Ons maai wat ons saai

Bestem om te heers! Selfs oor bloedlyn vloeke

ONS STRAF ONSSELF

Die vraag is: Behalwe vir siektes wat die mens oor homself bring, is daar nog ander ellendes wat die mens ook oor homself bring?

Definitief ja! Dit is nie nodig vir God om mense te straf nie want die mens bring soveel ellende oor homself dat straf geen doel sou dien nie. Straf was in elk geval vir God eintlik nog altyd die ewige dood en die ewige hel. Die oplegging van siekte as straf vroeg in die Ou Testament was net ‘n tydelike maatreël om sy natuur, sy wil en sy houding teenoor sonde bekend te maak. Dit was daar om die barbaarse Ou-Testamentiese volke te waarsku om in lyn te kom met God se wil en sy wette. Daarom het Hy vroeg in die Ou Testament reeds opgehou daarmee.

Daar is geestelike beginsels in plek wat sekere geestelike resultate tot gevolg het. In alle omstandighede in die lewe pluk ons maar net die vrugte van dit wat ons gesaai het. Kan ons dit as straf sien? Nee, jy steel ‘n motor, jy word gevang, jy gaan tronk toe. Dit is die gevolge van verkeerde of negatiewe dade. Dit is die resultaat van ‘n oortreding van ‘n landswet. Jy word deur die staat gestraf omdat jy ‘n kriminele oortreding gepleeg het. Net so is daar ook geestelike wette wat nie oortree mag word nie. Jy gaan maar net weer ‘n ketting reaksie aan die gang sit wat negatiewe gevolge gaan hê. Jy weier om iemand te vergewe vir iets wat hy of sy jou aangedoen het, jy raak verbitterd, jy kry nie vergifnis vir jou eie sondes nie en jy begin soos ‘n ongeredde persoon lewe. Allerhande siekte en ellende begin oor ‘n lang tydperk vanuit die geestelike terrein deurslaan na die fisiese gebied of fisiese terrein. Jy begin swaarkry onder dit wat jy self veroorsaak het. Is dit straf? Nee, jy maai wat jy gesaai het.

Om die wet van saai en maai te verduidelik wil ek ‘n paar Skrifgedeeltes behandel.

Die Skrif sê in Lukas 6:38 die volgende:

Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met die selfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

Hier sien ons ‘n baie belangrike geestelike wet in die koninkryk van God. As jy in die geloof “gee” skop hierdie wet in werking. As jy gee sal daar vir jou gegee word. As jy baie gee sal jy baie ontvang. Dit is hoe dit is. Onthou egter dat God se wette kondisies het: Jy kry wat jy glo. Glo en doen het positiewe resultate. Ongeloof het negatiewe resultate. Dit is hoe dit is.

Ons lees ook in Matt 7:12 die volgende:

Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete. (Dit is geskryf! – Dit is ‘n koninkryk beginsel of ‘n wet in die koninkryk van God)

Dit is Jesus aan die woord hier tydens die “berg predikasie”. Hy sê dat dit “die wet en die profete” is verwysend na die Ou Testament. Dit is dus ‘n geestelike beginsel in die koninkryk van God. As jy mense sleg behandel en nie vir hulle omgee nie gaan dit heel waarskynlik met jou ook gebeur. As jy mense verneuk en om elke hoek en draai verkul gaan dit heel waarskynlik met jou ook gebeur. Jy maai wat jy saai. Jesus het ook gesê: “Almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan”.

Matt 7:1-2

Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

Volgens Spreuke 18:21 bring die tong vir ons goeie of slegte resultate, soos ons reeds gesien het. Dit is egter nie nét die tong wat goeie en slegte resultate veroorsaak nie. Ons optrede doen dit ook. Elke verkeerde optrede bring negatiewe resultate. Gaan gee vir jou vriend of iemand in die straat ‘n klap en kyk wat gebeur. Elke goeie of regte optrede het positiewe resultate. Bewys barmhartigheid teenoor mense en kyk hoe goed word jy as ‘n resultaat daarvan behandel. Dit is ‘n geestelike wet. Daarom moet ons baie versigtig wees wat ons sê en ons moet versigtig wees wat ons doen. Dit het niks met straf te doen nie. Nee, God straf vandag niemand nie. Dit is óók ‘n geestelike wet: Omdat Christus die sonde van die wêreld weggeneem het deur die straf daarvoor op Hom te neem, het Hy betaal daarvoor. Ons het syne geword. Hy het ons gekoop met sy bloed. Ons behoort aan Hom. Gered of ongered. Baie mense dink dat ongeredde mense aan die duiwel behoort en geredde mense aan God. Dit is egter nie waar nie.

2 Pet 2:1 wys duidelik dat almal aan Christus behoort.

Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike kettery heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring.

Hierdie Skrifgedeelte bevestig dat selfs ongeredde mense gekoop is deur die bloed van Jesus. Ondanks die feit dat hulle eintlik aan Jesus Christus behoort, is hulle besig om in sonde te lewe. Hulle is nie geredde kinders van God nie. Wanneer hulle eendag afsterwe sonder Jesus dan gaan hulle finaal verlore vir Christus. Hoewel Hy hulle gekoop het verloor Hy hulle met hulle afsterwe.

Daarom kan Vader ons nie meer straf nie. Jesus het die roede uit Vader se hand gehaal en Vader was baie bly om die roede te kon neerlê. God is tevrede: Christus was die volmaakte Lam, Hy het Homself neergelê en die ewige straf vir ons gedra, alle sondes is gestraf en daarom lewe ons nou in die genade tyd van God.

In die Ou Testament, voor Jesus se kruisiging, het Vader die sondes van die regverdiges ongestraf laat bly want Hy het geweet Jesus sou die prys daarvoor betaal. In die Nuwe Testament, na Jesus se kruisiging, laat Vader die mense se sondes weer eens ongestraf omdat Hy weet dat Jesus reeds daarvoor betaal het. Wat bly dan nog oor? Net om diegene te straf wat Jesus Christus se bloed verwerp het. Wanneer? Wanneer hy sy laaste asem uitblaas want dan is die genade tydperk verby. Hoeveel ongeredde ou mense ken jy wat stokoud word en niks makeer nie. Hulle is nie siek nie en hulle is finansieel nie te sleg af nie. Dit terwyl goeie kinders van God baie keer baie sieklik is en moet raap en skraap om kop bo water te hou. Hoekom? Want dit het niks met straf te doen nie maar alles met dit wat ons sê en doen!

Daar is egter baie ongeredde mense wat skielik op ‘n dag net ervaar dat dinge in sy lewe erg verkeerd begin loop. Wat het fout gegaan? Een rede is dat hulle as ongeredde mense nie die wysheid van die woord of die leiding van die Heilige Gees het nie. Menslike wysheid kan ook net tot op ‘n punt sukses verseker. Baie keer begin hy skielik verkeerde besluite neem en begin dit sy tol eis. Dit het weer eens niks met straf te doen nie. Hy saai maar net wat hy gemaai het. Hy het die wysheid van God verwerp en nou kry hy swaar as gevolg van hierdie verkeerde besluite.

KAN GOD NIE VAN HIERDIE NEGATIEWE GOED WEGKEER NIE? ONS LEWE TOG IN GENADE?

Wat julle op die aarde bind sal in die hemel gebonde wees. Wat julle op die aarde ontbind sal in die hemel ontbonde wees”. Dit is die wet van delegasie.

Die wet van delegasie plaas die verantwoordelikheid op ons. “The ball is in our court”. As iets met ons verkeerd loop moet óns die blaam daarvoor dra. Ons kan nie vir God of vir die duiwel of vir ander mense beskuldig vir dit wat verkeerd loop in ons lewens nie. Alle negatiewe dinge in ons lewens moet voor ons eie deur gelê word. Jesus het die volle prys betaal en die mens volkome verlos. Alles wat jy van God verlang of wat jy nodig het, het Hy 2000 jaar gelede reeds vir jou gedoen. Hy kan niks meer vir jou doen nie, want Hy het reeds álles gedoen. God is dus nie meer aktief met betrekking tot jou verlossing nie. Hy het alles reeds volbring. Óns moet nou aktief wees deur hierdie verlossing op te neem en alle fasette daarvan deel van ons lewens te maak.

Ons hoor baie keer hoe Christene mekaar bemoedig deur die volgende tipe stellings te maak: “Moenie moed verloor nie my vriend. God sal jou uit hierdie gemors kry. Hy is nie dood nie en Hy is in beheer. Hy is aktief besig in jou lewe en Hy sal jou paaie gelyk maak. Wees jy net stil en kyk hoe Hy vir jou veg. Hy sal jou omstandighede verander”. Hierdie tipe stellings dien meesal net een doel en dit is om die mens op te beur of te bemoedig. Ek doen dit self ook wanneer ek met mense deel wat swaar kry. In die meeste gevalle is die werklikheid met betrekking tot baie situasies eintlik heeltemal anders: God ken die spesifieke persoon vir wie jy bemoedig. Hy weet dat dié persoon nie sy plek as koning en priester in die koninkryk van God ingeneem het nie. Hy weet dat die persoon nie die koninkryk beginsels uitvoer of daarin glo nie. Hy weet dat die persoon self eintlik in beheer is en nie Hy nie. Hy is eintlik glad nie besig in hierdie persoon se lewe om sy probleme op te los nie. God is eintlik glad nie meer aktief met betrekking tot ons verlossing nie. Alles is klaar gedoen. God wag vir ons. Ons moet net uitstap in geloof en in hierdie voorsiening “intap” deur dit deel van ons lewens te maak. Ons doen dit deur gehoorsaamheid en ons doen dit in die geloof. Óns moet dit doen!

God het klaar gewerk. Sy kant is skoon. Dit is elke mens se werk om Jesus so gou as moontlik aan te neem as sy Verlosser, sy woord te leer, sy koninkryk beginsels te leer, en gehoorsaam alles te doen wat Hy van ons verlang. Dit is óns werk. As ons dit nie doen nie gaan ons spykers optel. Ons gaan negatiewe dinge ervaar. Ons gaan beroof word en ons gaan aan siektes doodgaan. Negatiewe dinge gaan beslis met ons gebeur omdat ons nie heers oor ons omstandighede nie.

God staan en toekyk en Hy is daar in ons midde om ons kragtig te ondersteun terwyl al hierdie negatiewe goed met ons gebeur. Dit is vir Hom glad nie lekker dat dit met ons gebeur nie. Ons vra hoekom laat Hy dit toe? Waar was Hy toe dit gebeur het? Nee, ons vra die verkeerde vrae want dit wat gebeur het moes jy as mens voorkom het deur sy koninkryk beginsels in jou lewe toe te pas volgens sy woord. Hy kan vir jou niks meer doen as wat Hy reeds gedoen het nie. Hy het alles gedoen. Al sy seëninge, beskerming, voorsiening, genesing en verlossing is alles joune. Dit is tot jou beskikking elke dag van jou lewe. Sy beloftes is ja en amen tot verheerliking van sy Naam. Hy word in ons verheerlik wanneer ons in oorwinning lewe. Jy kan oorwinning hê in elke area van jou lewe tot in ewigheid. Daar is geen “maars” nie. Ons moet net in geloof in sy voorsiening in tap en dan vloei dit deur na ons toe.

Moes ek keer dat ek verkrag word? Beslis ja! Hoe? Deur in geloof Psalm 91 deel van jou lewe te maak. Dit maak dit onmoontlik vir ‘n verkragter om jou te verkrag. Hoekom? Want daar is ‘n geestelike wet in plek wat sê dat as iemand God vertrou vir Goddelike beskerming, dan sal God sy engele bevel gee om so ‘n persoon te beskerm sodat hy nie eens sy voet of sy toon sal stamp teen ‘n klip nie. Psalm 91 sê Omdat hy my lief het, daarom… Omdat hy My sy beskutting gemaak het, daarom….

Mense verstaan dit nie so nie. Hulle besef nie dat God se woord letterlik die waarheid is nie. Daarom pas hulle die woord nie in geloof toe in hulle lewens nie. As ons dit nie in geloof toepas in ons lewens nie, vir watter rede ook al, dan laat ons eintlik al hierdie dinge toe. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. Sonder geloof kan God se beloftes nie ‘n realiteit in ons lewens word nie.

Hy het die heerskappy aan ons teruggegee toe Hy die duiwel oorwin het. Sy outoriteit is aan ons gedelegeer. Om dit te illustreer wil ek u van ‘n voorval in Kenneth Hagin sr. se lewe vertel:

Onse Here Jesus het ‘n paar keer aan hom verskyn toe hy nog geleef het. Jesus het eenkeer aan hom verskyn in die kombuis van een van sy kollegas. Hulle was besig om te bid om die kombuistafel toe hy skielik bewus geword het van ‘n wolk van heerlikheid wat hom omsluit het. Alle ander goed om hom het vervaag en hy kon die mense om hom nie meer sien of hoor nie.

Hy was net bewus van Jesus wat voor hom gestaan het. Jesus het hom begin leer hoe demoniese aktiwiteite werk en hoe ons as kinders van God oorwinning en outoriteit oor hulle moet neem. Kenneth het begin notas neem van Jesus se lering. Toe het daar ‘n snaakse ding gebeur. ‘n Demoon wat soos ‘n bobbejaan lyk het skielik tussen hom en Jesus inbeweeg. Hy het na Kenneth gekyk en aanhoudend die woorde “Ya-ke-te-yak” gesê. Intussen het daar ook ‘n donker wolk om hulle (Kenneth en die demoon) begin vorm en hy kon Jesus later nie meer sien nie. Hy kon wel nog vir Jesus hoor praat maar kon nie uitmaak wat Hy sê terwyl die demoon aangehou het om “Ya-ke-te-yak” te sê nie. Kenneth het ongeduldig begin word en gewonder hoekom Jesus niks daaraan doen nie. “Kan Hy nie sien wat gebeur nie?” het hy gedink. Deurentyd het hy net die onverstaanbare gedreun van Jesus se stem in die agtergrond gehoor. Kenneth kon dit nie meer vat nie en hy het ongeduldig vir die demoon, in die naam van Jesus, beveel om op te hou.

“In Jesus’ Name, stop that!” het hy geuiter. Die demoon het onmiddellik teen die grond geval en verskrik gelê en bewe. Die donker wolk was weg en hy kon Jesus weer voor hom sien staan en hoor wat Hy sê. Kenneth sê Jesus se volgende woorde was vir hom ‘n baie groot openbaring en ek moet erken, vir my ook: “Jy weet natuurlik dat as jy hom nie gestop het nie, Ek niks daaraan kon doen nie”.

Jesus het voortgegaan en vir Kenneth die mag van delegasie verduidelik. Dit kom daarop neer dat Jesus die aarde onder die mens se heerskappy geplaas het. Hy het sý mag en outoriteit aan ons (die kerk en sy kinders) gedelegeer en ons is in beheer. Wat ons op aarde bind, sal in die hemel gebonde wees. Wat ons op aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. Dit is hoe dit is. Dit beteken nie Jesus het nie krag op aarde nie. Nee, dit beteken God kan net optree volgens die outoriteit wat ons toepas in ons lewens en die outoriteit wat ons toepas hier op aarde. God het ons teruggegee wat Adam verloor het.

Daar is net een manier hoe ons oorwinning in ons lewens op elke gebied kan verseker: Heers nóú en hiér op aarde in die Naam van Jesus Christus. Hoe? Deur die woord van God te leer, jou eie te maak en daarvolgens te lewe. Deur in die geloof te lewe. Daar is niks en niemand anders wat dit vir jou kan doen nie. Die pastoor of die dominee kan dit nie vir jou doen nie. Die kerk kan dit nie vir jou doen nie. Dit is net in jóú mag om jou eie lewe ‘n sukses in die koninkryk van God te maak. Niemand anders kan vir jou ‘n suksesvolle lewe gee of dit vir jou verseker nie.

Daarom dat Dawid in Psalm 25:10-14 hierdie stellings maak aangaande die onderwysing van God:

Al die paaie van die Here is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse bewaar. Wie tog is die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies. Hy self sal vernag in die goeie, en sy nageslag sal die land besit. Die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.

Hier sien ons dat die regverdiges God se woord bewaar. Ons sien dat die Here hulle leer wat hulle moet kies. Hy wys hulle die pad wat hulle moet loop. Omdat hulle reg kies vernag hulle altyd in die goeie. Hulle besluite het positiewe gevolge. Hulle los ‘n erfdeel vir hulle kinders. Die Here se verborgenhede en sy wysheid is tot hulle beskikking en Hy belowe om dit aan hulle te openbaar. Daarom gaan dit goed met hulle.

As jy die woord van God ken en dit doen, dan gaan dit goed met jou. Dit help nie om “alles in die hande van die Here” te los nie. Dit klink vreeslik geestelik maar in werklikheid is dit ‘n gesegde van babatjies in die Here. Kinders van God wat nie hulle plek van outoriteit in die koninkryk van God ingeneem het nie “los alles in sy hande”. Dit werk egter nie so nie. Daar is nie ‘n geestelike beginsel in die koninkryk van God wat sê, “Los alles in die hande van die Here”, nie. Daarom gebeur daar niks nie. Ons kan nie vir altyd met lepeltjies gevoer word nie. Nee ons moet kom tot volwassenes in Christus. Dit is wat God van ons verlang.

WAT VAN NASIES EN VOLKE IN DIE KONINKRYK VAN GOD?

Wanneer ‘n hele nasie hulle tot God bekeer dan gaan dit baie goed met so ‘n nasie. Dieselfde geestelike wette vir mense tree nou vir die hele volk in werking. Die hele volk leef deur geloof. As ‘n volk maak hulle die woord van God deel van hulle. As ‘n volk neem hulle die beloftes van die Bybel en eis dit op as hulle erfporsie. As volk neem hulle dit in besit.

Die mense word as ‘n nasie geseën. Omdat die hele nasie die koninkryk beginsels van God toepas heers hulle as nasie in die wil van God. Hulle begin outoriteit neem oor situasies in die land en hulle begin die land volgens die koninkryk beginsels van God regeer. Dieselfde koninkryk beginsels wat God in sy koninkryk ingestel het word nou ook deur die volk in die land ingestel. Daar is geen verskil tussen so ‘n volk en die koninkryk van God nie. Die koninkryk van God het in werklikheid in so ‘n nasie op die fisiese terrein gemanifesteer.

Voorspoed en vrede is hulle voorland. Net soos die mens begin die land maai dit wat hulle gesaai het. Wanneer daar aanslae en leuens op hulle as volk geloods word dan neem hulle outoriteit oor hierdie aanslae. Wanneer droogtes of ander rampe dreig dan neem hulle as nasie outoriteit oor die situasie en hulle onderwerp daardie toestand aan die woord van God.

As volk pas hulle in ‘n eenheid Mark 11:23 toe deur hierdie toestande aan te spreek en te beveel om op te klaar. Hulle beveel reën om te val. Hulle beveel droogte toestande om op te klaar. Hulle onderwerp hulle land aan Gods woord en hulle heers daaroor.

Hulle vrees geen ander nasie nie. Hulle maak nie staat op ‘n weermag of op enigander krag wat hulle as volk het nie. Hetsy ekonomiese mag of enige ander mag wat tot hulle beskikking is nie. Hulle verwerp hierdie tipe vermoëns en maak net op God staat vir voorspoed, vooruitgang, beskerming en instandhouding. Hulle weet dat die God wat hulle dien by magte is om hulle op ‘n bonatuurlike manier te beskerm, in stand te hou en voorspoedig te maak.

Is daar sulke volke? Nog nie. Ek “profeteer” egter vandag dat die wêreld op die punt staan om tot outoriteit oor te gaan. Nie net die mens nie maar ook volke gaan outoriteit neem oor hulle omstandighede en ook oor die land wat aan hulle behoort. Dit gaan definitief nie oornag gebeur nie maar al meer mense en al meer nasies gaan hulle tot God bekeer en leer om in God se koninkryk te heers. Dit is wat God vir die mens en vir nasies in stoor het. Ek weet baie mense skilder ‘n baie donker toekoms vir nasies en vir mense. Ek weet ook as ons na omstandighede rondom ons kyk dan lyk dit glad nie of ons ooit gaan heers nie. Dit is egter ‘n leuen uit die hel uit. Dit is nie die waarheid nie.

Ons is konings en priesters in die koninkryk van God. Ons is verordineer om in sy koninkryk te heers. Ons moet alles in die natuurlike wêreld onderwerp aan die geestelike koninkryk van God en oor die handewerk van God heers. Ons moet die verlossingswerk van Christus voortsit in hierdie koninkryk. Ons moet sy koninkryk uitbrei en die koninkryk van die duisternis verdryf totdat die heerlikheid van God die aarde vul. Die kerk is die lig wat duisternis verdryf omdat die lig van Jesus in ons skyn. Jesus sit sy verlossingswerk in ons voort. Hy verlos deur ons, Hy red deur ons, Hy genees deur ons, Hy maak vry deur ons. Ons moet sy koninkryk beginsels leer en uitvoer.

God het vir Adam en Eva en hulle nageslag ‘n opdrag gegee. In my eie woorde is dit om te “gaan en oor sy skepping te heers”. Onderwerp die aarde en heers daaroor. Ons weet dat Adam en Eva en die mens liederlik misluk het. Nie net het hulle dit nie gedoen nie maar hulle het die heerskappy aan die bose oorgegee. Jesus Christus het egter die heerskappy vir ons teruggegee. Psalm 24:1 – Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon. Hy het ons weer eens die opdrag gegee om oor die skepping te heers as konings en priesters in sy koninkryk. God het alles aan Christus onderwerp. Christus het hierdie outoriteit aan ons, sy kinders en sy kerk gedelegeer. Ons gaan nie weer soos Adam en Eva misluk nie. Die Bybel voorspel baie duidelik dat die koninkryk van God die hele aarde gaan vul.

In die droom van Nebukadnésar het ons gesien dat die koninkryk van God sonder die toedoen van ’n mensehand uit die Hemel afgekom het, alle ander koninkryke vernietig het en groter en groter geword het totdat dit die hele aarde gevul het. Kyk ’n bietjie wat sê Dan 2:44 en vers 35:

Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aanmaak, maar self sal dit vir ewig bestaan.

…maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.

Dit is nóú God se doel en sy plan vir ons. Hy wil nóú die aarde ín ons vul. Hy het ons nóú nodig om hierdie profesie in totale vervulling te bring. Ja, daardie fisiese koninkryke waarna die boek Daniël verwys is reeds verslaan (Babilonië, Medië, Persië, Griekse ryk en die Romeinse ryk). Hulle was egter ook ’n tipe van die koninkryk van duisternis wat ook verslaan is maar die fisiese realisering daarvan in die natuurlike wêreld moet deur die kerk teweeggebring word. Daarvoor het hy volwasse seuns van God nodig. Babatjies en kindertjies kan dit nie volbring nie. Diensknegte kan dit nie volbring nie. Paulus het pertinent genoem dat die hele skepping met reikhalsende verlange wag vir die openbaarmaking van die seuns van God (Rom 8:19).

Die woordjie “kinders” van God in die oorspronklike Grieks in hierdie vers is “uióς” (uitspraak “hwee-os”) wat eintlik volwasse “seuns” van God beteken en nie “kinders” nie. Die oorwinning wat die Seun in die gees wêreld behaal het, moet nou deur die seuns in die natuurlike wêreld materialiseer. Ons moet kom tot die volle gestalte van Christus om hierdie taak te volbring. Daar kom ’n dag wanneer die natuurlike wêreld in die koninkryk van God opgeneem gaan word. Daar kom ’n dag wanneer nie net lokale munisipaliteite nie maar staats regerings bloed gewaste kinders van God gaan wees en die wêreld volgens God se koninkryk beginsels regeer gaan word. God se koninkryk moet heers in hierdie wêreld. Dit is wat die boek Daniël voorspel. Jesus Christus gaan die hele wêreld IN en DEUR die seuns van God regeer voor Hy weer kom.

Die duiwel probeer egter met alles wat hy kan vir ons ‘n ander prentjie skets. Sy prentjie is ‘n prentjie van ellende, verdoemenis, donkerte en wanhoop vir die aarde. Kyk wat skryf Johan Malan hieroor:

Die ganse skepping van God is ‘n teiken vir Satan se vernietigingswerk. Hy wil die aarde en sy natuurlike hulpbronne só besoedel, verbrand en verwoes dat die wêreld onleefbaar raak en in ‘n barre planeet omskep word. Dit is opmerklik dat dit net lande en beskawings met Bybelse norme is wat die aarde en sy hulpbronne op ‘n verantwoordelike wyse bewerk, bewaar en veredel. Hoe meer beheer Satan oor ‘n volk en sy kultuur kry, des te meer verblind hy mense se sinne, stomp hulle verantwoordelikheidsgevoel en sin vir waardes af, maak van hulle hebsugtige mense wat op ‘n gevoellose en gewetenlose wyse die natuur verwoes om hulleself te kan bevoordeel. Bome word afgekap sonder om dit te vervang, weivelde word oorbenut en verwoes, erosie word geskep en ongehinderd laat voortduur, land- en seediere word uitgewis sonder om aan hulle ‘n herstel- en oorlewing kans te gun, die water en lug word só besoedel deur vullis en fabrieksafval dat dit soms lewensgevaarlik vir mense én diere word. Dit is Satan se duidelike agenda om hierdie aarde wat die Here vir bewoning en bewerking aan die mens gegee het, onbewoonbaar moet word.

– Johan Malan

Wat is dan die uiteinde van die wêreld as die duiwel suksesvol in sy planne is? Dan is hierdie aarde wat Johan hier skets nie onderwerp aan die mens nie en die kerk heers nie daaroor nie. Die duiwel het dit verwoes en God is genoodsaak om sy kerk te kom haal. Daar is dan selfs vir God geen ander keuse nie. Die aarde het onbewoonbaar geword vir die mens. Die mens kon die aarde nie suksesvol onderwerp nie en kon nie suksesvol daaroor heers nie. God is dus genoodsaak om in te gryp om die mens te red van totale uitwissing. Adam en Eva het misluk en nou het die kerk ook misluk.

Jy mag ook dalk vra wat van die boek Openbaring en al die eindtyd profesieë wat eintlik ook ‘n ander prentjie skilder soos hierdie een hierbo. My antwoord: Openbaring skilder nié ‘n prentjie van mislukking nie. Ons verstaan die boek net ‘n bietjie verkeerd. Ja, dit is die plan van die duiwel om die aarde te vernietig maar die woord is baie duidelik daaroor dat dit nie gaan gebeur nie. Ek is besig om ‘n boek te skryf hieroor en wil dit daarom nie in hierdie boek behandel nie. Ek wil egter graag net die volgende met betrekking tot hierdie onderwerp sê:

Die duiwel het die eindtyd gebeure en eindtyd leerstellings “ge-hijack”. Hy gebruik dit saam met al die ander demoniese aanslae op die mens soos Vrymesselary, Satanisme, New Age, die Illuminati sekte, Budisme, Spiritualisme, Islam, die Ortodokse Katolieke kerk, Church of Scientology en nog baie ander vals godsdienstige bewegings, demoniese bewegings, demoniese organisasies en demoniese strategieë om ‘n baie donker prentjie te skilder. Die boodskap wat baie duidelik “uitgesaai” word is dat demoniese organisasies soos die “Illuminati” sekte die wêreld beheer en dat dit nog erger sal gaan. Die bose gaan totaal oorneem. Die kinders van God of die kerk sal dus nie die aarde onderwerp of die wêreld regeer nie. Inteendeel, die bose gaan dit doen. Die kerk gaan nie die bose kan verdryf nie. Wanneer die duiwel daarin geslaag het om alles in duie te laat stort en die aarde onbewoonbaar gemaak het, dan gaan God genoodsaak wees om in te gryp. Mense, hierdie donker prentjie wat vir ons geskilder word is nie die waarheid nie.

My raad aan almal is om eers die eindtyd gebeure te vergeet en te fokus op heerskappy in die koninkryk van God. Eers wanneer die seuns van God die aarde onderwerp het en die koninkryk van God die aarde vul, eers dan kan Jesus weer kom. Myns insiens gaan dit nog redelik lank vat voor Jesus weer kom. Daar is nog baie werk wat gedoen moet word.

Ja die aarde is nog nie aan die mens onderwerp nie. Ja, demoniese organisasies beheer tans die wêreld. Ja, dit lyk maar donker vorentoe. Op hierdie oomblik is dit seker alles die waarheid maar net omdat die kerk nog nie in oorwinning gekom het nie. Al die demoniese propaganda rondom al hierdie goed is daar om die kerk in kettings te hou. Dit is daar om die kerk lam te lê. Die duiwel keer met alle mag dat die kerk nie in oorwinning kom nie.

Almal maak net gereed vir Jesus se koms en almal maak net seker dat hulle saligheid en die van hulle vriende en familie verseker is. Daarmee klaar wag hulle nog net vir Jesus om te kom om hulle uit hierdie vreeslike plek te kom red. Dit is dan ook die duiwel se plan met die “donker” eindtyd leerstelling. Daarmee het hy die grootste deel van die kerk heeltemal op ‘n dwaalspoor. Die institusionele kerk is heeltemal ontspoor, ook wat eindtyd oortuigings betref. Hierdie dwaling veroorsaak dat kinders van die Here glad nie in oorwinning kan kom nie. Hoe kan jy oorwin as alles daarop dui dat ons gaan verloor? Die kerk wil net gou seker maak dat almal tot bekering kom en dit is omtrent die enigste motief of visie wat nagejaag word. Dit is amper al wat oorgebly het. Die kerk is in ‘n wedloop met tyd om net gou ‘n laaste evangelisasie uitreiking te loods voor die ellende die aarde tref. Werklike heiligmaking, geestelike groei en heerskappy in die koninkryk van God het ‘n laagtepunt bereik in die meeste kerke en kinders van God se lewens.

Ek wil nie in hierdie boek oor eindtyd gebeure skryf nie maar het dit ooit by u opgekom dat die slag van Armageddon ook in ‘n wêreld kan afspeel wat in ‘n baie goeie toestand is?

Ons sê byvoorbeeld dat net ‘n paar hardnekkige nasies hulle nie tot God bekeer het nie. In die res van die wêreld gaan dit baie goed. Die kerk is in oorwinning en die koninkryk van God floreer. Daar is vooruitgang en voorspoed op alle vlakke van die samelewing. Satan het die onderspit gedelf en dit gaan glad nie goed met sy planne om die aarde te vernietig nie. Inteendeel, net die teenoorgestelde het gebeur. Die kinders van God heers oor die skepping van God. Die duisternis is verdryf. Hy probeer as ‘n laaste poging om die hardnekkige nasies, die Gog en die Magog uit die vier hoeke van die aarde op te sweep om teen Jerusalem op te trek. Hulle omsingel die geliefde stad maar skielik daal vuur van God uit die hemel neer en verslind die hele spul en alles is verby.

Ek sê nie dat dit presies so gaan gebeur nie maar dit is baie moontlik. My pleit by u is net om eers van die eindtyd profesieë en verwagtinge te vergeet. Ons het werk om te doen. Daar moet nog baie water in die see loop. Ons is bestem om te heers te midde van hierdie ongewenste toestande wat ons elke dag aanskou. Ons is bestem om dit te onderwerp. As God in alle haas moet afkom om ons uit hierdie haglike toestande te kom red en ons vyande te verslaan, en dan vir ons sê: “Heers nou my kinders”, waaroor gaan ons dan nou eintlik heers? Ons kon nie die bose en die wêreld oorwin en daaroor heers nie maar nou moet ons oor “volmaakte toestande” heers.

Dit is net so goed ek haal my sukkelende 30 jarige seun agter ‘n motor se stuurwiel uit en sit hom in ‘n speelparkie agter die stuurwiel van ‘n motor sonder wiele. “Maak broem-broem met jou mond en maak of jy ry my seun”. Dit sou ‘n baie droewige dag in die geskiedenis van die kerk gewees het as dit waar sou wees. Nie net ons nie maar ook God sou ‘n bitter smaak in die mond gehad het elke keer wanneer ons daaraan terug dink.

Daar is egter baie goeie nuus mense! Dit is nié hoe die aarde tot sy einde gaan kom nie. Die kerk gaan oorwin en ons gaan die aarde onderwerp en daaroor regeer. Hou die Suid-Afrikaanse huiskerke webwerf dop vir my nuwe boek wat hierdie heuglike gebeure breedvoerig behandel.

Nee, ons kan nie ongunstige toestande, siekte en gebeurtenisse voor die deur van God, die duiwel of ander mense sit nie. Ons kan dit ook nie voor ons oupas en oumas se deure gaan lê nie. Nee, Christus het reeds my oupa en my ouma se sondes gedra en reeds die prys daarvoor betaal. Ek sal nooit bloedlyn vloeke kan gebruik om myself te verontskuldig nie.

Die volgende belangrike aspekte rondom bloedlyn vloeke word deeglik in die boek bespreek en verduidelik hoe die koninkryk beginsels van God rondom hierdie onderwerpe funksioneer:

Wanneer mense na hulle voorouers kyk maak hulle persoonlike observasies wat hulle op ‘n dwaalspoor neem.

Mense weet nie hoekom hulle siek is nie en hulle verstaan nie die werklike oorsake van siekte, ellende en swaarkry nie.

Mense ken nie die Bybelse beginsels rondom die straf van God nie.

Mense ignoreer die Skrifgedeeltes waarin God dit duidelik uitspel dat geen mens ‘n ander mens se sondes kan of mag dra nie.

Mense verstaan nie die verlossingsdaad van Christus aan die kruis nie.

As jy meer wil weet oor hierdie onderwerp, kry sommer nou die boek, “Die waarheid omtrent bloedlynvloeke” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment