Negatiewe gevolge van die bloedlynvloeke verdigsel

BLOEDLYN VLOEKE NEEM ONS GEREGTIGHEID WEG

Ons is nou al besig met Deel 8 van die “Bloedlyn vloeke” studie reeks. Ek glo jy besef teen hierdie tyd al dat hierdie leerstelling in die hel gebore is. Hoekom? Want dit bring bindings in mense se lewens. In die koninkryk van God regeer ons vanuit ‘n posisie van geregtigheid. Dit is die basis van ons geloof. Volgens die boek van 1 Johannes is ons net so rein en net so geregtig soos Jesus Christus self. Sonder hierdie basis of hierdie fondasie kan ons nie in outoriteit regeer nie. Die vals “bloedlyn vloeke leerstelling” se hoofoogmerk is om kinders van God van hulle geregtigheid te stroop.

Kyk wat sê 1 Joh. 3:2-3 oor die reiniging van die bloed van Jesus:

Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.

Daar is nooit ‘n breukdeel van ‘n sekonde wat sy bloed jou nié reinig nie. Jy is altyd, dag en nag, deur alle omstandighede en beproewings heen, net so reinig soos Jesus self. Hier staan dit wit op swart in 1 Joh. 3:3; ons is altyd net so rein soos Jesus self omdat ons hierdie hoop op Hom het. Daar is geen verskil tussen die reinheid van Jesus en ons reinheid nie. Die Bybel sê ook Jesus is ons Hoëpriester wat elke dag vir ons intree by die Vader.

Jy het nog altyd net die wit gewaste kleed aan wat Hy vir jou aangetrek het toe jy Hom begin volg het. Jou vuil modder bevlekte klere is verbrand en jou sondes is so ver van jou verwyder as wat die Ooste en die Weste van mekaar af verwyder is. Ons trek nie soms ons wit klere uit en trek gou net weer ons ou vuil bloedbevlekte klere aan nie. Nee, ons sondes is weggeneem. Die Ooste en die Weste kan nooit bymekaar uitkom nie. Hoe verder jy Wes loop hoe verder ontwyk die Weste jou want Wes bly altyd Wes van jou al loop jy reg rondom die aarde. God dink nooit weer aan jou sondes nie omdat dit nie meer bestaan nie. In sy teenwoordigheid is ons altyd skoon en rein. Sjoe! Dit ís genade!

Dit is waarom 1 Joh. 3:6 en vers 9 sê dat kinders van God nie kán sondig nie. Hoekom nie? Want hulle is uit God gebore en die saad van God bly in ons:

Vers 6: Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien nie en Hom nie geken nie.

Vers 9: Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie want hy is uit God gebore.

Ook Johannes die doper het, toe hy die Messias aangewys het gesê: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneemOns is ín Hom en ín Hom is geen sonde nie. Daarom is daar ook geen sonde in ons nie, want ons is ín Hom. Kan jy al sien dat jy elke dag van jou lewe in en deur alle omstandighede heen, elke sekonde van elke dag net so rein, geregverdig, geregtig en sondeloos soos Jesus is. Presies dieselfde, daar is geen verskil nie. Hy het dit reggekry deur werklik sondeloos te lewe. Want dit was en is ín Hom. Ons kan dit net doen deur Hom, uit genade en in die geloof, aan te neem as ons Verlosser. Dit was nie en is nooit ín ons nie. Ons het Hom verewig nodig en daarom bly Hy altyd ons Hoëpriester.

Hierdie toestand van geregtig wees voor God is die fondament waarop ons staan wanneer ons ons erfporsie ontvang of opeis. Onthou ons is mede-erfgename saam met Christus. Wanneer ons begin heers in die koninkryk van God dan doen ons dit omdat ons in geregtigheid in Christus wandel en dit weet, ken en verstaan. Wanneer daar die kleinste of net effense twyfel oor ons geregtigheid is dan gee daardie fondasie onder ons pad. Dit vat ons outoriteit weg.

Die dame waarna ek in die boek (Die waarheid omtrent bloedlyn vloeke) verwys sê dat sy in die gesig wat sy gesien het net tot op ‘n sekere plek kon beweeg en moes toe vassteek. Sy sê daar was ‘n denkbeeldige lyn waaroor sy nie kon tree nie weens die sondes van haar voorouers wat tussen haar en God staan. Hierdie toestand vat onmiddelik jou geregtigheid weg en daarmee ook jou outoriteit. Jy kan nie vanuit hierdie posisie heers nie. Jy kan nie jou erfporsie ontvang of opeis nie. Daardie denkbeeldige lyn bind jou meer as wat jy dink.

Bloedlyn vloeke is georkestreer om jou onseker te hou. Dit is daar om jou altyd te laat wonder of alles OK is. Is daar nie tog nog iets wat my voorouers aangevang het wat tussen my en God staan nie? Is daar nie dalk nog ‘n sonde wat nie bely is nie? Die onsekerheid verlam jou eintlik. Jy kan nie oorgaan tot aksie nie want jy is onseker oor jou geloof stand in Christus. Staan jy rein en heilig in sy teenwoordigheid sonder enige veroordeling of is daar iets wat jou verhouding belemmer of skaad waarvan jy nie weet nie? In hierdie toestand is jy basies heeltemal geneutraliseer en kan God jou nie gebruik soos Hy graag wil nie. Die duiwel het jou skadeloos gestel. Hy het ‘n kortsluiting veroorsaak want jy funksioneer nie meer soos God dit bedoel het nie.

BLOEDLYN VLOEKE MAAK DIE DUIWEL EN SY GEVALLE ENGELE KRAGTIG

Dit kan jy maar weet. As jy aan bloedlyn vloeke glo dan is jy in ‘n hewige stryd betrokke met die duiwel. Eintlik is jy in ‘n oorlog betrokke teen hom. Die slagveld lyk gehawend na ‘n onderonsie met hom. Wanneer een nasie teen ‘n ander optrek in oorlog dan beteken dit hulle gaan dit uitspook of uitbaklei om te kyk of hulle mekaar tot oorgawe kan bring of dwing. Dink jy die duiwel het genoeg mag en krag om ‘n mens tot oorgawe te dwing?

Die duiwel glo hy kan jou wen want hy weet dat jy nie weet wie en wat jy in Christus is nie. Dit maak die speelveld meer gelyk. Hy kan nou ‘n hou inkry want jy glo dat hy kan. Hy kan jou siek maak en hy kan jou dood veroorsaak. Dit nogal terwyl jy eintlik onskuldig is. Jou oupa of ouma het iets gedoen lank voor jy gebore is en nou kan die duiwel jou siek maak as gevolg daarvan. As jy glo aan bloedlyn vloeke dan glo jy dat negatiewe toestande of kondisies, buite jou beheer, jou lewe kan beïnvloed. Hoekom sê ek “buite” jou beheer? Want sondes van voorouers is buite jou beheer. Om aan bloedlyn vloeke te glo maak jy eintlik vir die vyand ‘n deur oop. Jy stel jouself bloot. Jy aanvaar sommer maar hierdie leerstelling uit die hel en jy sal maar soos enige goeie kleinkind maar die gevolge vir jou oupa dra. As jy glo dat goed op jou geplaas kan word deur middel van vloeke dan kan dit. Dit is eenvoudig soos dit. Dit wat jy glo word ‘n werklikheid.

My oupagrootjie het kanker gehad, moes gewees het as straf oor iets wat hy aangevang het. Ek sal dit seker ook kry want God straf mos tot by die agterkleinkinders. Ja, maar ek kan natuurlik my oupa se sondes bely dan behoort God my mos nie te straf nie. Het jy seker gemaak jy bely al sy sondes? Jy moet niks vergeet nie. Maar dit is nie al nie, jy moet nog jou oumagrootjie, jou oupa, jou ouma, jou pa, jou ma en ook nog jou oupagrootjie en jou oumagrootjie en jou oupa en jou ouma aan jou ma se kant se sondes ook bely. Het jy hulle geken? Weet jy watse tipe sondes hulle gedoen het? Wat sê die Bybel? Hoe moet jy hierdie sondes bely? Mag jy sommer net so in die algemeen hulle sondes bely of moet jy spesifiek wees? Hoekom moet jy hulle sondes bely? Kon hulle dit nie self gedoen het nie? Moet jy nie sommer nou al ‘n lysie van al jou sondes maak en dit dan so met afsterwe vir al die kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gee nie? Jy sal dit dan mos sommer baie makliker vir almal maak nè. Wat sê die Bybel, hoekom hou God my aanspreeklik vir ander mense se sondes?

Net daar maak jy die deur oop vir die duiwel. Jou familie lewe onder bloedlyn vloeke omdat julle dit glo. Die kanse dat jy eendag aan kanker dood gaan het sopas met 50% geklim. Vir jou is bloedlyn vloeke ‘n werklikheid want dit is wat jy glo. Jy kry wat jy glo. Hierdie negatiewe gedagtes wat jy kry is nie jou eie gedagtes nie. Dit is vloeke wat die duiwel oor jou uitspreek. Waarop baseer hy hierdie vloeke? Wat gee hom wettige gronde om dit te doen? Natuurlik hierdie vals leerstelling: “Familie” vloeke of “bloedlyn” vloeke. Dit is sy fondasie. Omdat jy daaraan glo het jy dit ‘n wettige fondasie gemaak vir hom om te gebruik. Baie kinders van God twyfel oor bloedlyn vloeke. Hulle ken nie die woord nie en daarom kan hulle nie ‘n ingeligte besluit maak daaroor nie. Hulle begin dan bloedlyn vloeke breek net om veilig te wees en dit is net hier waar hulle die deur vir die duiwel oopmaak.

Iemand anders kan nie dood of lewe oor jou bring nie. Nie eens jou eie voorgeslagte nie! Solank jy nie met hulle (jou voorgeslagte) saamstem oor familie goed nie, want dan spreek jy dood oor jouself met jou eie tong. ‘n Mens spreek altyd uit wat jy glo. Dit het niks met vloeke of voorgeslagte te doen nie. Dit het alles met geloof te doen. As jy ‘n leuen glo sal die leuen vir jou waar word. Met jou eie tong bring jy óf dood óf lewe oor jouself omdat jy uitspreek wat jy glo.

Familie vloeke, al bestaan dit nie, as jy daaraan glo, sal oor jou kom omdat jy ’n leuen glo en die leuen oor jouself uitspreek. Dit is soos profesieë wat oor mense uitgespreek word. Ek weet van ‘n man wat ‘n profesie ontvang het oor sy lewe maar nie die kondisies daarvan uitgevoer het nie. Hy het selfs later in die profesie begin twyfel en die profesie het nooit waar geword nie. Hierdie is ‘n voorbeeld van ‘n ware profesie wat nooit waar geword het nie omdat ‘n geestelike kondisie, geloof, nie nagekom is nie. Net so weet ek van ‘n ander persoon wat ‘n valse profesie ontvang het, dit geglo het, en dit het ook so gebeur soos wat die valse profeet dit geprofeteer het. Dit was later as vals bevestig maar dit het nogtans waar geword omdat die betrokke persoon dit geglo en so oor homself uitgespreek het. Maak dit vir jou sin? As jy ‘n leuen glo, dan word daardie leuen waar in jou lewe.

Hierdie negatiewe toestand het ‘n langdurige of ‘n voortdurende impak op jou lewe. Negatiewe dinge gebeur met jou en jy word stadig maar seker in ‘n spiraal van jou eie onkunde afgedruk. Jy word siek, ongewenste voorvalle gebeur, jy ondervind dieselfde situasies as wat jy in jou ouerhuis ervaar het. Die lys gaan aan en aan. Dit gebeur nie alles oornag nie. Dit vind stadig maar seker plaas tot jy iewers skipbreuk ly. Die duiwel weet hoe om hierdie oorlogvoering te wen. Hy is nie haastig nie. Hy weet wat die uiteinde gaan wees. Indien jy jou nie bekeer van hierdie dwaalleer nie gáán dit jou uiteinde wees. Onthou: My volk gaan te gronde weens ‘n gebrek aan kennis.

Ons plaas bindings oor onsself en lewe soos iemand wat gebind is al bestaan die binding nie werklik nie.

Ons kry met sekere areas en aspekte van ons lewens nie deurbrake nie omdat ons onsself bind.

Ons maak in onkunde deure oop vir die bose.

Ons kry presies wat ons glo.

JOU LIEFDES VERHOUDING MET JESUS

Iewers in jou agterkop krap dit bietjie maar jy weet nie presies wat dit is nie. Jy kry daardie gevoel wanneer kinders van God praat van hierdie innige en diep LIEFDES VERHOUDING wat hulle met hulle hemelse Bruidegom ervaar. Jy sien hulle opgewondenheid en vreugde maar jy kan nie werklik met hulle identifiseer nie. Jy sal nie kan nie al wil jy. Diep binne jou maak twee dinge ‘n intieme LIEFDES VERHOUDING met Jesus Christus baie moeilik:

Die eerste is die onsekerheid wanneer jy gaan bid of met Hom praat. Is als OK of is daar ‘n skeiding tussen ons? Is daar maar steeds een of ander familie sonde tussen ons? Is daar nie nóg iets wat nog nie bely is nie?

Die tweede is hierdie vae gevoel dat God eintlik maar ‘n bietjie onregverdig is om jou voorouers se sondes teen jóú te hou. ‘n Mens vertrou nie onregverdige mense nie. Hoekom sal jy ‘n onregverdige God vertrou? Net omdat Hy God is? Nee wat, of Hy nou God is of nie; mense vertrou net iemand wat absoluut regverdig is. Hoe kan ons die woord van ‘n onregverdige God glo? Dié dat baie mense die Bybel lees en net helfte glo van wat hulle lees. Hulle het net nie die vertroue in God nie as gevolg van wanpersepsie van wie en wat Hy eintlik is. Dit gaan nie net oor die bloedlyn vloeke leerstelling nie maar nog baie ander vals leerstellings wat kinders van God wantrouig maak in sy motiewe en sy wil. Hulle vertrou Hom nie! Dit is hoe dit is. Vanaf hierdie wankelrige fondasie is oorwinning en outoriteit nie regtig moontlik nie. Ons geregtigheid in God is absoluut noodsaaklik vir geestelike groei, geestelike oorwinning en geestelike outoriteit.

Ek hoop en vertrou dat hierdie gedeelte jou in ‘n posisie gesit het om die vals leerstelling van bloedlyn vloeke beter te verstaan. Ek weet baie van die stellings is baie vreemd op die oor maar dit word in die woord van God gestaaf en is beslis Skriftuurlik. Ons was so lank deur vals stellings rondom hierdie onderwerp gebombardeer wat dit moeiliker maak om aan te pas. Ons moet dit egter doen. Doen dit biddende en vra die Heilige Gees om jou te help daarmee. Die waarheid sal vir jou deurbreek en jy sal vrygemaak word. Dit is ‘n belofte van God en dit is ‘n koninkryk beginsel. Dit is ‘n wet van God. En onthou, al God se wette en al sy koninkryk beginsels is ten alle tye “foolproof”. Dit is gewaarborg. Die aarde sal verbygaan maar sy woord sal vasstaan tot in ewigheid!

KRY JOU SIEL IN ORDE

Willemien daar van Bothaville is baie lief vir hierdie stelling. Ek hou ook daarvan want dit klop met dit wat ons in die Bybel lees. “Kry jou siel in orde” is presies wat die Bybel vir ons sê ons moet doen. Kom ons kyk net vinnig na die volgende Skrifgedeeltes:

Gal 5:17

want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

1 Pet 2:11

Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon

Rom 7:23

maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.

1 Thess 5:23

En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

1 Tim 4:16

Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.

Jak 1:21

Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.

Uit bogenoemde Skrifgedeeltes is dit baie duidelik dat ons ons siel moet onderwerp aan die Gees van God. Ons kan nie doen wat ons wil nie. Al ons vleeslike begeertes is in ‘n stryd teen die siel. Hoekom die siel en nie die gees nie? Want net die siel is blootgestel teen die aanloklike temptasie van vleeslike begeertes. Ons siel is die swak plek in ons mondering. Die aanval van die bose is daarom op die siel gerig. Die duiwel gebruik ons vleeslike begeertes teen ons in die siel area van die mens want hy kan net hier suksesvol wees. Hierdie is ‘n stryd teen die Gees van God en dit vind dus in die siel plaas. Hierdie twee staan teenoor mekaar: die vlees en die Gees. Let op dat dit nie die gees van die mens is nie maar die Gees van God. Lees weer Gal 5:17. Ons het altyd gedink dit is die menslike gees wat teen die vlees staan maar in werklikheid is dit die Gees van God, wat in ons gees is, wat teen die vlees staan.

Ons gees word dus deur die Heilige Gees bygestaan met hierdie stryd. Die duiwel het nie ‘n kat se kans teen ons gees nie. Hy het nie toegang tot ons gees nie en hy weet dit. Hoekom kan hy nie suksesvol wees in die gees area van die geredde mens nie? Die mens se gees is altyd in absolute harmonie met God en wil altyd net doen wat God behaag. Die gees kan nie oorgehaal word om teenstrydig met die wil en die woord van God op te tree nie. Die gees van die mens kan daarom nie sondig nie. Jou gees behaag God ten alle tye. Hy wil nie sondig nie en kan nie sondig nie. Dit is waarom 1 Joh. 3:6 en vers 9 sê dat kinders van God nie kán sondig nie. Hoekom nie? Want hulle is uit God gebore en die saad van God bly in die gees.

Vers 6: Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien nie en Hom nie geken nie.

Vers 9: Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie want hy is uit God gebore.

Die Heilige Gees is in die gees van die mens. Wanneer ons Jesus begin volg tydens wedergeboorte dan ontvang ons die Heilige Gees in ons gees. Selfs wanneer ons in die Heilige Gees gedoop word dan is dit ons gees wat in die Heilige Gees gedoop word. Die siel en die liggaam is nie met hierdie geestelike ondervindings betrokke nie.

Die gees van die mens mag dalk nog, tydens wedergeboorte, onervare wees of ‘n geestelike babatjie wees maar die gees is in ‘n intieme verhouding met God en met die Heilige Gees. Daar is ‘n Goddelike eenheid tussen die gees en die Heilige Gees. Daarom kan die gees nie sondig nie.

Die probleem is ons vlees. Ons vlees is nie in harmonie met God nie en wil eintlik sondig. Dit word deur vleeslike begeertes gelei en die eie ek vier hoogty. Daar is ’n stryd tussen die vlees en die Heilige Gees wat saam met ons gees in ‘n eenheid teen die vlees staan. Daar is nie oorlog tussen die twee nie. Die twee druk ook nie arm om te kyk wie die sterkste is nie. Nee, die Heilige Gees en die gees probeer altyd om die vlees te oorreed om die regte ding te doen. Hulle redeneer met die vlees en wys hom op die negatiewe gevolge van ’n roekelose leefwyse. Hulle oorreed die vlees om homself vrywillig oor te gee aan die wil van God. Die vlees, in die lewe van ‘n Gees geleide kind van God, laat hom ook dan oorreed en kom so al meer in lyn met die wil van God. Hy begin verstaan en hy begin insien dat Godsweë die beste is. Aanvanklik, gewoonlik vir baie jare, slaag die siel nie altyd daarin om homself te onderwerp nie. Partykeer wil hy sy eie wil laat geskied en dan sondig die vlees. Dit is hierna wat Paulus verwys in Rom 7:15-20

Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie! Maar wat ek haat, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.

Paulus het dus die werklikheid van 1 Joh. 3:6 en 9 verstaan. Hy het geweet dat niks goeds in die vlees woon nie. Hy het geweet dat hy (gees) nie wil nie en ook nie kan sondig nie. Maar hy het ook geweet dat hy (vlees) wil sondig en kan sondig. Hoe is dit moontlik en hoe werk dit?

Hy wat uit God gebore is kan nie sondig nie omdat God nie kan sondig nie. Almal ín Jesus kan nie sondig nie omdat Jesus nie kan sondig nie. As jy die hele 1 Joh. 3 lees dan sê dit vir ons basies die volgende: Moenie mislei word nie. Hy wat dink dat hy nie sondig nie maak ‘n groot fout. Ons het almal gesondig. Maar moenie moedeloos wees nie. Hy wat Jesus volg (hom bekeer het) het sy hoop op Hom gesit en daarom reinig hy homself voortdurend, terwyl sy hoop op Jesus en Jesus alleen bly. Hy word geregverdig omdat hy glo en nie homself probeer regverdig nie.

Daarom is dit dan onmoontlik vir so ‘n persoon om te sondig. Die werklike jy (gees) kan nie sondig nie. Jy het ‘n siel wat wel kan sondig as hy nie homself vrywilliglik onderwerp nie. Die oomblik wat hy iets verkeerd doen (vlees), wat onder normale omstandighede sonde sou gewees het, word die daad in so ‘n persoon se lewe nie as sonde toegereken nie uit genade omdat hy Christus het, God se saad in hom is en hy in God glo. Hierdie verkeerde misstap is ín Jesus gedoen en daarom word dit nie as sonde gereken nie. In Jesus opereer genade en waar genade opereer is nie sonde nie. Gee dit ons ‘n vrypas om sonde te doen? Nee, stellig nie! Die vlees bly ons verantwoordelikheid. Dit is ons plig om die vlees sover te kry om homself te onderwerp aan die wil en die weë van God. Al word hierdie sonde ons nie toegereken nie bring dit steeds vir ons nou hier op aarde baie verdriet. Dit bedroef die Heilige Gees en dit bedroef ons gees. Dit is baie nadelig vir die mens. Dit affekteer ons gemoedstoestand en dit bring twyfel in ons harte. Dit kan ons outoriteit en oorwinnings posisie in Christus baie nadelig beïnvloed. As ons vlees nie onderworpe is nie is ons nog net so rein en heilig in Christus maar dit voel nie altyd vir ons so nie.

Al daardie verkeerde dade, word net soos die ou verkeerde dade, onmiddellik deur die bloed van Jesus weggeneem en daarom kan God nie eens aan ons nuwe sondes dink nie, wat staan nog die oues. Dit word gouer as die heel kleinste breukdeel van ‘n sekonde so ver as die Ooste van die Weste is, van ons verwyder. Inteendeel, dit word van ons verwyder terwyl ons dit doen. Daar is nie eens die kleinste breukdeel van ‘n sekonde ter sprake nie. In Jesus verdwyn sonde onmiddellik. Selfs die verkeerde dinge wat ons nog gáán doen word ook gereken reeds weggeneem te wees deur die bloed van Jesus want Hy het reeds ál ons sondes, tot die wat ons nog nie eens gedoen het nie, op die kruis vir ons gedra. Onthou ook dat dit nie jou gees is wat hierdie sonde gedoen het nie maar jou vlees of jou siel.

Dit is ook baie belangrik om te weet dat die bloed van Jesus nie sonde bedek soos die bloed van lammers in die Ou Testament gedoen het nie. Die bloed van Jesus neem sondes weg, daarom bestaan dit nie meer nie.

Vers 5: En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie.

Hierdie versie beklemtoon die feit dat Jesus ons sondes eens en vir altyd weggeneem het. Wanneer jy ín Hom sondig is dit weg terwyl jy dit doen. Ook Johannes die doper het, toe hy die Messias aangewys het gesê: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” Ons is ín Hom en ín Hom is geen sonde nie. Daarom is daar ook geen sonde in ons nie, want ons is ín Hom. Kan jy al sien dat jy elke dag van jou lewe in en deur alle omstandighede heen, elke sekonde van elke dag net so rein, geregverdig, geregtig en sondeloos soos Jesus is. Presies dieselfde, daar is geen verskil nie. Hy het dit reggekry deur werklik sondeloos te lewe. Want dit was en is ín Hom. Ons kan dit net doen deur Hom aan te neem as ons Verlosser. Dit was nie en is nooit ín ons nie. Vir ons kom geregtigheid net uit genade en net deur die geloof. Ons het Hom verewig nodig en daarom bly Hy altyd ons Hoëpriester.

Ons moet dit deur geloof en in genade ontvang, maar die eindresultaat is dieselfde. Ons is net so rein, net so Heilig, net so geregtig, net so regverdig en net so sondeloos soos Jesus self. Dit is hoe volkome sy verlossingswerk was en dit is hoe kragtig sy bloed is. Dit is presies hierdie wonderlike waarheid wat ons die reg gee om enige tyd, elke sekonde van elke dag, sonder enige skuldgevoelens van enige aard, die allerheiligste teenwoordigheid van God te kan instap en met Hom gemeenskap te hê. Dit maak ons altyd skoon en rein voor God. Dit is hoekom ons altyd, in sý teenwoordigheid, net liefde, aanvaarding, genade en vrede ervaar. Daar is nooit skuldgevoel as ons die troon kamer van God betree nie.

As ons die verlossing en saligmaking van die mens mooi verstaan dan sien ons dat hulle wat in die Gees wandel geen oordeel meer oor hulle het nie.

Rom 8:1

Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie maar na die Gees.

Die gevaar vir kinders van God is om na die vlees te wandel want dan gaan hy geen verskoning hê nie. As ons aspris verkeerde dinge doen dan wandel ons nie na die Gees nie en dan gaan ons eventueel die oordeel van God oor ons bring. Ons móét stry teen sonde. Ons moet ons siel onderwerp aan die wil van God. Ons móét heiligmaking na streef anders gaan ons geen verskoning hê wanneer ons tot sterwe kom nie. Kinders van God wat hierdie paadjie loop gaan uit die mond van God gespuug word en hulle gaan die ewige straf in die hel deelagtig word die oomblik dat hulle afsterwe. Hulle sal nie die oordeel van God kan ontglip nie al was hulle hul hele lewe lank kinders van God. Hierdie mense gaan sê dat hulle duiwels uitgedryf het en allerhande mooi goed vir God gedoen het maar Hy gaan sê dat Hy hulle nie ken nie.

Hoe verseker ‘n kind van God dat hy na die Gees wandel en nie na die vlees nie? Deur homself te vernuwe. Deur homself te onderwerp aan die wil van God. Wanneer die Bybel sê dat ons vernuwe moet word in ons gemoed dan sluit dit ‘n paar baie belangrike konsepte in:

  1. Eerstens moet ons ons gees voed met die onvervalste woord van God sodat ons gees kan ontwikkel en opgroei. ‘n Pas bekeerde kind van God is nog ‘n babatjie in Christus. Hoewel die gees dus alreeds in volkome harmonie met God is moet hy natuurlik nog steeds ontwikkel en opgroei. Daar vind voortdurende interaksie en kommunikasie tussen die gees van die mens en die Heilige Gees plaas waarvan die siel heeltemal onbewus is. Die gees word al hoe sterker en groter. Die gees neem toe in wysheid en grootte en in genade by God. Jou siel kan natuurlik hierdie proses erg in die wiele ry want jou siel moet ast’ware toestemming gee vir alles wat die gees en die Heilige Gees verlang. Dit is juis om hierdie rede dat baie kinders van God geestelik baie stadig groei of glad nie groei nie. Die siel dwarsboom dus die gees. Baie belangrik om te weet is dat jou gees op geen stadium sondig nie. Vanaf babatjie fase tot volwassenheid is die gees altyd volkome onderworpe aan die Heilige Gees en in absolute harmonie met die wil van God en Heilige Gees leiding.

  2. Tweedens moet ons ons siel onderwerp aan die woord van God. Dit is net die onvervalste woord van God wat ons siele kan red. Jou gees is klaar gered die oomblik toe hy uit God gebore is. Ons siele is nie gered nie. Dit is óns werk om ons siele te red deur dit te onderwerp aan die wil en die woord van God (daar is Skrif gedeeltes wat dit bewys). Hierdie redding proses is ‘n lang proses wat met sekere mense nooit ophou nie. Ander mense kry dit egter reg om eventueel gees, siel en liggaam ten alle tye aan God gehoorsaam te wees en aan sy wil onderworpe te wees. Daarmee sê ons nie dat so ‘n mens nooit faal nie. Ons sê eerder dat so ‘n mens baie min faal. Ons leef almal uit genade en ons kan nooit so volmaak soos Jesus wees nie. Net Hy kon leef sonder om te sondig.

  3. Ons moet dus Heiligmaking nastreef wat eintlik maar die onderwerping van die siel of die verlossing van die siel is.

Soos ons kan sien lê die groot werk in die siel area. As ons as kinders van God suksesvol wil heers as konings en priesters in die koninkryk van God, dan moet ons oorwinning kry in hierdie area van ons geestelike lewe.

As ons lewe soos ons wil en nie heiligmaking nastreef nie dan wag daar vir ons groot probleme. Kom ons kyk na ‘n paar versies hieroor:

1 Tim 4:16

Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.

Hoe kan die Bybel sê dat jy jouself sal red? Ek het dan gedink dit is Jesus wat ons red! Natuurlik word ons deur Jesus gered. Jou handeling en optrede is egter van kardinale belang wanneer dit kom by die redding van jou siel. Jy het ‘n verantwoordelikheid wanneer dit by jou siel kom. Jou gees is volmaak gered die dag toe jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser. Jy kan niks doen om dít te volbring nie. Dit is ‘n geskenk van God en ons hoef en kan niks doen om gered te word nie. “Not by works but by grace allone”. Tog is dit ‘n ander storie wanneer dit by ons siel kom.

Jak 1:21

Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.

Jakobus praat hier met gelowiges. Hy het hierdie brief aan die Joodse Christene geskryf. Hoewel hulle geredde kinders van God is sê hy tog hier dat die ingeplante woord in staat is om hulle siele te red. Hoe beter ons die woord ken en hoe meer ons ons siele aan daardie woord onderwerp, hoe meer word ons siel vrygemaak van die begeertes en die weë van die wêreld. Jy red jou siel dus uit hierdie wêreld uit deur heiligmaking.

Jak 2:14

Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?

Heiligmaking is ‘n opdrag. Dit is nie ‘n opsie of ‘n keuse nie maar van kardinale belang vir die mens. Sonder heiligmaking sal jy God nie sien nie. Hier sien ons dan ook dat daar werke móét wees in ‘n kind van God se lewe. Hierdie werke is weer eens op toepassing van die siel. Met die gees is daar geen werke ter sprake nie. Ons gees word uit geloof deur genade gered en ons kan niks doen om meer gered te wees as wat ons reeds is nie. Net die genade daad van Christus aan die kruis het hierdie verlossing volmaak vir eens en vir altyd volbring. Met die siel is dit egter ‘n ander storie. Hier is die werke van kardinale belang. Jak 2:14 sê uitdruklik dat so ‘n geloof, een sonder werke, ons tog nie sal kan red nie. Van watse “red” praat Jakobus hier? Hy praat van die redding van jou siel.

Heb 12:14

Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie

1 Thess 4:7

Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.

Ons moet volhard in ons geloof. Ons moet die woord gehoorsaam wees wat in staat is om ons siele te red. Ons moet gehoorsaam wees aan die wil van God. Ons moet dus in die Gees wandel as ons ons siele wil red. Jou gees is dalk gered maar as jy nie jou siel red deur jou siel aan die Heilige Gees te onderwerp nie gaan Hy jou uit sy mond spuug. Sonder heiligmaking (werke) sal jy God nie sien nie.

Hier het ons dan nou twee oënskynlike teenstrydige waarhede behandel:

Die een waarheid leer dat die kind van God wat na die Gees wandel geen sonde doen nie. Sy gees kan nie sondig nie en sy vlees (siel) is aan die Heilige Gees onderworpe. Vir so ‘n man is daar nooit enige veroordeling nie al faal hy soms.

Dan is daar die kind van God wat na die vlees wandel. Sy gees kan nie sondig nie maar omdat sy vlees (siel) nie aan die Heilige Gees onderworpe is nie, is so ‘n persoon ‘n louwarm Christen. Hy het nie sy siel gered deur heiligmaking na te streef nie. So ‘n kind van God is ‘n louwarm Christen en God gaan hom uit sy mond uit spuug.

Dit is hoe dit is.

HOE HANTEER DIE MENSLIKE GEES DIE ROEKELOSE SIEL

Ons kom nou by ‘n baie interessante deel van die interaksie tussen jou siel, jou gees en die Heilige Gees. Soos ons gesê het kán jou gees nie sondig nie. Hierdie feit word baie duidelik in 1 Joh 3 behandel. Dit is juis omdat jou gees nie kan sondig nie dat die Heilige Gees in jou gees woon. Jou gees kan nie sondig nie omdat die gees uit God gebore is. Almal wat uit God gebore is kan nie sondig nie. Jou gees stem ook nooit in om te sondig nie. Hy is altyd in harmonie met die wil en die woord van God. Jou gees onderwerp homself nóóit aan die vlees nie.

Wat presies gebeur dan wanneer ‘n mens sondig? Ons weet dat die Heilige Gees en die gees van die mens die siel probeer oorreed om nie te sondig nie. Die Heilige Gees probeer die vlees oortuig van sonde. Hy probeer die siel oorreed om heiligmaking na te streef. Die siel wil dit nie eintlik doen nie en daarom is daar ‘n tweestryd in die mens. Die vlees (siel) staan aan die een kant en die Heilige Gees saam met die gees staan aan die ander kant. Die Heilige Gees en die gees dwing egter nie die siel om gehoorsaam te wees nie. Hulle gaan nie oor tot geweld nie. Daar ontstaan nie ‘n “arm druk” kompetisie nie.

Hulle probeer die vlees oorreed om homself vrywilliglik te onderwerp aan die Heilige Gees. Hulle smeek ast’ware by die siel of hulle rig vertoë aan die siel om homself oor te gee en te onderwerp. Wanneer die siel hardkoppig is en weier om homself te onderwerp dan los die Heilige Gees en die gees van die mens hom maar om te doen wat hy wil doen. Die gees stem nie in om sonde te doen nie. Hy laat die vlees maar begaan om die spesifieke verkeerde ding te doen al bedroef dit die gees en al bedroef dit die Heilige Gees. Dit is waarom Paulus sê dat dit nie hy is wat die sonde doen nie maar die sonde in hom doen die sonde. (Rom 7:17 – Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon). Die gees van die mens is altyd bedroef wanneer die vlees (siel) verkeerde dinge doen. Hy stem nie saam daarmee nie en hy is nie deel van die sondige aktiwiteit wat volg op so ‘n nederlaag nie.

As ons egter in die Gees wandel dan beteken dit dat die vlees (siel) homself aan die Gees onderwerp het. Hy weet dat God goed is en dat sy wil reg is. Hy weet dat die weë van God gehoorsaam moet word. Dié siel wil nie meer met God stry nie. Hierdie siel wil God behaag. Hierdie siel wil gehoorsaam wees en al is dit moeilik wil hy heiligmaking nastreef. Hy onderwerp homself vrywilliglik aan die Gees van God en aan die gees van die mens. Dit gaan goed met so ‘n mens omdat daar harmonie in so ‘n mens se binneste is en in sy lewe is. Hierdie siel het stil geword.

Dit is wat ons nodig het as ons in die koninkryk van God wil regeer as konings. Dit is wat ons nodig het as ons oorwinnaars oor ons omstandighede wil wees.

WAT GEBEUR WANNEER ‘N GEES GELEIDE MENS FAAL?

Ons weet reeds wat met ‘n vleeslike kind van God word as hy hom nie bekeer van sy verkeerde weë nie. God spuug hom uit sy mond uit omdat hy ‘n louwarm Christen is. Daarom is dit so gevaarlik om ‘n vleeslike Christen te wees.

Wat gebeur met die Gees geleide kind van God wanneer hy faal? Omdat hierdie kind van God heiligmaking nastreef weet ons dat daar geen veroordeling vir Hom is nie omdat hy na die Gees wandel. Hy leef in genade en daarom kan ‘n misstap in ‘n oomblik van swakheid niks aan sy saligmaking doen nie en ook niks aan sy stand in Christus verander nie. Ons hoop is altyd op Christus en nie op ons eie vermoë of op ons eie werke nie. Ons lees daarvan in 1 Joh 3:2-3

Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.

Ons is altyd net so rein soos Jesus self omdat ons onsself voortdurend reinig deur ons hoop op Hom te plaas.

Hierdie aspek is van kardinale belang vir die kind van God:

Eerstens kan ons weer eens baie duidelik sien dat vloeke nie op ‘n kind van God van toepassing is nie. (Inteendeel, dit is nie eens op ongeredde mense van toepassing nie) Ons gees kan nie sondig nie, ons siele (vlees) is aan die Heilige Gees onderworpe, ons behaag God deur heiligmaking na te streef. Daar is dan nou geen veroordeling vir ons met betrekking tot onsself of ons eie verantwoordelikheid nie. Hoe kan ons nou nog vir ander mense se sondes waaroor ons geen beheer het, verantwoordelik gehou word? Ons hoef nie eens ons eie sonde te dra nie want Christus het ons sondes op die kruis gedra. Dan hoef ons nie eens vir ons eie sonde gestraf te word nie want Christus is in ons plek gestraf. Hoe en hoekom moet ons dan nou die sondes van ons voorouers dra? Hoe kan daar dan nog bloedlyn vloeke op ons wees? ‘n Vloek is deel van die straf. Christus is in ons plek gestraf. Hoe kan daar dan nog op ons straf gelê word wat eintlik op ons ongeredde voorouers gelê is toe hulle tot sterwe gekom het? Geredde voorouers het alle straf vrygespring omdat hulle Jesus Christus se verlossing aanvaar het. Hulle het nie nodig om enige sonde te dra of vir enige sonde gestraf te word nie. Hoekom nie? Want Jesus het dit gedra en Hy is daarvoor gestraf. Nou hoe kan ek en jy dit dan nog dra of daarvoor gestraf word?

Tweedens wil God hê dat ons bokant ons omstandighede moet uitstyg en as konings heers in sy koninkryk. Ons kan dit net doen as ons heiligmaking nastreef en ons siele onderwerp aan die Gees van God. Sonder heiligmaking kan jy nie geestelik opgroei tot ‘n volwasse Christen nie. Sonder heiligmaking kan jy nie in sy koninkryk heers nie.

DIE ROEKELOSE SIEL VEROORSAAK AARDSE VERDRIET EN ELLENDE

Die siel van die mens bring hartseer, pyn en verdriet. Hoewel die Gees vervulde en Gees geleide kind van God geen veroordeling hoef te smaak nie, gaan hy tog aardse verdriet ervaar wanneer hy God se koninkryk beginsels oortree.

Wanneer ons in die vlees saai sal ons in die vlees verderf maai:

Dit is hier waar Gal 6:7-8 dit so mooi bevestig:

Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.

Hoewel die Gees geleide mens geen probleem ten opsigte van sy saligheid het nie, kan hy vir homself ellende veroorsaak hier op aarde. Ons kan siekte en ongewenste omstandighede oor ons laat kom omdat ons siel nie tot gehoorsaamheid of tot oorgawe gekom het nie. Dit het niks met bloedlyn vloeke te doen nie en dit het niks met straf te doen nie. Dit het alles met die wet van saai en maai te doen. Elke onbesonne vleeslike daad het vleeslike of aardse gevolge. Wanneer ons heiligmaking nastreef en dit suksesvol najaag dan skakel ons verdriet en ellende uit. Dit is ‘n wet en ‘n beginsel van die koninkryk van God en dit werk altyd. Dit is waar die Skrifgedeelte in Psalm 23 in werking tree: “Nét goedheid en guns sal my volg, al die dae van my lewe”

HOE RED DIE INGEPLANTE WOORD DIE SIEL VAN DIE MENS?

Die onvervalste woord van God is niks anders as die beloftes van God nie. Hierdie beloftes is ja en amen in Christus. Hierdie “ja” en “amen” is eintlik die “waarborg” van God dat sy koninkryk beginsels of sy wette altyd werk. Wanneer die mens in geloof staan dan kom hierdie wette altyd klokslag in werking. Daarom is dit “foolproof”. Hierdie woorde van God moet egter in jou hart vas gemessel word. Jy moet dit dag en nag mediteer totdat dit absoluut deel van jou hele wese word. Die oomblik wat dit vas gemessel word dan het dit “geloof” in jou geword. Dit is ‘n bietjie werk om te doen. Die geloof is uit die gehoor en die gehoor is deur die woord van God. Daar is nie kortpaadjies in die koninkryk van God nie. Ons moet ons kant ook bring. Ons is hier op aarde besig met baie belangrike goed. Die lewe moet ernstig opgeneem word. Dit is belangrik dat ons ons prioriteite regkry.

Wanneer hierdie woorde van God vas gemessel is in ons harte dan is dit die “ingeplante” woord van God. Dit help nie jy lees net die woord van God nie. Dit help nie jy ken net die woord van God nie. Jy kan dit jou hele lewe lank lees en jou hele lewe lank ken sonder dat dit ware Goddelike “geloof” in jou word. Wanneer jy egter hierdie woord in jou hart vasmessel deur MEDITASIE dan word dit die ingeplante woord van God en dan spring geloof in jou binneste op. Hierdie woord het dan “Rhema” geword in jou hart. Dit kan egter nie werklik gebeur as Christus nie in ‘n intieme verhouding met jou en ín jou lewe nie. Daardie liefdesverhouding is die vervoerband vir hierdie tipe geloof. ‘n Intieme liefdesverhouding met ons hemelse Bruidegom is ‘n vereiste. As die Persoon Jesus Christus in jou lewe as gevolg van ‘n liefdesverhouding dan spring geloof in jou op wanneer jy die Skrif mediteer. As “godsdiens” in jou lewe dan sukkel ons om geloof te ontvang. Hoekom? Want die liefde van Jesus dryf alle vrees na buite. Godsdiens is nog gebind deur vrees. Die liefde van Christus het nog nie volmaak geword in ‘n godsdienstige mens nie. Terwyl ons nog vrees kan ons nie in oorwinning kom nie.

Ons mediteer die Skrif maar allerhande vrese word voorgehou. Hierdie vrese blokkeer geloof. Liefde dryf egter die vrees na buite. Godsdiens kan Christus nooit vervang sonder om ons in die stof te laat byt nie. Die oomblik wanneer ons as Gees mense godsdienstig word dan sneuwel ons geloof. Geloof is gebou op Christus Jesus, die Persoon, wat in ‘n liefdesverhouding met ons wandel. Wanneer Hy ín ons lewe dan spring geloof in ons op. Die oomblik dat geloof in jou binneste opspring dan beweeg dit jou tot aksie. Dit maak die wêreldse verskil.

Ef 3:17 – 19

Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.

Ware geloof gaan dus oor tot aksie. Wanneer die mens oorgaan tot aksie dan begin hy die koninkryk beginsels toepas in sy lewe. Dit is dan wanneer ons begin heers oor ons omstandighede. Jou siel se behoeftes word nou eers waarlik vervul en jou gees juig saam met die siel. Jou gees sê nou vir die siel: “Sien jy nou, ek het jou gesê dat as jy jou aan die Gees van God en aan die wil van God onderwerp, dan wag daar ‘n lewe van oorvloed en ‘n lewe van oorwinning vir jou? Ek het jou gesê dat God goed is. Sien jy nou?”

Jou siel ervaar genesing. Jou siel ervaar voorspoed. Ook finansiële voorspoed. Jou siel ervaar die vervulling van die begeertes van jou hart want jou siel verlustig hom in die Here. Daar het oorwinning gekom. Jy het jou siel in orde gekry.

Die volgende belangrike aspekte rondom bloedlyn vloeke word deeglik in die boek, “Die waarheid omtrent bloedlyn vloeke” bespreek en verduidelik hoe die koninkryk beginsels van God rondom hierdie onderwerpe funksioneer:

Wanneer mense na hulle voorouers kyk maak hulle persoonlike observasies wat hulle op ‘n dwaalspoor neem.

Mense weet nie hoekom hulle siek is nie en hulle verstaan nie die werklike oorsake van siekte, ellende en swaarkry nie.

Mense ken nie die Bybelse beginsels rondom die straf van God nie.

Mense ignoreer die Skrifgedeeltes waarin God dit duidelik uitspel dat geen mens ‘n ander mens se sondes kan of mag dra nie.

Mense verstaan nie die verlossingsdaad van Christus aan die kruis nie.

As jy meer wil weet oor hierdie onderwerp, kry sommer nou die boek, “Die waarheid omtrent bloedlynvloeke” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment