Geloof verskille? Hoe nou?

Mag daar geloof verskille in die kerk van God wees? Moet ons dieselfde geloofsoortuigings hê? Natuurlik mag ons verskil. Ons hoef nie dieselfde oor alles te voel of te glo nie.

Hoe leef ons saam daarmee? Ons gun mekaar die reg om elkeen ons eie heil uit te werk. Hoe ander mense glo affekteer tog nie my lewe of my omstandighede nie. As ander my tog net sal toelaat om my eie heil uit te werk soos die Skrif baie duidelik sê, dan behoort ek ook ander mense die voorreg te gun om hulle heil uit te werk. Ons gaan tog elkeen eendag self vir al ons eie dade verantwoording doen, nie ander mense se dade nie.

Mag ons mekaar beïnvloed wanneer ons voel dat mense verkeerde leerstellings glo of aanhang wat nadelig vir hulle is? Natuurlik kan ons. Maar daar is ‘n regte manier om dit te doen.

Op my vrae aangaande hierdie onderwerp het God my ‘n gholfsak gewys met die woorde “Broccoli”, in groen letters groot daarop geskryf. Hy het my daarop sy wil rakende die hantering van geloof verskille geleer:

Eerstens mag ons nooit mense wat van ons verskil beledig en in die openbaar belaster of in verleentheid bring nie.

Tweedens moet ons nie oor verskille stry nie. Die regte manier om met mekaar te verskil is soos ‘n gholf spel. Dieselfde rustige atmosfeer op ‘n gholfbaan moet hier gehandhaaf word. Daar is die tipiese ordelike “afslaan” van die bof af. Elkeen kry ‘n kans. Almal wag vir elkeen om met sy beste afslaan vorendag te kom. Dan kry elkeen ‘n kans om sy houe een vir een te speel tot op die setperk. Hierdie houe simboliseer elkeen se argumente teen of vir sekere geloofsoortuigings.

Natuurlik moet daar dieselfde ligte luim en opgewekte atmosfeer wees wat ons op die gholfbaan ervaar. Die argument word op ‘n vriendelike wyse gedoen. Daar is geen oordeel of afbrekende kritiek betrokke nie. Ons wil tog die gholf spel geniet.

Op die setperk slaan almal hulle laaste houe sonder dat daar inbreek gemaak word. Almal kry ‘n kans om een vir een sy laaste hou te speel en tot ‘n konklusie te kom.

Daarmee klaar tel almal hulle gholfballetjies op en gaan drink ‘n koeldrank saam in die klubhuis voor hulle huistoe gaan.

Hierdie is God se metode van verskil. Dit word gedoen in ‘n gees van liefde. Dit is opbouend vir almal en niemand is in ‘n verleentheid gebring nie. Niemand het sy wil op ander afgedwing nie en almal eer die ander se reg om steeds te glo soos hy verkies.

Dit is hier waar die Here my gewys het wat die “broccoli” beteken: Wanneer ons so in vrede mekaar leer, onderrig en help in die woord van God, dan lei dit tot gesonde heilsaamheid en is dit voedsaam vir ons siele. Dit is soos die groente wat Daniël en sy vriende geëet het. Broccoli is gepak met heilsame voedingswaarde en wanneer ons dit in die regte gesindheid aan mekaar oordra dan voed ons mekaar met God se woord. As ons dit egter met verkeerde gesindheid doen dan lei dit tot ‘n woordestryd wat glad nie goeie gevolge het nie.

2 Tim. 2:14

Herinner aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot die ondergang van die hoorders

Kan ‘n woordestryd lei tot die ondergang van die toehoorders? Beslis ja! Volgens 1 Tim. 6:5 sien ons ook dat ‘n woordestryd nie net nuttelose stryery is nie maar dat dit ook lei tot afguns, twis, lasteringe en bose agterdog.

Die “swartsmeer” veldtogte teen kinders van God en bedienaars van God val ook onder dieselfde beginsels. Ons het nie die reg om mense in die openbaar so aan te val soos wat ons in die media sien nie. Dit kom nie van God af nie. Kom ons bepaal ons aandag liewer op dit wat mooi en goed is. Die Skrif sê mos dat ons ons moet besig hou met alles wat mooi en goed is. Om op al die lelike en verkeerde dinge in die lewe te fokus kan nie goed vir ons wees nie.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment