Plaasmoorde Optogte Ongewenste Uitwerking?

Sowat ‘n week gelede het Suid-Afrikaners weer bymekaar gekom om teen plaasmoorde te protesteer. Weereens is daar van metodes gebruik gemaak wat sommige mense die wenkbroue laat lig het. Weereens is die doel en die onderliggende redes vir die optogte en die plaasmoorde veldtog bevraagteken. Hierby word die vraag ook met opregte kommer gevra, “Gaan plaasmoorde optogte en protesaksies nie dalk ongewenste resultate oplewer of veroorsaak nie?”

In vorige skrywes het ons baie duidelik gesien dat die plaasmoorde propaganda veldtog of bewusmaking veldtog geen water dra nie. Die werklike statistiek, wat deur AfriForum aanvaar en bevestig word, bewys die onnodigheid van so ‘n veldtog. Dit bewys dat geen volksmoord in Suid-Afrika plaasvind nie. In vergelyking met die res van die wêreld, en selfs met die meeste witmense elders in die wêreld, is witmense in werklikheid baie veiliger in ons land as wat ons dink. Lees alles omtrent hierdie skrywe hier: Plaasmoorde Statistieke In Perspektief

Tweedens het ons ‘n skrywe geplaas wat die eintlike rede agter die plaasmoorde veldtog openbaar. Lees alles omtrent hierdie skrywe hier: Werklike Rede Agter Plaasmoorde Veldtog?

Wat ek egter vandag onder u aandag wil bring is ‘n 8 minute lank oudio boodskap wat iemand onder my aandag gebring het. In hierdie boodskap lig die persoon, met baie diep insig, baie duidelik die gevare uit van hierdie veldtogte. Dit bevraagteken die effektiwiteit daarvan en dit waarsku teen die moontlike ongewenste gevolge. Hierdie boodskap is werklik uitstekend en ek kon nie anders as om dit te deel nie. Ek weet nie wie die persoon is nie maar die boodskap wat hy bring is baie insiggewend.

Myns insiens is die plaasmoorde veldtog wat so vurig deur AfriForum en die boere van ons land gedryf word ‘n tydbom wat enige tyd in hul gesigte kan ontplof. Hierdie boodskap beklemtoon dit. Luister sommer nou daarna op die skakel hier: Gevare Van Plaasmoorde Optogte 

Die skade wat die plaasmoorde veldtog aan ons land se mense aanrig word by die dag duideliker. Kyk maar na die selfoon boodskappe en die “Whats App” boodskappe wat daagliks die rondte doen. Dit wil voorkom asof ons mense die kluts kwytgeraak het. Daar word soveel paniek, vrees, histerie en onmin gesaai. As wit Suid-Afrikaners nie hulle houding en aksies rondom hierdie aspek gaan verander nie, gaan hulle beslis kry wat hulle gevrees het en ook waarvoor hulle gesoek het.

As Christene moet ons kyk waar ons vandaan kom en ons strategieë heroorweeg. Dit is asof die geskiedenis ons niks geleer het nie. Ons maak dieselfde foute oor en oor. Ons bly terugkeer na isolasie deur ons van die ander bevolkingsgroepe van ons land te distansieer.

In bogenoemde skrywe (Plaasmoorde Statistieke In Perspektief) het ons onteenseglik bewys dat misdaad in ons land nie op wit Suid-Afrikaners gerig is nie. Dit is eintlik op swartmense gerig. Dit sluit moorde in en dit sluit mishandeling in. Daar word tans ongeveer 169 witmense per jaar vermoor (waarvan die meeste in stedelike gebiede woon) teenoor 17,717 mense van ander bevolkingsgroepe, waarvan 99,9% swartmense is. Die bevolkings verhouding is tans 1 (wit) tot 10 (swart) wat hierdie syfer in perspektief bring. As dit 169 wit en 1690 swart was sou dit ‘n balans gewees het. Die syfer van 17,717 moorde per jaar onder ander bevolkingsgroepe van ons land is absoluut onaanvaarbaar.

Ons sal eintlik baie beter doen deur onsself by hierdie bevolkingsgroepe te skaar en die misdaad probleem in ons land saam aan te pak as ‘n eenheid. Dit sou die regte keuse gewees het. Dit sou die logiese keuse gewees het. Tog het plaasboere en baie ander mense in ons land besluit om teen alle logika in ‘n plaasmoorde veldtog te loods. Daarmee word witmense in Suid-Afrika van ander bevolkingsgroepe vervreem deur onsself weereens van ander bevolkingsgroepe te distansieer en ons self te isoleer.

Isolasie en distansiëring bewys maar net dat daar ‘n ander oogmerk agter die hele plaasmoorde veldtog is. Dit was in werklikheid ‘n politieke besluit. Dit gaan nie oor misdaad nie. Dit gaan oor die werwing van simpatie en ondersteuning van die onderskeie internasionale gemeenskappe van die wêreld. Dit gaan oor die plase en dit gaan oor die grondbesit kwessie. Dit gaan dus alles oor die politieke welstand van die wit Suid-Afrikaner in Suid-Afrika.

Hierdie veldtog gaan egter boemerang want die statistieke en die stellings waarop hierdie veldtog gebaseer is dra eenvoudig nie water nie. Die statistieke en die stellings wat deur aktiviste gemaak word is reeds as vals bewys. Mense word van dinge beskuldig wat eenvoudig nie die waarheid is nie. Statistieke word aangehaal wat so ver van die waarheid is dat dit eintlik lagwekkend, of eerder skokkend geword het.

Ek is nie spyt oor wat in die verlede gebeur het nie. Ek dink nie ons mense kon anders opgetree het as wat ons jare terug gedoen het nie. Ek is egter baie bly dat ons ‘n nuwe rigting ingeslaan het in 1994. Ons sou nie langer op die ou pad van ongelykheid en onregverdigheid kon aanhou nie. Ons as kinders van God was dit aan die ander bevolkingsgroepe van ons land verskuldig om die boodskap van Christus uit te leef en nie net te preek nie.

Ons as wit Suid-Afrikaners staan egter weer voor ‘n nuwe uitdaging. Gaan ons weereens die ou pad van isolasie en distansiëring volg of gaan ons eens en vir altyd deel word van die mense van Suid-Afrika? Gaan ons saam staan met ons mede Suid-Afrikaners en die uitdagings en die kwessies in ons land saam aanpak en saam oplos? Gaan ons ophou vrees en leer om meer op God vertrou? Wanneer gaan ons besef dat God nooit in der ewigheid die wit Suid-Afrikaner in die steek sal laat nie?

Ek weet net dat ons ‘n baie duur prys betaal om die simpatie en die ondersteuning van die internasionale gemeenskappe van die wêreld te probeer kry. In ruil daarvoor betaal ons deur vrees, bitterheid, haat, onrus, onsekerheid en rassisme aan te blaas onder ons eie kinders, ons eie mense en ook onder ander bevolkingsgroepe van ons land. Ons saai verdeeldheid inruil vir internasionale hulp wat heel moontlik nooit gaan kom nie. Hierdie prys is heeltemal te duur om te betaal. Dit is nie die moeite werd nie en dit is totaal onnodig. Daar is baie beter en ook heeltemal aanvaarbare metodes wat ons kan volg om die grondbesit kwessie van ons land mee aan te pak en op te los.

Dit is baie belangrik dat wit Suid-Afrikaners ‘n hartsverandering maak. Ons het nog altyd gesukkel om saam met ander bevolkingsgroepe te lewe.

God het twee baie belangrike dinge vir my gewys (in drome) met betrekking tot die plaasmoorde veldtog, die “Black First Land First” veldtog en ander ontevredenheid in ons land: Eerstens dat bose magte agter die verskillende veldtogte staan en dat dit groot skade aan ons kinders aanrig. Daar is ‘n duiwelse invloed op ons land se mense deur middel van hierdie veldtog wat ons kinders in ‘n baie benarde posisie plaas. Ons kinders is eintlik blootgestel as gevolg hiervan.

Die seëninge van die Here word geblokkeer as gevolg van hierdie invloed op ons mense. Ons kinders gaan nie hulle Godgegewe erfdeel (materiële en sosiale erfenis hier op aarde) ontvang nie as gevolg hiervan. Die Here het my ook gewys wat dit veroorsaak het.

Ek het ‘n ou boer gesien met ‘n olifantkop, baie soos die foto hierbo. Ek het geweet dat dit die Suid-Afrikaanse boere nasie simboliseer. Hierdie persoon het links van my in ‘n klein stroompie water op sy rug gelê. Hy was heeltemal onder die water en eintlik dood (‘n lyk). Die boer het egter stadig maar seker “wakker” geword. Ek het besef dat die persoon besig was om op te staan uit die dood. Hy het opgestaan en na regs geloop. Hoewel dit nog soos ‘n lyk gelyk het was dit weer springlewendig. Die betekenis van olifante in drome is ‘n houding van manipulasie en onvergewensgesindheid.

Hierdie mense vergeet geen ongeregtighede wat teen hulle gedoen is nie. Hulle vergeld kwaad met kwaad. Sien die betekenis van olifante hier. (An elephant symbolizes a person with a dominant or manipulative or overpowering spirit. It also speaks of a person with an unforgiving attitude. An elephant does not forget and an elephant dominates and manipulates)

Die betekenis van hierdie droom is die volgende: In 1994 het die wit Suid-Afrikaner ‘n besluit geneem om ‘n hartsverandering te maak. Daar is besluit om die rigting van ons land te verander deur anderskleuriges in ons land gelyke regte te gee en anders te behandel. Die afgelope paar jaar het baie witmense in ons land egter weer begin terugkeer na die ou gesindhede toe. Hoewel hulle nie hierdie gesindhede werklik kan uitlewe in die nuwe Suid-Afrika nie, is hierdie steeds ‘n onteenseglike openbaring van wat werklik in hierdie mense se harte aangaan. Dit is in werklikheid die werklike rede vir baie besluite en optredes van witmense in ons land.

Hierdie gesindhede gaan ons egter nêrens bring nie. Dit gaan net bitterheid, onmin, haat en verdriet tot gevolg hê. Ons as wit Suid-Afrikaners gaan daadwerklik anders moet dink en optree ten opsigte van baie dinge in Suid-Afrika. Ons sal anders na dinge moet kyk. Ons sal anderskleuriges anders moet behandel terwyl ons na God opkyk en op Hom vertrou om ons in hierdie land te beskerm en te onderhou. Ek dink ons het op ‘n plek gekom waar ons moet leer om op te hou van buite te kyk, vanwaar ons alles kritiseer, op alles en almal neer sien en alles af skiet of die spot mee dryf. Wanneer word ons deel van die land? Wanneer hanteer ons die land se uitdagings en kwessies van binne af?

Ek stem saam met die onbekende man wat bogenoemde oudio boodskap vir ons beskikbaar gemaak het. “Hy wat op sy eie insig vertrou gaan wreed ontnugter word”. “Vervloek is hy wat op die arm van ‘n mens vertrou”.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment