dadelik breinskanderings gedoen. Daardie selfde aand hoor ek dat ek veelvuldige sklerose het wat aktief is en al vir baie lank in my teenwoordig was. Dit was vir my ‘n groot skok en ‘n vreeslike teleurstelling.

Ek was vir ‘n week lank in die hospitaal waar elke moontlike toets op my gedoen is. Teen die tyd dat ek ontslaan is, het my regterbeen gesleep en was daar nog ander goedjies ook fout met my.

Op daardie stadium het ek nie ‘n volledige mediese fonds gehad nie, net ‘n hospitaal plan, en ek kon dus nie dadelik met die medikasie begin om die skade onder beheer te bring nie. Volgens die neuroloog is dit blykbaar ‘n ongeneeslike siekte.

Ons Durban kantoor het toegemaak vir die Kersseisoen en ek het nie in die aande gewerk nie. Die aand van 9 Jan 2017, het ek toe maar begin kyk na al die eposse en toe sommer net enige van “SA House Churches” se eposse oopgemaak.

Die artikel wat ek toe oopgemaak het, was “Die waarheid omtrent siektes en ander ellendes.” Omdat ek wedergebore is en ‘n baie intieme pad met die Here stap, en geen moedswillige sondes het nie, kon ek regtig nie verstaan hoekom dit gebeur het nie. Ek het begin lees, so omtrent agt uur die aand, en teen kwart oor elf het my man gesê ons moet nou slaap sodat ek kan rus. Ek het teen my sin toe maar die rekenaar afgesit en net daar gelê en dink oor als wat ek gelees het in die artikel. Ek het toe begin bid oor my ongeloof en dit bely as sonde voor die Here. Ek het ook die vrees wat my lewe so oorheers bely maar ek het nie ‘n woord gebid of iets genoem oor my siekte nie.

Ook my man het verlede jaar in Augustus (2016) een aand baie siek geword. Sommer so uit die bloute. Ons het later by die dokter op geëindig teen sy sin want hy glo nie in siekte nie. Hy moes na sy ondersoek hartpille begin gebruik en ons het hewige rusies hieroor gehad. Hy het weier om enige medikasie te gebruik en bly sê hy is nie siek nie en daar is niks fout met hom nie.

Die EKG toetse wat egter daardie aand gedoen is en daarna, het gewys dat daar groot fout was met sy hart. Nietemin het ek die ding toe later laat vaar net om die vrede te bewaar, maar ek was skrikkerig omdat my man sestien jaar ouer as ek is. Hy is tans drie-en-sestig jaar oud en ek het nie kinders van my eie nie. So as ek my man verloor, is ek op my eie. Ek het ook nie meer ‘n ma of pa nie en sal basies alleen wees.

Ek het dit regtig voor die Here bely en vir ure voor die Here gelê en huil oor my ongeloof en vrees en uiteindelik so huilend aan die slaap geraak. Toe ek die volgende oggend wakker word om op te staan, toe makeer die been niks en al die pyn was weg. Ek kon heeltemal normaal loop.

Ek was so oorstelp van vreugde en het natuurlik vir almal by die werk vertel wat ek gelees het en wat daarna gebeur het. Hulle was maar nog baie ongelowig maar ek het normaal geloop sonder pyn en dit was genoeg. Ek kon nog steeds nie mooi sien en hoor nie.

Die volgende dag (Woensdag oggend) by die werk kom ek agter dat ek toe ook normaal kon sien. Selfs my gehoor was toe ook reg. Van daardie dag af het als binne twee dae herstel en ek was weer gesond. Ek het intussen Sondag aand (15 Jan 2017) ook in my kerk getuig en almal wat gebid het was net so oorstelp.

Daar is soveel krag in jou artikels en boeke en ek is ‘n lewende getuie oor wat die openbaring daarvan vir my beteken het. Ek was sommer in trane toe ek besef, met jou vorige epos, dat dit as gevolg van jou artikel of boek was dat ek gesond geword het.

Ek kan nie wag om die boek oor Bloedlynvloeke te lees nie want my hele familie word afgemaai deur kanker. Al die vrouens as gevolg van borskanker en die mans ander kankers. My eie ma het ook borskanker gehad wat later oorgesit het in breinkanker en haar ma en suster is ook aan breinkanker oorlede. Dit sal baie insiggewend wees om te sien wat jy skryf hieroor, want ek glo natuurlik glad nie dat ek kanker sal kry nie. Ek kan nou regtig getuig van die krag in jou boeke. Ek wil hê jy moet weet jy doen iets wonderliks.

Groete

H. Greeff

Die geheim van haar sukses was die feit dat sy toegepas het wat sy gelees het. Die waarheid het tot haar deurgedring en dit het haar lewe varander. Lees vandag hierdie boek sommer gratis aanlyn en laat toe dat God ook jou lewe verander: Die waarheid omtrent siektes en ander ellendes

Nog ‘n boek wat van onskatbare waarde is, is die volgende: Bloedlynvloeke, ‘n vals leerstelling?

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment