Christus dra die volle vloek op die kruis

WAT HET VERANDER OP DIE KRUIS VAN JESUS?

Om baie mooi te verstaan hoekom daar nie soiets soos bloedlyn vloeke is nie, moet ons eers die konsep van “straf” verstaan. As ons nie weet watse beginsels en wette God in plek gesit het met betrekking tot “sonde” en die “straf” van sonde nie, sal hierdie onderwerp vir ons duister bly. Die Bybel is egter baie duidelik aangaande hierdie wette en beginsels. Hierdie skrywe verduidelik hierdie wette en beginsels baie mooi uit die Skrif uit.

Tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament het daar eintlik baie dinge gebeur. Ek wil egter net die gedeeltes behandel met betrekking tot die onderwerp van hierdie reeks, naamlik bloedlyn vloeke.

Die Bybel sê dat ons almal gesondig het en ons almal die heerlikheid ontbreek wat God behaag. Kom ons lees eers Romeine 3:10-18

soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.

Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.

Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.

Hul keel is ’n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe.

Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.

Haastig is hulle voete om bloed te vergiet.

Verwoesting en ellende is in hulle paaie,

en die weg van vrede ken hulle nie.

Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.

Kom ons kyk ook na vers 23-25

want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,

en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.

Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God —om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.

Hierdie twee skrifgedeeltes sê vir ons verskriklik baie:

  1. Dit sê dat almal gesondig het en dat niemand regverdig voor God is nie.

  2. Dit sê egter ook dat ons verlossing ontvang deur die geloof in Christus Jesus. Deur sy genade, sonder verdienste word ons geregverdig deur die verlossing wat in Hom is.

  3. Dit sê ook dat Christus vir ons versoening gebring het met Vader God. Ons is die geregtigheid van God in Christus deur die geloof. Dit is nie iets wat ons gedoen het nie maar wat Hy gedoen het.

  4. Vers 25 sê baie duidelik dat God, deur sy verdraagsaamheid, sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is. Dit sê vir ons dat mense hierdie aarde bewandel het sonder om gestraf te word. Wie was hierdie mense? Dit was die Ou-Testamentiese regverdiges. Hulle het gesondig. Hulle sondes was egter deur die bloed van lammers bedek en daarom is hulle vrygespreek. Daarom is hulle nie gestraf nie. Terwyl die onregverdiges van die Ou Testament met hulle afsterwe dadelik die straf ontvang het soos die ryk man van die “Lasarus” verhaal, het die regverdiges soos Lasarus aan die goeie kant van die doderyk saam met Abraham en al die Ou-Testamentiese regverdiges gewag vir Jesus om die prys te betaal vir hulle sondes. Hulle was dus selfs na hulle dood nie gestraf nie.

God is baie verdraagsaam wanneer dit by straf kom. Hy haat sonde en Hy is ‘n regverdige God. Daarom moet sonde gestraf word. God skep egter geen behae daarin om mense te straf nie. Daarom sal Hy niemand straf wat deur die bloed van Jesus vrygespreek is nie. Nie ons vandag nie en ook nie die Ou-Testamentiese regverdiges nie. Die bloed van lammers was die skadubeeld of ‘n tipe van die bloed van Jesus Christus. Die Ou-Testamentiese regverdiges het daarom reeds die belofte van Jesus ontvang al was dit die bloed van lammers wat gevloei het. Onthou, hierdie sondes was net bedek en het daarom nog bestaan. Omdat die straf vir daardie sondes nog nie uitgevoer is nie kon dit nie van die boeke af verwyder word nie. Eers toe Jesus Christus op Gólgota met sy bloed betaal het, is hierdie Ou-Testamentiese sondes weggeneem soos ons s’n.

Dit beklemtoon die feit dat geen sonde ongestraf sal bly nie. Alle sonde wat ooit deur enigiemand gepleeg is, besig is om te pleeg of eendag gaan pleeg, móét gestraf word. Iemand gaan daarvoor sterf en gaan daarna daarvoor hel toe waar hy ‘n ewige straf daarvoor sal ontvang.

In die Ou Testament was daar onregverdige mense wat God verwerp het. Hierdie mense was reeds in die Ou Testament gestraf. Hulle is alreeds, van daardie tyd af al, in die “hel” en word alreeds gestraf vir hulle sondes. Dink maar aan Lasarus en die ryk man. Lukas 16:23 sê dat die ryk man het gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. Ons weet hoe hy gesmeek het net vir ‘n druppel water in daardie verskriklike plek van marteling. Hy is vandag nog daar. Abraham en Lasarus was egter in die “goeie kant” van die doderyk (aan die anderkant van die kloof) waar hulle in heerlikheid gewag het vir Christus om die prys te betaal sodat hulle na God toe kon gaan. Hierdie was net ‘n tydelike wagplek en daar was geen smart en ellende in hierdie wagplek nie. Toe Christus klaar die prys betaal het, het Hy dadelik afgekom en hulle van hierdie tydelike wagplek verskuif na die paradys in die hemel sodat hulle by God kan wees.

In die Nuwe Testament het God ál die straf wat almal toekom op Jesus Christus laat neerkom. Kom ons lees Jesaja 53.

1. WIE het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die Here geopenbaar?

2. Hy tog het soos ’n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ’n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.

3. Hy was verag en deur die mense verlaat, ’n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ’n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.

4. Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.

5. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

6. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

7. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word en soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.

8. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote — wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.

9. En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ’n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.

10. Maar dit het die Here behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ’n skuldoffer aangebied het,sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees.

11. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige,baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.

12. Daarom sal Ek Hom ’n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.

Sjoe, Hy het al die straf vir ons gedra. Al die sondes en al die ellendes, siekte en ongeregtighede van elke mens wat ooit geleef het en nog sal lewe, is op Hom geplaas. Kyk wat sê vers 12: “terwyl Hy die sonde van baie gedra het”. Dit is Jesus Christus wat sondes dra. Nie ons nie. Ons kan nie die sondes van ander mense dra nie.

Elke vloek en elke oortreding is aan die kruis vasgespyker sodat Hy die prys daarvoor kon betaal. Die straf vir sonde is eerstens allerhande ellende wat oor jou kom terwyl jy nog lewe. Hierdie is goed soos siekte, ellende pyn, swaarkry en armoede. Dit het Hy gedra soos jy hierbo in Jesaja 53 kan sien. Daarom hoef ons nie vandag siek te wees nie. Omdat Christus in ons plek gestraf is, hoef ons geen straf deur te gaan nie. Ons hoef nie siek te wees nie. Hoe kan ons dan nog vir die sondes van voorouers gestraf word? Hoe kan ons nog siek word en allerhande negatiewe dinge oorkom as gevolg van húlle sondes en ongeregtighede? Ons hoef dan nie eens vir ons eie sondes te boet nie. Hoekom moet ons die sondes van ons voorouers dra as ons nie eens ons eie sondes hoef te dra nie. Dit was reeds alles twee duisend jaar terug op Jesus gesit.

Dan is daar die dood wat ewige skeiding met God beteken. Dit het Hy gedra toe Hy uitgeskreeu het: “My God, My God, waarom het U my verlaat?”. Daarom hoef jy nooit in enige omstandighede daardie woorde te uiter nie. God sal jou nooit begewe of verlaat nie want Christus het daarvoor ook betaal. God is waarlik altyd met ons en ons is nóóit alleen nie.

Dan is daar die ewige ellende, smart en marteling in die ewige helse vuur. Dit het Hy vir jou gedra. Hy het ter helle neergedaal. Daar het hy in die hel gekrepeer van ellende vir jou en vir my. Tog, omdat Hy onskuldig was, het die Gees van God, nadat Vader tevrede was dat die prys vir elke sonde betaal is, Hom uit die dood opgewek en Hom uitermate verhoog. Sy liggaam het nie verderwing gesien nie.

Daar is nog ‘n tweede groep mense wat ook vir hulle sondes gestraf word. Hulle was die Nuwe-Testamentiese mense wat vir Jesus Christus verwerp het en sonder hom dood is. Vir hulle het die straf begin toe hulle na hulle afsterwe in die doderyk of “hel” hulle oë opgeslaan het om die ellende van die hel te aanskou, soos die ryk man van Lasarus. Dit is ‘n voldonge feit; onregverdige mense wat afsterwe wag nie tot alles verby is om dán eers gestraf te word nie, nee, hulle straf begin onmiddelik na afsterwe.

Dan is daar ‘n derde groep mense wat as die Here kom nog in die lewe onverhoeds betrap gaan word. Hulle sal ook net soos die onregverdiges van die Ou Testament en die onregverdiges van die Nuwe Testament, die ewige straf self moet betaal, omdat hulle die prys wat Jesus vir hulle betaal het verwerp het.

Ek het die drie groeperinge afsonderlik behandel net om duidelikheid te bring maar in werklikheid vind hierdie straf vanaf die Ou Testament tot vandag aaneenlopend plaas. Dit het nog nooit opgehou vandat dit begin het nie. Dit is eintlik maar net een groep mense wat almal sonder Jesus in die hel (doderyk) nou op hierdie oomblik reeds gestraf word. Hulle sal eendag saam met die satan en sy gevalle engele in die ewige vuur gegooi word waar hulle ewig gestraf sal word.

Vir ons is daar egter geen veroordeling nie. Daarom is daar vir ons geen straf meer nie. Al was ons sonde soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol, volgens Jesaja 1:18.

Die Here vat ons ou en vuil modder gevlekte kleed en Hy trek vir ons ‘n skoon bloed gewaste wit kleed aan.

Romeine 8:1

Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie maar na die Gees.

Daarom is daar geen straf vir ons nie. Nie nou nie en ook nie wanneer alles verby is nie.

Romeine 8:33-34

Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het...

DIE GENADE TYD VAN GOD

Die profetiese boeke in die Ou Testament was ‘n heenwysing op die Seun van God wat sou kom om die sondes van die wêreld weg te neem. Die Psalms en die boek Jesaja het veral baie gedeeltes in oor dit wat sou kom. Hoewel daar ook nog ander boeke in die Ou Testament soos Sagaria, ook profetiese gedeeltes in het wat wys op die koms van Christus, is hierdie twee vir my die kosbaarste.

Alle profesieë oor Christus in die Ou Testament is almal in die Nuwe testament vervul. Johannes die doper was ‘n voorloper van Jesus en hy het die voorreg gehad om Hom te openbaar as die Messias wat sou kom. Kyk net ‘n bietjie baie mooi wat sê Johannes van Jesus in Joh 1:29

Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Let op die woorde: “wat die sonde van die wêreld wegneem”

Die woord vir “wêreld” hier is in die Grieks кόσμος” (Uitspraak: kos’-mos) wat die hele wêreld beteken insluitende al sy inwoners. Jesus Christus het dus die sonde van die hele wêreld weggeneem. Hy het met sy bloed vir ieder en elk betaal. Daar is nie ‘n mens vir wie Hy nie gesterf het nie.

Op daardie oomblik was dit nie meer nodig vir God om enigiemand te straf nie. Jesus Christus het die straf vir almal gedra. Daarmee het Jesus die “roede” uit God se hand gehaal. Watse Ou-Testamentiese strafmaatreëls die Vader ook al in plek gehad het was op daardie oomblik mee weggedoen. Jesus Christus is in ons plek gestraf en daarom hoef God die Vader niemand meer te straf nie. Hierdie lei dan die genade tydperk van God in vir alle mense. Dit maak nie saak of jy ‘n kind van God is of nie. God mag en kan jou nie straf nie. Hoekom nie? Want Jesus is klaar in jou plek gestraf. Straf mag net wettiglik op iemand geplaas word wat Jesus Christus finaal verwerp het. Dit gebeur wanneer iemand sonder Christus sterf.

Terwyl jy Hom egter nog nie aangeneem het as jou Verlosser nie, kan jy nie gestraf word nie tot en met jou dood. Die oomblik as jy jou oë toe maak in hierdie wêreld sonder Jesus Christus, dan tref die oordeel van God jou. Hoekom dan eers? Want dan het die genade tyd vir jou uitgehardloop. Jy het kans gehad tot en met jou dood om Jesus Christus aan te neem as jou Verlosser. Maar as jy hierdie genade “gawe” van God verwerp het, dan slaan die oordeel van God toe op jou. Die Bybel noem dit ook die “vloek” omdat God se oordeel ‘n vloek is. Op daardie oomblik, wanneer jy jou laaste asem uitblaas, dan daal jy af na die “hel” en begin jou straf. Ons lees dit in in Jesaja 65:20

Daarvandaan sal nie meer kom ‘n suigling van ‘n paar dae of ‘n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.

As jy die hele Jesaja 65 lees sal jy sien dat hierdie gedeelte ‘n voorspelling is van die koms en die koninkryk van die Messias.

In hierdie tydperk, sal die regverdige en die onregverdige albei honderd jaar oud word ongeag hulle stand in God. Na aanleiding van hierdie gedeelte sal die mens, anders as die Israeliete, sy dae vol uitlewe. Dit is God se wil vir alle mense. Regverdig of onregverdig. Honderd jaar sal min of meer die ouderdom wees wat God hier bepaal het die mens sal wees voor die dood op hom sal toesak. Hoewel dit die wil van God is kan die mens egter hierdie dae verkort. Ons behandel hierdie aspek intensief in ‘n latere skrywe.

Die onregverdige sal egter ná die genade tyd skielik getref word deur die vloek omdat hy Jesus verwerp het en sodoende die vloek oor homself gebring het. God straf dus nie die wêreld nie omdat Jesus met sy bloed vir ons almal versoening met Vader gebring het. As Hy die onregverdige nou alreeds straf vir sonde en hy neem Jesus Christus later aan, dan is hy verniet gestraf. Hy het vir Jesus in ons plek gestraf, daarom hoef ons nie gestraf te word nie. Sy versoenings daad was vir die hele wêreld, regverdiges en onregverdiges. In sy verdraagsaamheid laat God weer eens die sondes van mense ongestraf bly. Hierdie keer die sondes van onregverdiges omdat Jesus reeds in hulle plek gestraf is.

Die straf begin met die dood van die onregverdige want dan het hy die genadegawe van Jesus finaal verwerp. Dan is daar vir hom geen genade meer nie omdat hy Jesus nie meer kan aanneem nie. Daarom sien ons hoe onregverdige mense baie keer, net soos geredde mense, gesond en ryk oud word. Hierdie waarheid maak dit baie duidelik hoekom die beweerde negatiewe gevolge van bloedlyn vloeke nie die waarheid is nie. As dit die waarheid moes wees dan beteken dit ons word met siekte gestraf vir die sondes van my oumagrootjie al het Jesus Christus reeds die straf vir haar sondes aan die kruis gedra.

Het jy al ooit gewonder hoekom slegte mense gesond en ryk oud word en goeie mense baie keer ellendige omstandighede, siekte en armoede vir baie jare lank moet verdra? Het jy al gewonder hoekom onregverdiges soms sulke wonderlike lewens lei en Christene nie? Want die straf van sondes is nie die onderliggende faktor wat die gang van jou lewe bepaal nie. Daar is nou geen straf vir niemand nie. Nie net bevestig bogenoemde Skrifgedeeltes dit nie maar ook sien ons dit elke dag in die lewens van mense.

Daar is ander geestelike meganismes in plek wat die gang van ons lewens bepaal. Ons bring onder andere self dinge oor ons deur dit wat ons sê en dit wat ons doen. Het jy geweet dat ‘n kind van God meer skade aan homself kan aanrig as ‘n ongeredde persoon aan homself deur dit wat hy besluit, glo, praat en doen? Ons moet elke dag keuses maak in hierdie lewe en daardie keuses bepaal ons lot. Gered of ongered. Baie keer maak wyse ongeredde mense beter besluite as geredde mense. Dit bepaal die gang van hulle lewens. Dit wat jy vandag besluit, sê, glo en doen; dit is jy môre!

Ons kan partykeer wel sien dat dit nie goed met ‘n ongeredde persoon gaan nie. Dit is egter nie God wat hom straf nie. Nee, hy pluk maar net die wrang vrugte van slegte besluite wat hy geneem het. As hy ‘n voertuig steel, gevang word en in die tronk beland, kan ons nie sê dat God hom straf nie. Nee, hy ervaar en ondervind maar net die gevolge van sy verkeerde dade. Die staat straf jou omdat jy ‘n landswet oortree het. Dit het niks met die straf van sondes te doen nie. So ook wanneer ‘n kind van God die wrang vrugte van verkeerde besluite moet pluk. Daar is geen verskil nie.

Daarom ervaar ons hierdie oënskynlike teenstrydighede in die lewens van mense as ons hulle met mekaar vergelyk. Ons verwag dat ‘n Christen gesond en ryk oud moet word en ‘n ongeredde persoon arm en siek moet wees en vroeg moet afsterwe. Ons verwag dat God die ongeredde mense moet straf vir hulle sondes al het Christus reeds daarvoor betaal en al het Hy reeds hulle sondes weggeneem. Nee, God is ‘n God van genade. Hy laat dit reën op die grond van die regverdige en die onregverdige. Hy laat die son oor almal skyn. As God ongeredde mense moes straf vir hulle sondes sou dit verskriklik sleg met hulle gegaan het. Ons was almal onregverdig. Ons het almal straf verdien maar tog het God dit ongestraf laat bly. Baie keer gebeur iets met ons dan dink ons God straf ons vir ons sondes. Dit is nie waar nie. Daar is ander geestelike wette in plek wat die oorsaak vir siektes en ellende in ons lewens beheer. Ons moet weet hoe hierdie geestelike wette funksioneer. Ons moet weet waar kom siekte en ellende vandaan en ons moet weet hoekom is mense baie keer voorspoedig en ander kere nie. Dit het egter absoluut niks met straf of bloedlyn vloeke te doen nie.

Ons almal lewe in dieselfde wêreld. Ons het almal dieselfde geleenthede. Wanneer die aanslae kom dan het ons almal dieselfde hulpmiddels en metodes om dit af te weer. Jy kry lui Christene en flukse ongeredde mense. Jy kry ongehoorsame Christene en gehoorsame ongeredde mense. Christene gebruik dieselfde wêreldse sisteme om hulle lewens te verseker en in stand te hou. Hulle gebruik dieselfde sieke fondse, dieselfde assuransies en polisse om hulle besittings en hulle lewens te verseker as ongeredde mense. Hulle maak op dieselfde maniere voorsiening vir hulle oudag. Kan hulle werklik verwag om anders te wees en dat hulle lewens anders daaruit moet sien as die van ongeredde mense? Daar is tog baie beter Goddelike metodes in die koninkryk van God as om van wêreldse sisteme gebruik te maak.

Daar is nog baie ander redes hoekom ongeredde mense net so ‘n goeie lewe lei as Christene en selfs beter. Dit is egter ‘n ander storie wanneer die genade tydperk vir jou uitgehardloop het wanneer jy die dag te sterwe kom. Dit is dan wanneer die vloek jou tref as jy ‘n goddelose mens was. Dit is egter ook dan wanneer die genade van God oor jou vas bly staan as jy Hom gedien het, ongeag hoe suksesvol jy was gedurende jou lewe. Al was jy maar ‘n sukkelende kind van God, as gevolg van jou hardkoppigheid of ongehoorsaamheid, gaan jy egter beslis lewe. Jy gaan beslis die hel en die ewige oordeel van God vryspring, net soos Lasarus, die bedelaar van die Ou Testament.

Kom ons lees weer Jesaja 65:20

Daarvandaan sal nie meer kom ‘n suigling van ‘n paar dae of ‘n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.

Dit is baie duidelik dat die lewensduur van die ongeredde mens nou ook vol sal wees. In Exodus 23 beloof God dat Hy die getal van die regverdiges se dae vol sal maak. In die Nuwe Testament maak Hy tot die dae van die onregverdiges vol. God laat nie mense voor hulle tyd dood gaan nie. Nee, dit is onsself wat ons dae kort maak as gevolg van dit wat ons doen, glo en sê. Daarom lewe ongeredde mense net so lank soos geredde mense. Daar is geredde mense wat erger dinge doen, glo en sê as ongeredde mense en daarom lyk hulle lewens baie keer meer ellendig as die van onregverdiges.

Die kind van God het egter baie meer geleenthede om ‘n baie beter lewe as ongeredde mense te leef. Dit vat egter dissipline, geloof en ‘n standvastige gees om dit te bewerkstellig. Daar is Goddelike provisie, Goddelike beskerming en Goddelike instandhouding beskikbaar vir alle kinders van God. Ons kan ‘n baie suksesvolle lewe lei sonder enige siekte, gebreke of armoede. Dit is wat God vir ons beskikbaar gemaak het en wat ons in geloof kan opeis. Ons hoef werklik niks kort te kom nie. As ons dit egter nie bereik nie kan ons net onsself daarvoor blameer. Dit is nie God wat jou straf vir sondes in jou lewe nie. God straf niemand nie. Nie eens ongeredde mense nie. Dit is jy wat nie jou plek van heerskappy in die koninkryk van God inneem nie. Daarom kry jy swaar en daarom krepeer jy van ellende. Daarom lewe jy ‘n lewe wat nie juis van die van ‘n ongeredde mens verskil nie. God kan jou nie daar uithaal nie. Jy moet self daar uitklim en begin regeer as ‘n koning in die koninkryk van God.

As jy meer wil weet oor hierdie onderwerp, kry sommer nou die boek, “Die waarheid omtrent bloedlynvloeke” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment