Is dit geestelike oorlogvoering of bloot ‘n geloofstryd?

Veg die leeu van Juda vir ons of rus Hy? Wat van ons? Wat moet ons doen om geestelike oorwinning in ons lewens te verseker?

Kinders van God verskil dikwels wanneer dit by hierdie onderwerp kom. Diegene wat teen die “geestelike oorlogvoering” konsep staan se hoof motivering is die volgende: As die kerk nog steeds teen die bose oorlog moet voer dan beteken dit dat Jesus Christus nie ‘n volslae oorwinning teen die bose behaal het nie. Dit is teenstrydig met baie Skrifgedeeltes in die Bybel soos hierdie een:

Kolossense 2:15

nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.

Romeine 8:31

Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees?

2 Korintiërs 2:14

Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.

Romeine 8:37

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.

Romeine 8:28-30

En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Wanneer twee opponente nog in ‘n oorlog gewikkel is dan beteken dit dat daar nog nie ‘n oorwinnaar is nie. Die tweestryd is nog aan die gang. Die oorlog is nog nie gewen nie. Die Skrif is egter baie duidelik dat Jesus Christus die duiwel oorwin het en tot nul gemaak het. Hy het hom en die bose engele van alle outoriteit en mag gestroop en in sy openbare triomftog uitgeklee.

Diegene wat vir die “geestelike oorlogvoering” konsep staan se hoof motivering is dat Jesus Christus die oorlog gewen het maar dat ons as kinders van God nog steeds sekere veldslae moet wen. Die bose het nog steeds krag en mag en kan die stryd teen kinders van God wen as hulle nie oppas nie.

Die ander kamp redeneer dat as hulle nog steeds self die bose moet oorwin deur geestelike oorlogvoering dan is hulle besig om hulleself te red en te verlos van dit wat die duiwel ons van beroof en besteel het. Jesus Christus se redding en verlossing was dus nie ‘n volmaakte verlossing nie. Dit hang dus van ons af of ons verlos gaan wees of onder die juk van bose onderdrukking gaan lewe. As ons die veldslag verloor is ons nie verlos nie as gevolg van ‘n nederlaag teen die bose.

Diegene wat teen die oorlogvoering konsep staan sê dat diegene wat steeds in ‘n oorlogvoering met die bose gewikkel is is besig om iets uit te voer wat Jesus Christus reeds gedoen het. As jy nie weet dat die oorlog reeds gewen is nie word jy besig gehou met iets wat heeltemal onnodig is. Die vyand is natuurlik hoog in sy skik dat jy nie weet dat die oorlog alreeds gewen is nie. Onkunde kan jou duur te staan kom.

Diegene wat vir die oorlogvoering konsep staan beklemtoon dat die Bybel op ‘n paar plekke ons stryd simboliseer met soldate en met oorlogvoering. Hulle verwys na Skrifgedeeltes soos die volgende:

2 Korintiërs 10:3-5

Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;

want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,

terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

Hulle verwys ook na die Efesiërs 6 waar Paulus ons aanraai om die volle wapenrusting van God aan te trek. Hierdie wapenrusting is die kleding, toerusting en wapens van ‘n soldaat. Dit kan net een ding beteken; daar is ‘n oorlog aan die gang!

Diegene wat teen die oorlogvoering konsep staan redeneer dat as iemand in ‘n oorlog is dan moet hulle ‘n vyand “head-on” konfronteer. Hulle staan lynreg teenoor mekaar. Hulle is in ‘n oorlog gewikkel en hulle fokus opmekaar. Hulle hou mekaar besig met hulle strategieë en maneuvers.

Ons is egter nié in ‘n oorlog gewikkel nie. Ons hoef ons egter net aan God te onderwerp en die duiwel te weerstaan en hy sal van ons wegvlug. Dit beteken dat die oorlog verby is. Die vyand is verslaan. Ons is op die grense en grensposte van ons koninkryk ontplooi om ons koninkryk te beskerm. Ja ons is in oorlog gewaad en ons is paraat. Nee, daar is nie ‘n oorlog aan die gang nie. Die vyand is nie in oorlog gewaad geklee nie. Inteendeel, hulle is heeltemal ontwapen. Hulle probeer ons koninkryk van alle kante omsingel en hulle probeer ons grensposte infiltreer. Hulle voer ‘n skelm stryd. Daar by die grenspos staan hulle met ons en redekawel. Hulle sien ons kragtige wapens en ons kragtige beskermings toerusting. Hulle weet dat hulle ons nie kan aandurf op die slagveld nie.

Op ‘n slinkse manier begin hulle eerder met ons “negotiate” vir toegang. Hulle belieg en bedrieg ons daar op die grenspos om toegang te kry. As jy my sal inlaat dan… As ek net vir ‘n rukkie… As jy net geweet het dat… Kan ek vandag vir jou die waarheid vertel omtrent die gawes van die Gees… Jy weet natuurlik dat daardie kerk heeltemal van die pad af is… Daardie prediker is besig om allerhande onwaarhede te verkondig… Ons weet mos dat God nie meer vandag… Ek wil jou nie bangpraat nie maar besef jy… Het jy geweet dat God…

Nee, hulle is nie op oorlogvoering gefokus nie. Hulle weet dat die oorlog reeds verloor is toe Jesus Christus oor hulle getriomfeer het. Ja, hulle “love” om “oorlog” te voer teen diegene wat nie weet dat die oorlog verby is nie. Koning Dawid het oorlog gevoer. Hy het die naburige nasies onderwerp aan Israel. Dawid kon egter nie in vrede heers nie want hierdie nasies was nog nie aan Israel onderwerp nie. Koning Salomo weer, het nie oorlog gevoer nie. Salomo het nie nodig gehad om sy koninkryk te vestig nie. Dawid het dit reeds vir hom gedoen. Salomo het geheers. Die Bybel sê dat hy vrede reg rondom hom gehad het. Hy het in vrede geheers. Het Israel steeds ‘n weermag gehad? Natuurlik! Hulle het Israel se grense en die grensposte bewaar. Hulle was opgeleide soldate en hulle was so paraat soos wat kan kom. Was die naburige volke tevrede met die stand van sake? Beslis nie maar hulle het Israel en die God van Israel gevrees. Hulle was ontwapen. Hulle was Israel glad nie goedgesind nie maar hulle het geen keuse gehad nie. Die God van Israel en die volk van Israel was te sterk vir hulle.

1 Konings 4:24

Want hy het geheers oor alles wes van die Eufraat, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat, en vrede gehad aan alle kante rondom.

Wanneer jy weet dat die oorlog reeds gewen is dan staan jy daar op die grenspos as ‘n oorwinnaar. Jý slaan die kitaar daar op die grenspos. Jy vat geen nonsens van hierdie “mannetjies” met hulle slinkse plannetjies en slinkse strategieë om deur daardie hekke te kom nie. As hulle plannetjies faal dan probeer hulle jou ‘n rat voor die oë draai om ongesiens verby te sluip. God se kinders is egter paraat. Hulle is “dressed to kill”, kragtig in die Here en hulle weet dat die stryd gewen is. Hulle weet hoe om hierdie slinkse vyand met al sy slinkse strategieë buite te hou.

Natuurlik, hy wat nog besig is met geestelike oorlogvoering het nog veldslae om te wen. As jy nie weet dat Christus klaar die stryd teen die bose gewen het dan staan jy nie werklik in ‘n oorwinnings posisie in die stryd nie. Hoekom nie? As daar nog veldslae is om te veg dan is die oorwinning nog nie behaal nie. Jy kan dálk hierdie veldslag verloor! Konings en priesters in die koninkryk van God is nie besig met veldslae nie. Hulle beskerm net die koninkryk deur die sluipers buite te hou. Hulle gee vir hulle geen vastrap plek nie. Hulle weier toegang ten alle tye. Hulle weet dat die geloofstryd hier by die grenspos gewen of verloor word. Nie op die slagveld nie! Daar is ‘n slinkse klemverskuiwing. Wanneer jy gefokus is op oorlogvoering dan is jy op die vyand en sy strategieë gefokus. Wanneer jy op ‘n geloofstryd gefokus is dan is jy gefokus op God en sy woord. Dit maak ‘n oneindige groot verskil.

As die bose net toegang kan kry dan weet hulle dat hulle goeie vordering maak. Dit is hoe hulle die stryd begin wen. Watse stryd? Die “geloofstryd”:

1 Timotheus 6:12

Stry die goeie stryd van die geloof...

Wat is die stryd van geloof?

Dit is ‘n stryd wat nie op die slagveld plaasvind nie. Dit vind binne in ons plaas. Jy dink nie eens aan die duiwel terwyl jy besig is daarmee nie. Dit is die innerlike stryd van geloof wat hier plaasvind.

Baie belangrik: Merk op dat hier tydens hierdie geloof stryd geen interaksie met die duiwel of bose magte persoonlik is nie. Ons raak nie in ‘n stryery met die duiwel betrokke nie. Ons hoef nooit, danksy die oorwinning wat Jesus vir ons behaal het, nooit ooit persoonlik teen die bose in enige stryd betrokke te raak nie. Ons stryd is altyd ‘n geloof stryd. Dit is ‘n “wat moet ek glo?” stryd. Ons moet net altyd ons gedagtes onder beheer kry deur elkeen van hulle gevange te neem en te onderwerp aan die woord van God.

2 Korintiërs 10:3-5

Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;

want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,

terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

  1. Hier sien ons baie duidelik dat ons nie besig is met oorlogvoering nie maar met ‘n stryd.

  2. Ons werp vestings neer, ons verbreek planne, verbreek skanse; hoe? deur elke gedagte gevange te neem en te onderwerp tot gehoorsaamheid aan God en sy woord. Ons hoef nie eens met die duiwel te praat nie. Ons kan maar net die woord van God leer en dit in ons lewens toepas. Ons hoef net met God te praat en ons praat met ons medegelowiges.

  3. Baie keer hoor jy van Christene wat in die gees en in outoriteit planne verbreek en skanse verbreek en vestings neerwerp deur ‘n woord wat hulle uitspreek. Hulle staan met gebalde vuiste en sê: “In Jesus Naam breek ek daardie skanse in so en so se lewe af! Ek werp daardie vestings neer!”

    Ek twyfel of dit enige waarde het in die geesteswêreld. Ons stryd is ‘n geloof stryd en dit vind binne in ons plaas. Dit beteken net een ding: Ons moet die leuens wat op ons af gebombardeer word vervang met die woord van God. Daarom moet ons elke gedagte gevange neem. Ons moet dit “arresteer” en uit ons gemoed uitwerp en vervang met die waaragtige en korrekte woord van God. Wanneer daar al so baie leuens in ‘n persoon se gemoed en in sy siel opgebou is dat dit al skanse en vestings geword het, dan sal so ‘n persoon hom móét bekeer van sy onkunde en roekelose hantering van die woord van God. Hy sal die leuens met waarheid móét vervang. Dit is hoe ons skanse en vestings verbreek. Ons kan God bid dat Hy in so ‘n persoon se hart werk om die waarheid deel van sy lewe te maak. Hy sal die leuens met waarheid moet vervang. Dit word nie met die swaai van ‘n “towerstaf” in ‘n wolkie opgeneem en vernietig deur ander Christene nie. Nee, jy moet jouself vergewis wat die woord van God is en dit in jou hartkamers vasmessel. Jy moet die leuens uit jou hart uit kry.

    Die duiwel is daarop uit om ons hele wese te vergiftig met leuens. Dit is hierdie leuens wat uiteindelik vestings in ons lewens word. Dit word vestings wanneer ons op hierdie leuens mediteer en dit vertroetel. Sodra ons dit deel van ons maak dan begin dit tot stand bring dit wat dit promoveer en dit waarvoor dit staan. Die hele proses begin by negatiewe gedagtes. Die gedagtes word in ons siel area en in ons breine opgeneem en gevestig. Ons begin dit glo en dit word deel van ons. Sodra dit deel van ons is begin ons dit uitspreek en dan bring dit tot stand dit wat ons glo en dit wat ons uitspreek.

    Daar is net een manier om ontslae te raak van hierdie leuens. Ons moet onsself “ontgif” deur hierdie leuens te vervang met die waarheid.

Die bose is baie slinks. Die meeste van die tyd vertel hulle nie volslae leuens nie. Nee, hulle vertel vir jou ‘n halwe waarheid. Daardie klein leuentjie maak egter al die verskil. Daar is ‘n fyn lyn tussen die waarheid en ‘n leuen. Daar is net ‘n klein klem verskuiwinkie en dit maak al die verskil wat nodig is. Dit hou ons besig met goed wat nie werklik van belang is nie. Terwyl ons eenkant besig gehou word is die vyand besig om ons op ander fronte erg te verniel. Dit is ook waar vir die bloedlyn vloeke leerstelling. Gewoonlik word dieselfde mense met albei hierdie vals leerstellings ‘n rat voor die oe gedraai. Dit is meeste van die tyd mense wat in bloedlyn vloeke glo wat ook geestelike oorlogvoerders is.

Geestelike oorlogvoering is eintlik ‘n pluimpie vir die duiwel. Dit suggereer dat hy sterk is. Dit gee aan hom baie meer krediet as wat hy verdien. Hy loop rond SOOS ‘n brullende leeu. Hy maak ‘n groot lawaai. Geestelike oorlogvoerders speel so reg in sy hand. Die Bybel is baie duidelik oor hoe ons die duiwel moet weerstaan. 2 Korintiërs 10:3-5 kan dit nie duideliker sê nie (teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus).

Jakobus 4:7 is ook baie duidelik oor hoe ons die duiwel moet teëgaan:

Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug

Die Griekse woord vir “weerstaan” in hierdie Skrifgedeelte beteken “om vas te staan en nie in te gee nie”. Dit beteken ook om in “kontras” te wees of “in die plek van”. Dit beteken ons staan as ‘n “simbool” of ‘n “naam” vir iets. Daardie iets is God en sy woord. Weerstaan het dus alles te doen met kennis en met dit wat God gesê het, naamlik sy woord. Dit beklemtoon die feit dat ons nie met vleeslike wapens (spiese, swaarde en pyle) veg nie maar dat ons die duiwel met kennis (die woord van God, die waarheid) weerstaan. Jakobus is baie duidelik oor die feit dat die waarheid hom laat wegvlug van ons af.

Jesus is ons mees belangrikste voorbeeld van hoe ons die duiwel weerstaan. Let op hoe Hy direkte aanvalle van die duiwel teengestaan het toe Hy in die wildernis was volgens Mattheus 4:1-11. Elke versoeking was beantwoord met, “daar staan geskrywe”. Jesus het geweet dat die Woord van die lewende God die mees kragtigste wapen is teen die versoekings van die duiwel. Indien Jesus self die Woord gebruik het om die duiwel teë te staan dan kan ons mos nie iets anders doen nie?

Dave Roberson verduidelik hierdie aspek van Christenskap so mooi en duidelik in sy boek, The walk of the Spirit. Eerstens moet ons God prys en aanbid, dan moet ons in die Gees outoriteit neem oor omstandighede in ons lewens en dan moet ons bid in tale. Die gedeelte wat ek hier onder aanhaal gaan oor geestelike outoriteit:

Then I would spend my second hour with the Lord reconciling the problem I’m currently facing to the Cross. How? By replacing with the words of my mouth the image of the problem that the devil sends my way with the image that is in the Word. That is my inheritance and my right as a believer.

As I entered the second hour, I’d say, “Father, I thank You that devils are subject to me. I thank You that disease, which is caused directly or indirectly by devils, is subject to me in Your Name. I thank You that I have been delivered from poverty and that it is also subject to me in Your Name. I thank You for all these things, Father.(Onderwerp jou aan God)

Now if You will excuse me, Father, the devil is invading my territory. So I’m going to use the faith and the Word You have given me to meet that invasion head-on with the power of confession.

You said that if I do not doubt Your Word with my heart and if I confess it with my mouth, the same incredible power that wrought the most phenomenal miracle of all, the rebirth, will also operate to remove my mountain.” So I would spend the next hour hurling the confession of God’s Word directly at my problem. I’d talk to that mountain in my life the same way Jesus talked to the fig tree in Mark 11:14.

For example, if I was dealing with financial lack, I’d confess something like this over and over: “Poverty, you have been reconciled to the Cross. Jesus Himself has borne my poverty by an act of grace. Though He was rich, for my sake He became poor that I through His poverty might be made rich [2 Corinthians 8:9]. “Do you hear me, poverty? I have a covenant with God. You cannot stay in my life. You are cursed. You are leaving my life!

And, prosperity, I call you in from the north, the south, the east, and the west! Finances, I command you to increase! I am enforcing my rights as a believer by a gift God has given me — the confession of faith in His Word!” For that entire second hour, that’s how I would talk to that mountain of poverty, cursing it and commanding it to move out of my life. (Weerstaan die duiwel)

– Dave Roberson

Dave Roberson is glad nie besig met die vyand nie. Nee, hy is besig met God en sy woord. Hy spreek nie die duiwel aan nie. Nee, hy spreek die probleme aan. Hy praat met omstandighede in sy lewe. Soos Jesus Christus praat hy met die vyeboom en met die berg. Hy roep God se woord tot stand. Dit is die waarheid wat die duiwel weerstaan en op die vlug laat slaan. Daardie waarheid moet egter in die geloof uitgespreek word. Dit is die kern van ons stryd van geloof. Al wanneer ons die duiwel aanspreek of met die duiwel praat is wanneer ons die duiwel uit ander mense uit dryf of uit situasies wegdryf. Behalwe vir hierdie twee gevalle hoef ons nie eens aan die duiwel te dink nie. Ons hou ons besig met Jesus Christus en met die woord van God. Ons is Gods bewus en nooit duiwel bewus nie. Geestelike oorlogvoering hou jou konstant op jou voete. Dit hou jou paraat en gereed om die vyand te trotseer. Dit maak jou vyand bewus.

As jy nog moet veg vir iets wat jy reeds het, dan het jy dit wat jy reeds het nog nie in besit geneem nie.

Ons is veronderstel om in die rus van God in te gaan. Jesus het vir ons vrede gebring. Ons het nie dapper gewapende leërmagte wat ons land (die koninkryk van God) omsingel, aanval en insypel nie. Nee, ons vyande is diewe en rowers, ongewapende bedrieërs wat ons land (die koninkryk van God) wil insypel om ons te kom beroof en te besteel. Hulle kom soos vriende of soos engele van die lig. Hulle kom soos lafaards met allerhande leuens en plannetjies om ons uit ons erfporsie te kom verneuk. Die duiwel het geen ander strategie nie omdat hy ontwapen is. Jesus Christus het hom uitgeklee en ontwapen. Hy het hom tot nul gemaak. Die duiwel kan jou niks máák doen nie. Die duiwel kan jou geen leed aan doen nie. Die duiwel kan jou nie dood maak of vernietig nie. Die duiwel kan jou nie siek maak nie (behalwe as jy hom toelaat om dit te doen). Die duiwel het geen mag en outoriteit oor jou nie. Hy kan jou net bedrieg en hoop jy eet dit soos soetkoek op. Dit is sy enigste wapen teen die kinders van God.

Wanneer kinders van God nederlae teen die bose beleef is dit omdat hulle toegelaat het dat die duiwel “strongholds” in hulle gedagtes gevestig het. Gregory Dickow sê die volgende oor hierdie aspek:

A stronghold is built on imaginations. Imaginations are built on a series of thoughts. Thoughts are the foundation of strongholds

– Gregory Dickow

God het ons ‘n ongelooflike krag gegee: Ons kan kies wat ons dink. Wanneer ons ons gedagtes gevange neem en vervang met die woord van God dan moet ons daardie woord van God in ons hartkamers vasmessel. Dan kan ons die woord van God spreek en dan kan ons die woord van God teen die bose gebruik. Die woord van God moet eintlik die “stronghold” in ons denke wees. Soos Jesus kan ons dan vasstaan teen die leuens van die bose. Jy sal sien dat die duiwel nie met ‘n vleeslike wapen teen ons aankom nie. Hy kom nie met ‘n mes of ‘n pyl en boog nie. Hy kom met ‘n leuen. Hy gebruik sy mond. Ons moet egter paraat wees want sy mond is gevaarlik. Ons moet waak en bid. Ons moet gereed wees met die woord van God. Ons kan net gereed wees wanneer ons die woord van God ken en wanneer ons daardie woord glo. Dit moet deeglik in ons hartkamers vasgemessel wees.

Ek hoop hierdie skrywe bring vir jou as kind van God meer duidelikheid oor hierdie slinkse strategie van die bose. Geestelike oorlogvoering is ‘n konsep wat in die hel gebore is. Dit is nie Skriftuurlik nie en dit lei tot ondergang en nederlae in die kind van God se lewe.

Kry sommer nou die boek, “Die waarheid omtrent bloedlyn vloeke”, op die “Hulpmiddels” bladsy om meer inligting rondom hierdie belangrike onderwerpe te bekom.

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment